"If Nadine could have seen you now,” het Karina gesê toe sy ’n paar minute gelede hier inkom waar ek langbeen in ons bed sit met die rekenaar op my skoot en pik-pik soos ’n brandsiek hoender met een vinger op ’n slag om van een toets na die volgende my pad te vind deur ’n wildernis van dertienhonderd woorde oor dié merkwaardige mens se pad deur my lewe. Daar is nie baie ander mense vir wie ek dié omslagtige pad sou aangepak het nie, maar dit is die minste wat Nadine verdien.
As ek op Karina se opmerking moes reageer, sou ek my heel eerste kon voorstel hoe Nadine oor die prentjie sou skaterlag: want hoe seer sy ook al as doodernstige mens beskou is, kon niemand ooit haar humorsin onderskat nie.
Die eerste keer dat ek persoonlik met haar te doene gekry het, was toe ek in 1968 uit Frankryk teruggekom het en die een en ander in Rapport oor my Damaskus-ervaring geskryf het, en my daaropvolgende besluit dat ek voortaan in my skryfwerk my verbintenis met hierdie wye en droewe land as uitgangspunt sou gebruik.
Daar was heelwat reperkussies oor hierdie aankondiging, die meeste daarvan nogal liederlik negatief. Maar één was ’n keerpunt in my lewe: ’n handgeskrewe briefie van Nadine Gordimer om my terug te verwelkom in Suid-Afrika. Aanvanklik het ek dit glad nie reg verstaan nie en dit beskou as ’n uit-die-hoogte begroeting van iemand wat die volle lig al lankal gesien het aan ’n agtertangse boertjie wat maar pas eers uit die vreemde teruggekom het om sy eie land en sy mense te leer ken soos hulle regtig lyk.
In die brief het sy ook genoem dat sy my ’n eksemplaar van haar nuutste boek sou stuur. Die boek het nooit by my uitgekom nie en natuurlik het ek dadelik aangeneem dat dit maar weer simptomaties was van Engelse onbetroubaarheid en “mooi beloftes”.
’n Paar jaar daarna, toe ons al hegte vriende geword het en saam oor alles kon lag, is alle misverstande opgeklaar en het die hele wêreld anders begin lyk. En nog later is een van ’n hele reeks seëls daarop geplaas, toe ek Karina in 2004 ontmoet het en dit geblyk het dat sy besig was om in Salzburg te werk aan ’n PhD-tesis, van alle denkbare onderwerpe juis oor Gordimer, en spesiaal na Suid-Afrika gekom het om ’n onderhoud met Nadine te kom voer.
Baie gou daarna, ná my en Karina se ontmoeting in Wene, heeltemal onafhanklik van enigiets anders wat daaraan voorafgegaan het, het ons lewens drasties (en hopelik vir goed) verander en is ons wettig en uitbundig getroud, met Nadine so ongeveer as ons blywende beskermengel.
My eerste kennismaking met Gordimer se werk dateer al terug van my skooljare, toe ek met groot verkneukeling ’n vroeë kortverhaal van haar in ’n bloemlesing gelees het – iets soos “Stupendous, Unmitigated Satisfaction”, waarin sy met heelwat deernis en begrip die spot dryf met ’n leergierige jong swart student wat verslinger raak op ’n frase wat sy lewe verander, iets soos wat daar al uit die titel blyk.
Daardie besondere spreuk het bowendien vir ons hele klas iets van ’n sjibboletkode geword. Ek self sou soos daardie student kon gewees het, net so totaal versot op groot woorde. (Ek het destyds al ’n notaboek gehad waarin ek allerhande indrukwekkende woorde of gesegdes in Afrikaans en Engels opgeteken het wat ek met groot vertoon in opstelle kon gebruik om my arme onderwysers te beïndruk. Alles Nadine se skuld!)
Van daar af het verskeie van Gordimer se werke my om ’n groot verskeidenheid redes deur die lewe vergesel. Op ’n besondere manier het The Late Bourgeois World ’n metgesel geword, om redes wat min te doen het met die intrinsieke kwaliteit van die roman as sodanig. In daardie geval moes ek ’n filmdraaiboek van die roman vir ’n Amerikaanse groep skryf. Die Veiligheidspolisie het om elke hoek en draai die projek probeer saboteer, selfs deur my een keer op ’n verkeerde vliegtuig te laat beland sodat ek ’n afspraak met Nadine moes misloop. By ander geleenthede het die pakket eenvoudig keer op keer “in die pos weggeraak” sodat private afleweringsmetodes bedink en gevind moes word. Op stuk van sake moes ek dit persoonlik in New York gaan aflewer. (Maar dit raak heeltemal ’n ander storie.)
Met A Sport of Nature was dit iets totaal anders wat die lees van die boek sowel belemmer as verryk het – maar daar was dit my eie skuld, omdat ek hopeloos verlief geraak het op die kwiksilweragtige Hillela, vandag nog een van my gunstelingvroue tussen die skutblaaie van ’n boek. (En enigiemand wat nog probeer argumenteer dat Gordimer g’n feminis was nie, moet dringend haar kop laat lees!)
Dit alles net om te sê dat om ’n roman van Gordimer te lees vir my nog nooit ’n ongekompliseerde onderneming was nie. En tydens ’n besoek aan Santiago in Chili was dit nie om dowe neute dat ek en sy vir ons twee presies eenderse handgemaakte hemde gekoop het nie.
Hoeveel ander water daar inmiddels in die see geloop het, is moeilik om te sê. Ten minste twee ander belewenisse wil ek dadelik oproep:
In 1994 was daar ’n besoek aan Frankryk, gereël ter viering van Suid-Afrika se bevryding: dit het begin in Parys, waar ons gehuisves is in die manjifieke Hôtel Meurice teen die Tuilerietuin. Met die beste bedoelings, ongetwyfeld, omdat die Franse nie ’n Nobelpryswenner in enigiets minder indrukwekkend wou huisves nie. Maar dit was tog ook bitter ironies dat juis daardie hotel in die oorlogsjare die hoofkantoor van die Gestapo in Frankryk was. Maar daarby was dit eintlik, veral vir diegene in ons groep wat toe maar net uit ballingskap of die hart van die struggle teruggekeer het, so buitensporig dat nie een van ons ooit regtig kon ontspan nie. En dit kon geen verskil maak aan die feit dat daar boonop by my kamer ingebreek is en ek rot en kaal besteel is nie.
My dierbare vriend Mazisi Kunene is so deur die hele situasie ontstel dat hy maar die hele res van ons verblyf in sy kamer gebly het met net ’n bottel as geselskap.
Die vloek van die Nazi’s. Maar om Nadine se onthalwe was dit alles verduurbaar. En ná Parys het ons in klein groepies opgesplyt vir ’n reis deur die provinsies, wat alles nog beter gemaak het.
’n Soortgelyke reis, hierdie keer deur Chili, het ’n jaar of wat later plaasgevind, opnuut met Nadine in die sentrum. En nes in Frankryk het dit geleentheid geskep om nog nader aan haar te kom.
Ek kan uit talle van ons gesprekke en briewe soveel reëls of paragrawe onthou wat oor die jare in vele vorme bevestig en uitgebrei is in soveel van Nadine se werk – dit is immers in haar romans en kortverhale oor soveel, soveel jare dat die essensie van wat sy in haar boeke ondersoek het, beeldend beslag gekry het.
En noudat sy self nie meer hier is nie, maar haar woorde onsterflik by ons bly, kan ek voortgaan om hulle te bly koester as ’n klein skat om telkens na terug te kom, ’n aide-mémoire: ’n proses wat elkeen van ons in stilte, in haar- of homself kan voortsit om tot byna in die oneindige toe weer vir en in onsself te laat herleef.
Partykeer is dit net ’n enkele reël wat mens ’n leeftyd kan besig hou: “Who of us can know, what it means to love?”
Miskien is dit waarheen alles wat sy ooit geskryf het, uiteindelik terugkeer.
Nadine Gordimer by ’n huldigingsgeleentheid vir oudpres. Nelson Mandela by die Nelson Mandela Centre of Memory ná sy dood. | Foto: Nelius Rademan