Share

Steytler se oorlog ‘ons almal’ s’n

Ons oorlog deur Klaas Steytler. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R200. Resensent: Fransjohan Pretorius
* Ons oorlog is ook beskikbaar op Kalahari.com  en as ’n e-boek teen R157.

Tafelberg het ná 13 jaar ’n welkome tweede uitgawe van Klaas Steytler se knap historiese roman oor die Anglo-Boereoorlog uitgegee.

Met die inligting in die familie-stories, aangevul met uitstekende bronne soos Steytler se pa se geskiedenis van genl. Hertzog as krygsman, genl. De Wet se herinneringe en Albert Grundlingh se werk oor die hendsoppers en joiners, en ’n skeut gesonde verbeelding rekonstrueer die skrywer ’n mee­sleurende verhaal van die oorlogslotgevalle van die Sanders-Steytler-Visser-Havenga-familie.

Daar is Magdalena Sanders en haar drie jongste dogters van Fauresmith wat later na die konsentrasiekamp in Norvalspont vervoer word; oom Jan Visser, wat met die Britse verskyning in die Vrystaat wapen neerlê, maar later deur omstandighede weer op kommando gaan; sy vrou, Lena, wat met hul kinders op Tweefontein agterbly, maar later na die konsentrasiekamp in Bloemfontein weggevoer word; die jong Klasie Havenga, wat as sekretaris vir genl. Hertzog funksioneer en belangrike momente van die oorlog beleef, soos die verraadverhoor van kmdt. S.G. Vilonel en Hertzog se inval in die Kaapkolonie; en die aantreklike Maxie, oudste dogter van Magdalena, wat met die Britse besetting van Bloemfontein vir die goewerment bly werk en ’n vriendskap met sir John Goold-Adams, Britse luitenant-goewerneur van die Oranjerivier-kolonie, aanknoop.

Die titel word verleen aan ’n opmerking van dr. Otto Krause aan Lenie Visser-hulle toe Maxie geskok is oor die ontsettende lyding in die konsentrasiekamp: “Ja, sy het gesien hoe lyk ons oorlog.” Ofskoon die verhaal as ’n persoonlike familiestorie van die oorlog aangebied word, besef die leser gou “ons oorlog” word ook ons – die lesers – s’n.

Die eerlikheid waarmee die familievratte geopenbaar word, is opvallend, soos dat Steytler se oupa Heinrich Sanders sy vrou, Magdalena, se bruidskat deurbring. Soos in vele ander familieverhale eggo die woorde “I’ve ruined you, my dear” oor geslagte heen.

Daar is ook kostelike en kosbare familie­staaltjies, soos Havenga se pienk perd waarmee hy op kommando moet gaan; Magdalena se aanvanklike weiering om tee van die Engelse treinkondukteur te aanvaar; en Magdalena wat met ’n besemstok ’n Tommie-dief ’n pak slae gee terwyl hy halflyf deur die vensterraam vasgekeer is. Mooi sê Steytler: “Hulle vul die familiealbum met klein oorlogseges en put krag en eer daaruit” (pp. 243-244).

Steytler voeg op sinvolle en oorspronklike wyse hede en verlede saam deur karakters in die hede voor te stel wat oor die verlede uitwei, soos Magdalena in die ministerswoning van haar skoonseun, Klasie Havenga, in die 1950’s.

Knap is ook Steytler se vertelvernuf om mensgeluide in die konsentrasiekamp, soos deur ’n 11-jarige meisietjie gehoor, te gebruik om sy verhaal te vertel en stemming te skep. Sy hoor dialoog tussen haar ma en die Britse dokter, sy hoor die begrafnisstoete, sy hoor die kontras tussen die gegil van spelende kinders en die vroue wat gedemp praat of die vroue wat in die strafkamp lawaai, sy hoor bylslae soos hout gekap word, hoor hoe haar ma vertel van glas in suiker (wat eintlik kristalle was, gevorm deur die onsuiwerheid van die suiker, maar die skrywer versuim om dit by te voeg).

Die werk is ryk aan meesterlike bekrywings, soos die geveg by Jan Visser se opstal; Lenie wat op die serfyntjie die vloekpsalm (Ps. 69) speel terwyl haar huis brand; die ongekunsteldheid van die Vrystaters wat aan die Weskus vir die eerste keer die see sien; die dood van die Kaapse boer wat deur die Boere aangesien word as ’n verraaier en doodgeskiet word terwyl hy egter deur die Britse offisier gedwing is om hulle na die Boere te lei; en die begrafnis in die Bloemfonteinse kampkerkhof.

Die puik navorsing val op. Feite strook met die werklikheid, selfs tot in die kleinste besonderhede. Daar het egter ’n aantal vergissings deurgeglip. So byvoorbeeld was genl. De Wet nie by die Slag van Magersfontein teenwoordig nie. Daar was nog nie in Desember 1900 kampskole nie – dié stelsel het eers in Februarie 1901 beslag gekry. En in Maart 1900 het die Vrystaters nog nie die Kakies uitgeskud nie – dis eers teen Mei 1901 in die Vrystaat gebruik.

Hierdie ontroerende verhaal is daar vir lees en weer lees, ’n trotse kommando-maat vir P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides.

Fransjohan Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think Minister Blade Nzimande made the right call to dissolve the NSFAS board?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, NSFAS mismanagement is costing students
34% - 450 votes
No, it's suspicious given that he's implicated
66% - 864 votes
Vote
Rand - Dollar
19.04
-0.3%
Rand - Pound
23.63
-0.0%
Rand - Euro
20.22
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.20
+0.1%
Rand - Yen
0.12
-0.1%
Platinum
970.60
-0.5%
Palladium
1,015.50
-0.7%
Gold
2,391.33
+0.3%
Silver
28.30
-2.0%
Brent Crude
90.10
-0.4%
Top 40
66,902
-2.1%
All Share
73,000
-2.0%
Resource 10
61,638
-3.5%
Industrial 25
98,321
-1.8%
Financial 15
15,650
-1.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE