The Snow Queen deur Michael Cunningham. Uitgewer: Fourth Estate. Prys: R290.
* Die boek kan hier bestel word.
Net die titel van Michael Cunningham se sesde roman is al ’n mondvol. Hans Andersen se sprokie “Die sneeukoningin” weerklink uit ons kollektiewe geheue, maar dis net die begin.
Dit is kokaïen, oftewel “snow”, wat die stamelende musikant Tyler in ’n gatskop-kunstenaar omtower, al is Beth, sy lewensmaat en die koningin van hul huishouding, tot die dood toe siek. Hul goeie vriendin Liz regeer oor haar jong katelknape soos ’n koninginby.
En, les bes, een Oujaarsaand drapeer vriend Ping hom oor hul rusbank onder sy geveerde kaggelpyphoed net effens kleiner as die Mad Hatter s’n in Alice in Wonderland. Hiervandaan ryg hy die een gevatte aria ná die ander uit – soos dit ’n ou queen betaam.
Wat die skrywer met die betekenisvolle titel, The Snow Queen, regkry, kry hy ook in die storie reg. Die oënskynlik uiteenlopende drade van dwelm, sprokie, sneeu en seks bewerk hy tot ’n ongedwonge, naatlose geheel – soos te verwagte van ’n Pulitzer- en PEN/Faulkner-pryswenner. Dié akkolades het Cunningham gekry vir The Hours (1998). Hierin is Virginia Woolf die wegspringplek vir ’n besinning oor kreatiwiteit, mislukking, liefde en geestelike versteuring. Dit is Cunningham, tot nou toe, op sy beste.
Barrett Meeks, laat-dertigs, is een vroegaand koponderstebo deur Central Park op pad huis toe ná ’n tandartsbesoek. Vier dae tevore is hy vir die soveelste keer afgesê – dié keer koelbloedig via ’n selfoonskerm “no bigger than a bar of hotel soap”. Hy ploeter huis toe, ’n armsalige os met ’n oorswaar kop. Dalk is dit die naderende gloed van die verligte Metropolitan Museum wat hom sy kop laat lig, wie sal weet, maar toe hy dit doen, sien hy ’n hemelse lig: sag, seegroen, deurskynend. Hy versteen in sy Timberlands. Die lig sien hom. Erken hom. Hy voel dit, hy wéét dit.
Die tandartsbesoek was roetine, sonder pynverdowing. Hy’s ook nie hoog van enigiets anders nie. Dis ’n frats, ’n visioen, maar wat kan hy anders doen as om aan te stap, dit sal seker hoofnuus wees by die huis.
Barrett se huisgesin bestaan uit sy ouer broer, Tyler, en dié se meisie, Beth. Hul opset, in ’n deel van Brooklyn waar selfs die misdadigers hul ambisie verloor het, is soos derduisende ander van hul 21ste eeuse tydgenote s’n.
Die Meeks-broers en hul verhouding staan voorop in die verhaal, en herinner ten dele aan die twee baie jonger Morrow-broers in “White Angel”, ’n kortverhaal van Cunningham wat gekies is vir The Best American Short Stories 1989 en wat die opwaartse spiraal van sy skrywersloopbaan bevestig het.
Tyler werk in ’n kroeg (nes Cunningham self as jong man) en sukkel om as musiekkunstenaar op die been te kom. Sy groot liefde vir sy dwelmkoningin vries hom. As student het Barrett literêre potensiaal getoon, “crackling with possibility, bastard child of Hamlet and Oscar Wilde”. Nou vou hy T-hemde van $250 in Liz se eklektiese ontwerperswinkel.
Tyler en Barrett, en in mindere mate Beth en Liz, dryf die storie. ’n Belangrike vyfde karakter is die broers se ma. Sy is dood, maar springlewendig as metaforiese huis waarin Tyler en Barrett steeds woon. Hul geliefde rusbank, die enigste meubelstuk waarmee hulle uiteindelik verhuis, vergestalt haar.
Maar terug na die begin. Barrett ken die uitskop-dril teen dié tyd, maar dié yskoue kuberhou was laag.
Broer Tyler is hartseer oor Beth, tog gee sy rol as haar beskermer en oppasser betekenis aan sy lewe. Die groter wolk wat oor hom hang, is dié van sy musikale futloosheid.
Hy kies om sy dwelmafhanklikheid (want hy gaan mos in elk geval ná dié keer ophou, dié keer is die laaste keer...) te ignoreer en projekteer dit gerieflikheidshalwe op George W. Bush se herverkiesing.
Cunningham dissekteer die hart van die stedelike Amerika in mikroskopiese besonderhede. Aan die einde besef jy die goddelike lig wat Barrett gesien het, was dalk net ’n hallusinasie “created by some confluence of constellation and airplane, invented by Barrett on a night when he so urgently need to feel more accompanied in the world”.
Net so is The Snow Queen, in die aard van goeie fiksie, vir die leser ’n begeleiding deur ’n dikwels koue wêreld.
Cunningham se afgestemde styl is ontdaan van truuks. Sy stem is stil en ongejaagd. Hy bevolk sy storie – let wel, nie sprokie nie – met gewone mense in alledaagse grys “woonbuurte”.
Hy besin oor die oer-kwessies van liefde, seks, kreatiwiteit en die dood in die tyd wat dit ’n karakter neem om in die kombuis ’n espresso te sluk. Hy loop die woordkoord tussen begrip en spot, deernis en insig soos ’n meester.
In ’n onderhoud met ’n Britse koerant vroeër vanjaar sê hy: “Few of my novels contain a single sentence that closely resembles the sentence I first set down. I just find that I have to keep zapping and zapping the English language until it starts to behave in some way that vaguely matches my intentions.”
Lesers sal nooit weet wat sy aanvanklike bedoelings was nie, ons weet wel sy eindprodukte is allesbehalwe vaag.
’n Mens kan net uitsien na wat hy volgende opklits.
Rachelle Greeff is ’n skrywer.
* The Snow Queen is ook beskikbaar as ’n e-boek op Kalahari.com teen R191.