When the Lions Came to Town deur Luke Alfred.
Uitgewer: Zebra Press. Prys: R220.
Resensent: Pieter Kruger
* Die boek kan hier bestel word en die e-boek hier.
’n Mens sien met groot verwagting uit na ’n rugbyboek wat 40 jaar ná ’n rugbytoer verskyn.
Die flapteks sê immers die boek is insiggewend, uitdagend en baie vermaaklik. Maar dit verklap min nuwe geheime of staaltjies wat nog nie voorheen in druk verskyn het of om die braaivleisvuur oorvertel is nie.
Dit is eintlik ’n chronologiese samevatting van ’n historiese rugbytoer, in keurige Engels geskryf (soms te hoogdrawend) en sluit nuwe onderhoude in met onder andere prof. Johan Claassen, destydse spanafrigter, Hannes Marais, die kaptein, en spelers soos Dugald MacDonald, Peter Cronjé en Paul Bayvel.
Daar is ’n totale afwesigheid van kleurfoto’s (hoewel my kamermure destyds vol van hulle geplak was). Daar is ook net vyf swart-en-wit foto’s, waaroor die skrywer heelwat filosofeer en soms nie sin maak nie.
Daar is ook een of twee feitefoute, soos die verwysing op bl. 191 dat Tommy Bedford, Piet Greyling en Frik du Preez (dit moet Jan Ellis wees) ’n baie suksesvolle losvoorspeler-kombinasie was.
Wie is Klambert Fourie (bl. 208)? Dit is seker maar Kleinboet Fourie, yster-flank van die Rooi Duiwels wat in meer as 100 provinsiale wedstryde gespeel het. Die verwysing na Klambert Fourie is darem uit ’n destydse koerantartikel gelig.
Ook is daar ’n verwysing na die Bok-kaptein Frik du Preez.
Die gebruik van Afrikaanse krag-, vloek- en plat woorde soos “bliksem” en “moer in” en frases soos “babbelas”, “groot kanonne”, “gatvol”, “windgat” en “snot en trane” is effe vreemd, veral omdat die boek sekerlik ook op die buitelandse mark gerig is.
Maar kom ons laat die kritiek langs die kantlyn en sonder ’n paar goue oomblikke uit. Daar is ’n hele paar (ou) juweeltjies, soos die Leeus wat in Stilfontein voorberei en daar gebly het, die meesterrolle van die afrigter Syd Millar, die kaptein Willie John McBride, die Leeus se veelbesproke voorry en die groot rolle wat spelers soos JPR Williams en Gareth Edwards gespeel het.
Daar is die manewales en gefuif in hotelle, die drinksessies in die Krugerwildtuin, die paranoia van die Bok-keurders en -bestuur, die sogenaamde 99-bakleiroep wat tot talle groepgevegte gelei het en Gary Player se telefoonoproep aan die Leeus om saam met hulle gholf te speel.
Daar is breedvoerige verslae oor die vier toetse en die provinsiale wedstryde, oor ’n span wat rugby kón speel en sy teenstander wat met die broek om die enkels gevang is.
Alles in ag genome, neem die skrywer die tradisionele rugbyondersteuner op ’n nostalgiese wipwaentjierit, maar ek weet nie so mooi of die huidige geslag Bok-ondersteuner met sy iPad en byderwetse selfoon ’n boek sal aanskaf oor dinge wat in 1974 gebeur het nie, veral nog as die Bokke nie in ’n toets kon wen nie!
Pieter Kruger is ’n oudrugbyskrywer wat oor byna 100 toetse verslag gelewer het. Hy het sy eerste toets as ’n tjokkertjie in 1963 op Loftus Versfeld bygewoon en was in 1974 ook op Loftus toe die Leeus die Bokke met 28-9 afgeslag het.
* Die boek is ook beskikbaar as ’n e-boek op Kalahari.com teen R78.