Call It Like It Is: The Jonathan Kaplan Story deur Jonathan Kaplan en Mike Behr. Uitgewer: Zebra Press. Prys: R220. Resensent: Gert van der Westhuizen
* Bestel die boek hier en die e-boek hier.
’n Mens sukkel regtig om opgewonde te raak oor die meeste hedendaagse biografieë en outobiografieë van sportlui.
Net té veel sulke boeke word té vinnig uitgegee; dikwels het spelers nog nie eens afgetree nie wanneer hulle die dringende behoefte voel om hul lewensverhaal te deel met wie ook al bereid is om in die omgewing van R200 daarvoor op te dok.
Sulke boeke volg meestal ’n voorspelbare resep: Jy lig die sluier effens oor ’n “skandaal” waarvan die leser nie bewus was nie, maar laat sak dit vinnig sodat niemand veel wyser word nie. Jy vertel ook effens meer oor ’n skandaal waarvan almal weet, maar ook nie te veel nie. Jy lug jou mening oor alles en nog wat en sluit gewoonlik af deur jou beste span of spanne te kies.
En natuurlik is jy die groot held wat selde iets verkeerd gedoen het.
Jonathan Kaplan se Call It Like It Is, volg dié resep tot ’n groot mate, maar is baie meer leesbaar as die gemiddelde sportoutobiografie.
Miskien is dit omdat Kaplan ’n skeidsregter is. Boeke oor en deur skeidsregters is taamlik skaars; ’n mens kan vinnig net aan André Watson, Paddy O’Brien en Stuart Dickinson se boeke dink. In die ou dae het skeidsregters net boeke oor die reëls geskryf, nie oor hulself nie.
Stel jou voor dat die stoere, onverbiddelike toepassers van die reëls van weleer soos Max Baise, Gert Bezuidenhout en Piet Robbertse boeke oor hulself geskryf het.
Maar rugby het verander. Ons is in die era van die celebrity-skeidsregter wat deurentyd in die kollig is. Iemand soos Jonathan Kaplan – een van ’n handvol werklik goeie Suid-Afrikaanse skeidsregters en een van die mees ervare van alle tye.
Hy het dus baie om te sê. En hy sê dit soos hy geblaas het: reguit en eerlik.
Skeidsregters, kom jy agter, het nes spelers die ambisie om in eindstryde en Wêreldbeker-toernooie en toetse gesien te word. Hulle sukkel ook met beserings en verduur ook soms pyn in wedstryde.
Hul lewe is ongewoon, selfs ietwat abnormaal. Hoe kan dit dan ook anders as jy soos Kaplan in 2000 byvoorbeeld op 123 vlugte was en vir 216 dae van die huis af weg was?
Anders as spelers het jy nie spanmaats met wie jy jou ervarings kan deel nie. Jy hou maar partytjie as die geleentheid hom voordoen. Jy probeer aan die eensaamheid ontsnap deur te dobbel en jy probeer soms ’n vrou oorreed om jou hotelbed te deel.
Boonop is jy altyd onder groot druk van jou base, spelers en ondersteuners. En dan is rugby volgens Kaplan heeltemal te ingewikkeld en kan ’n enkele skeidsregter nie ’n wedstryd behoorlik beheer nie, al is hy hóé goed.
Kaplan vertel dat hy altyd probeer het om die reëls so toe te pas dat hy die spel maklik vir die spelers en aanskoulik vir die toeskouers kon maak. Hy het dit reggekry, hoewel hy soms ook foute begaan het – foute wat hy ruiterlik erken en waarvoor hy spelers en afrigters om verskoning gevra het. Die onwettige vinnige ingooi wat Ierland ’n Sesnasies-wedstryd teen Wallis gekos het, is een so ’n voorbeeld.
In ’n loopbaan soos syne was dit ook onvermydelik dat Kaplan met spelers en sy base gebots het. George Gregan, die voormalige Australiese kaptein, kon nogal op sy senuwees werk, vertel hy.
Hy het ook van Steve Strydom en Watson verskil. Kaplan sê hy het nie daarvan gehou om saam met Watson te reis nie, maar sê nie presies waarom nie.
Hy vertel ook dat O’Brien hom basies gedwing het om vroeër af te tree as wat hy wou. Kaplan kon darem sy loopbaan as blaser in die Curriebeker-eindstryd afsluit.
Teen dié tyd het die leser al soveel saam met Kaplan deurgemaak dat jy saam met hom bly en hartseer is. Jy hoop selfs daar is nog baie Jonathan Kaplans in ons rugby-toekoms.
Jy het ook baie meer waardering vir dit wat skeidsregters moet deurmaak. Net dít maak al die lees van Call It Like It Is die moeite werd.
Gert van der Westhuizen is sportredakteur van Beeld.