* Die boek kan hier bestel word en is ook beskikbaar by Kalahari.com as ’n e-boek teen R187.
Johannesburg is die plek waarheen mense van oral vir meer as ’n eeu stroom in die hoop op ’n beter lewe. Aan die begin was dit ’n myndorp wat vir duisende mense hoop gebied het.
Dié stad het sommige ryk gemaak en party teleurgestel. Ander is weer uitgebuit. En dit is vandag steeds so.
Vreemde gelaatstrekke, aksente en gebruike begroet enige inwoner van Johannesburg daagliks. In 2008 was daar ’n bloedige opstand teen dié vreemdelinge, die “makwerekwere”, wat deur plaaslike mense vir hul lot geblameer is.
Dit is deels teen hierdie agtergrond dat Harry Kalmer se aangrypende boek, ’n Duisend stories oor Johannesburg, afspeel.
Die titel sinspeel op die klassieke werk, Duisend-en-een nagte, waarvan daar ook in Kalmer se boek melding gemaak word.
Eweneens kan die verskillende kortverhale wat Kalmer saamgeflans het, in enige volgorde gelees word, maar hierdie beheerfrats het nie daarvoor kans gesien nie.
Tog is dit só dat elkeen van dié vinjette op sy eie kan staan, maar eindelik is dit spatsels van ’n oorkoepelende tema met een karakter wat sentraal tot die meeste gebeure staan.
Die bekende argitek Zweig van Niekerk keer ná dekades in Londen na Johannesburg terug om sy gestremde tweelingsuster, Iso, te besoek. Die stad se strate is gevaarlik vir uitlanders. In Mei Villa waar hy tuisgaan, treur die digter Bosman Hiemstra oor sy vriend Samson wat wreed vermoor is omdat hy nie in Zoeloe kon tel nie.
Dié boheemse boetiekhotel is ook ’n skuilplek vir Marceline en haar baba wat deur Richard Ho gered is van ’n groep mans wat hulle aan die brand wou steek.
Richard is ’n persfotograaf van Chinese afkoms wat Afrikaans en Zoeloe vlot praat en ook by Mei Villa tuisgaan.
Maar hierdie is net enkele van die karakters wat hulle in die huidige, moderne Johannesburg bevind. Zweig se grootouers, Abraham en Sara, se verhaal speel af teen die agtergrond van die konsentrasiekampe van die Tweede Vryheidsoorlog en later die mynstaking van 1922.
’n Paar dekades later gaan soek Zweig se Joodse ma na haar familielede in die oorlogrommel in Duitsland, terwyl sy pa – ’n ouddominee wat nie meer glo nie – verbode boeke verkoop aan “kommuniste” en “terroriste” soos die apartheidsaktivis Bram Fischer.
Zweig se eie lewensverhaal strek oor vele dekades heen. Hy en sy vrou, Serenita, verlaat Suid-Afrika in die 1960’s omdat hul verhouding nie met die Ontugwet strook nie. In Londen ervaar hulle ook verwerping, maar om ander redes. Hoewel hulle uiteindelik in die buiteland aanpas en met hul lewe voortgaan, taan die hunkering om na Johannesburg terug te keer nooit.
Elke kortverhaal bied ’n nuwe bousteen wat uiteindelik die verskillende stories, narratiewe en karakters saambind. Die boek se 12 dele word elk met ’n fragment van Totius se Trekkerswee ingelei, wat heel ironies daarop wys dat Johannesburg se wese in al die jare onveranderd gebly het.
Dié merkwaardige stadsroman is uiters knap geskryf. Kalmer se onderbeklemtoonde, minimalistiese skryfstyl plaas die fokus deeglik op die onderskeie karakters en gebeure.
Dit is deurgaans ook duidelik die boek is op deeglike navorsing geskoei. Maar dit is die manier waarop Kalmer al dié stories saamvleg wat veral beïndruk, alles teen die agtergrond van ’n stad van armoede en oorvloed, vrees en troos, haat en empatie – ’n plek waar daar selde ’n middeweg bestaan.
Riaan Grobler is ’n teksredakteur by Media24.