Share

Selfs ná sy dood word brug gespan

Frits Gaum sê die huldigingsbundel vir die intellektueel en ‘Godverlanger’ Gerrit Brand laat jou nadink.

Gerrit Brand het op ’n dag aan sy ma ’n ope brief geskryf waarin hy haar “beskuldig” dat hy is soos hy is, want sy en sy pa het hom so grootgemaak: “wanaangepas, misplaas en uit die pas” (die briefartikel is oorspronklik gepubliseer in Die Burger, 4 April 2007).

Dis hulle, skryf hy, wat hom van kleins af geleer het rassisme is lelik en dom, en apartheid onverdedigbaar. “Gewoonlik as Afrikaners sê hulle was teen apartheid, bedoel hulle dit as grootpraat. Hulle was dapper rebelle. Maar in my geval is ek so grootgemaak; ek het niks om oor te spog nie.”

Gerrit skryf vir sy ma dat sy twee dinge wat in die oë van byna alle mense onversoenbaar is, naatloos in sy ontvanklike kindergemoed verenig het: identifisering met die struggle en Afrikanerskap.

“Dis immers by jou dat ek geleer het, lank voordat dit mode geword het om so te sê, dat ons Afrikaners in elk geval almal ‘basters’ is: Afrikanerskap sluit nie hibriditeit uit nie.”

Dis van dié Gerrit wat ná sy dood op ’n skrale 42 geskryf is: “Dit is nie baie dat ’n mens iemand kry wat ’n vlymskerp intellek het nie, en daarmee saam ’n onverskrokke waarheidsoeke, ’n goed ontwikkelde sin vir geregtigheid, en ’n innemende, nederige en sagmoedige geaardheid.”

En ook: “Hy was ’n persoon wat op ’n besonder aantreklike wyse die eienskappe beliggaam het wat N.P. van Wyk Louw aan die ‘intellektueel’ toeskryf: om by elke saak redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel, en die eie mening met ’n bietjie nederige self-kritiek te beskou” (Willem de Vries en Robert Vosloo in Godverlanger).

In Kerkbode skryf Anton Pienaar dat Brand, as hy langer geleef het, waarskynlik een van die grootste Afrikaanse denkers van sy tyd sou geword het. En wie hierdie huldigingsbundel met korter en langer stukke deur Brand deurlees, moet saamstem: Hier is iemand wat aan sy nadenke oor wyd uiteenlopende sake op ’n unieke, sprankelende, dikwels humoristiese, soms dodelik ernstige manier helder woorde gegee het.

Dié teoloog, filosoof, joernalis, boekeredakteur en dosent het hom boeiend uitgelaat oor teologie wat nooit afgehandel is nie, oor geloof wat ’n lewenswyse is, oor die “Slag van Voëlvry” (“die grootste daad wat ons van daardie wye en droewe kampus [dié van die Universiteit van Pretoria – UP] oor die aarde laat opklink het, was ’n Voëlvry-konsert”), oor Afrikaans en veeltaligheid, oor taal, stilte en misterie, oor die vergesogtheid van die evangelie, oor die versoeningsdiskoers in Suid-Afrika, oor wat gebeur as God ’n gay Christen vir kerkdiens roep, oor “belydende ateïste”...

Sommige stukke in die boek is vlugtiger, terloopser as ander, bedoel as ’n klip in die bos. Ander is indringender, ernstiger, teologies verantwoord, filosofies deurdink. Jy hoef en sal ook nie met Brand oor alles saamstem nie. Dié denker het jou nie met rus gelaat nie, hy het jou gehelp om altyd wéér te dink.

Die 11 huldeblyke voor in die boek is deur vriende en kollegas wat Brand geken het en is, op een na, besonderse stukke. Die uitsondering is George Claassen s’n. Hy kon nie die versoeking weerstaan om ’n onvriendelike en in dié geval heeltemal misplaaste byltjie met die kerk te slyp nie.

Nou is Brand al langer as ’n jaar gelede dood aan ’n breingewas. Johann Rossouw skryf in ’n brief wat in die bundel opgeneem is: “Dat juis jy met jou fyn verstand die gewas in jou brein moes kry, is ironies verby... (Mettertyd) sou jy, fyn denker, aristokraat van die gees, vanuit dié brose menslike denkorgaan die lewe ná die dood begin tegemoet gaan. Dat jy, Godverlanger, in die hoop op die lewe ná die dood geleef het, het gespreek uit die kalmte waarmee jy jou volgens getuienis op die onvermydelike voorberei het.”

Brand is een van die min Suid-Afrikaners wie se proefskrif, Speaking of a ­Fabulous Ghost: In Search of Theological Criteria, with Special Reference to the ­Debate on Salvation in African Christian Theology, in die buiteland gepubliseer is (deur Peter Lang, Frankfurt).

Dié werk lewer ’n unieke bydrae om ’n brug te span tussen bepaalde denkbeelde in die moderne Westerse teologie en die Afrika-Christelike teologie.

Brand was soms krities oor die doen en late van die kerk, maar dit was ’n kritiese solidariteit. Hy het hom altyd, “ten spyte van”, één gevoel met die kerk. Tekenend daarvan is dat hy in ’n stadium aansoek gedoen het om redakteur van Kerkbode, amptelike koerant van die NG Kerk, te word, en op die kortlys vir dié pos was. (As hy die redakteur sou geword het...) Later het hy ’n soms uitdagende rubriek in Kerkbode behartig.

Hierdie mooi versorgde boek, met ’n foto op die voorplat van die jong teoloog op sy fiets en ’n bos tulpe (?) in sy hand in ’n Hollandse straatjie, geneem deur sy vrou, Lucia, is ’n waardige huldigingsbundel vir ’n baie besondere mens. Die blomme laat ’n mens onwillekeurig dink aan Willem Kloos se skrynende vers oor “bloemen in de knop gebroken”.

Frits Gaum is ’n vryskutskrywer.

* Godverlanger: ’n Huldigingsbundel vir Gerrit Brand met ’n keur uit sy skrywes onder redaksie van Willem de Vries en Robert Vosloo, word uitgegee deur Sun Press, Stellenbosch. Dit kos R300 en is verkrygbaar by africansunmedia.co.za, sun-e-shop.co.za en deur 021 201 0071 te skakel.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
33% - 400 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
67% - 826 votes
Vote
Rand - Dollar
19.12
+0.2%
Rand - Pound
23.68
+0.6%
Rand - Euro
20.37
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.27
+0.3%
Rand - Yen
0.12
+0.1%
Platinum
941.30
-1.0%
Palladium
1,023.00
-0.6%
Gold
2,393.79
+0.6%
Silver
28.59
+1.3%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE