Share

Van heinde en ver

Dit het begin as ’n inisiatief deur ’n enkele, onafhanklike boekwinkel, Kaapstad se Book Lounge, en gegroei tot ’n internasionale boekfees waarvoor skrywers uit al die uithoeke van die wêreld kom. Elmari Rautenbach het met ’n paar van die oorsese gaste by vanjaar se Open Book-fees* gesels.

1. Libanon



Rabih Alameddine (54) is ’n skrywer en skilder wat in Amman, Jordanië, gebore is. Sy ouers is Libanees, en deesdae pendel hy tussen Beiroet in Libanon en San Francisco. Hy het in 1998 met die roman Koolaids gedebuteer en kom by die fees gesels oor sy jongste, die betowerende An Unnecessary Woman, wat hy beskryf as “ ’n storie oor ’n 72-jarige kluisenaarsvrou. Dit begin met ’n sjampoe-fiasko... en dan kom haar ma kuier.”

Waar is jy nou en wat sien jy?

Ek’s in ’n hotelkamer in Soho, Londen, op pad na Beiroet. Ek is laat wakker omdat ek vlugvoos is en mense buite partytjie hou. Hulle het ’n gawe tyd. Ek nie, want ek kan nie slaap nie.

Waar speel jou jongste roman af?

Aaliya woon in vandag se Beiroet, ’n stad verwoes deur oorlog.

Wat was die vonk vir die storie?

Ek was nog altyd gefassineer deur die manier waarop ons as ’n gemeenskap mense na waarde skat. Ek het op die storie afgekom van die groot skrywer en kunstenaar Bruno Schulz, wat vir ’n kort tyd deur ’n Nazi-kommandant aan die lewe gehou is omdat dié wou hê hy moet ’n muurportret van sy seun skilder. Vir daardie doel is Schulz geklassifiseer as ’n “noodsaaklike Jood”. Dit het my laat nadink oor wat ’n mens nodig maak, of dan onnodig.

Aaliya, ’n boekwinkel­assistent, is alleen, kleurloos en afgetree. Maar op 1 Januarie elke jaar besluit sy watter klassiek­e boek sy daardie jaar in antieke Arabies gaan vertaal. En só omring sy haar met die wêreld se bekendste karakters. Wanneer sy klaar is, bêre sy die manuskrip in ’n ongebruikte bediendekamer.

Waar werk jy?

In my kantoor/biblioteek in my woonstel in San Francisco. Die mure is laventel (die kleur is Pansy Potpourri) en die plafon twee skakerings ligter (Fancy Pansy). Ek kon die name nie weerstaan nie. Dit is só ek. Ek het ’n sogenaamde zeroswaartekrag-stoel – die naam maak geen sin nie, maar dit kan volkome horisontaal terugleun.

Dan het ek ’n klein tafeltjie wat afswaai waarop my skootrekenaar rus. Ek skryf dus terwyl ek lê en kan met tussenpose dut. Vyf boeke, geen rugprobleme nie, ek wen.

Wat help jou skryf?

My kat, Dollar Parton. Ek skryf op my beste as hy onder die skootrekenaar-tafeltjie op my skoot spring. Dan moet ek bly skryf om hom nie te steur wanneer hy slaap nie. Dit kan soms tot drie uur neem. Dis nou wanneer ek nie dut nie. Of op Facebook is. Of op Twitter. Of Google vir die jongste nuus oor Arsenal. Of...

Jou onaantreklikste eienskap as skrywer?

’n Gebrek aan dissipline. As ek God was, het ek my tot verdoemenis geslaan.

Wanneer is jy die liefste vir ’n boek, en wanneer die minste? Ek is net lief daarvoor in die kort tydjie nadat ek ’n boek voltooi het en voordat prepublikasie-angs inskop. Maak dit sin as ek sê ek hou van “het geskryf”, maar nie van “skryf” nie? Trouens, ek haat skryf.

2. Duitsland



Felicitas Hoppe (54) is ’n Duitse skrywer met verskeie romans, kortverhale, nie-fiksie, kinderboeke en literêre opstelle agter haar naam en het in 2012 die Georg Büchner-prys, Duitsland se prestigerykste literêre prys, ontvang.

Sy reis gereeld, gee klas aan universiteite wêreldwyd, maar keer altyd terug na Berlyn, waar sy in die middel van die besige teaterdistrik woon.

Waar is jy nou en wat sien jy?

Ek sit hier in die sagte lig van ’n milde September-aand by my smal skryftafeltjie tussen twee hoë vensters wat uitkyk op die huis oorkant my waar die inwoners dieselfde ding as ek doen.

Onder my (oop) vensters is ’n stil en rustige straat – jy sou moeilik glo ek woon reg in die middel van Berlin-Mitte, met luide groepe toeriste skaars vyf minute van hier in die “Deutsches Theater”-blok. Dis vermaaklik, inspirerend en in ’n mate vertroostend om te hoor hoe mense wat onder verbyloop oor alledaagse dinge klets en skinder terwyl jy kan ruik herfs is om die draai.

Waaroor gaan jou roman?

Myself! Eintlik ’n fiksie-self. Hoppe gaan oor ’n Felicitas Hoppe wat in Kanada grootword, in dieselfde woonbuurt as die beroemde Wayne Gretzky, en eers ’n yshokkie-ster word, dan ’n pianis, en nadat sy Australië, dan Amerika en uiteindelik Duitsland toe is, word wat ek vandag is: ’n Duitse skrywer. Verwarrend? Nee wat – net wensdenkery.

En wat was die inspirasie hiervoor?

’n Versugting om drome waar te maak en die besef dat ’n droom-biografie nie veel beter is as ’n werklike een nie. Ons bly onsself, selfs in ons drome.

Waar skryf jy?

Net waar ek kom, solank ek ’n stoel het om op te sit, ’n lessenaar om my idees op neer te pen, en ’n dak teen die reën. En soms ’n sigaret. En wyn net nadat ek geskryf het.

Wat help jou skryf?

Musiek. Maar soms help stilte meer.

En wat verhinder jou?

Niks nie, nie die foon of vriende of familie nie. Ek ag my gelukkig dat ek vroeg al geleer konsentreer en fokus het in sowel my skryfwerk as my lewe.

Wanneer het jy begin skryf?

Op sewe. Ek was in gr. 1 en het geleer skryf, en onmiddellik my eie stories begin skryf en nooit opgehou nie. Skryf is vir my eintlik normaal, nie spesiaal nie.

Het jy ’n ritueel wanneer jy klaar is met ’n boek?

Ja, gryp die foon, nooi ’n paar vriende oor en maak ’n goeie bottel sjampanje oop!

3. Engeland



Geoff Dyer (56) is ’n Engelsman en bekroonde Oxford-student, maar woon deesdae in Amerika saam met sy vrou, Rebecca Wilson, Saatchi-kunskurator. Hy het in 1986 as ’n akademiese skrywer gedebuteer, maar sedertdien ’n konstante stroom pryse in die literêre en joernalistieke wêreld gewen vir van beste komiese roman (Jeff in Venice, Death in Varanasi) tot GQ se (hipster-) skrywer van die jaar in 2009. Vir sy jongste nie-fiksieboek, Another Great Day at Sea: Life Aboard the USS Georg­e H.W. Bush, het hy twee weke op dié massiewe vliegdekskip deurgebring waar stralers “op ’n posseël” moet kan land.

Waar is jy nou en wat kan jy sien?

In my woonstel in Venice Beach, Kalifornië, met die blindings afgetrek. Die son is verblindend helder. Ek kan die verkeer hoor en die TV langsaan waarop die Amerikaanse Ope-tennis aan die gang is.

Waaroor gaan jou boek?

Ná heelwat teenkanting van die Amerikaanse vloot, die lewe op ’n vliegdekskip. Of in meer besonderhede: die Vice-Presidential Room, waar jy konstant jou kop teen die lae plafon stamp, die geraas nooit ophou nie, die oliedampe oorweldigend is, die temperatuur soos ’n oond uit die hel en die lug dik van die petroldampe.

En die aanleiding tot die skryf hiervan?

My antwoord op ’n vraag jare gelede van ’n vriend oor watter interessante, ontspanne plek ek die graagste as skryfplek sou kies.

Waar werk jy?

In ’n kamer met ’n rekenaar en ’n waaier wat teen die dak draai. Al my belangstelling is egter gemik op die TV langsaan – die tennis.

Wat help jou skryf?

Genoeg slaap is noodsaaklik, maar help nie juis nie. Eintlik, soos van sekere ernstige mediese toestande gesê word, help niks nie.

En wat verhinder dit?

Binne: meestal die internet. Buite: die Kaliforniese weer. In Engeland het jy gelukkig nie dié versoeking nie.
Wat is die woord wat jy die meeste misbruik? “Maar.”

4. Nigerië



Sefi Atta (40) is in Lagos in Nigerië gebore, het in Engeland en Amerika gestudeer en het as ’n geoktrooieerde rekenmeester ’n skryfkursus aan ’n universiteit in Los Angeles voltooi.

In 2004 het sy die PEN International David T.K. Wong-prys gewen en haar debuutroman, Everything Good Will Come (2005), is met die eerste Wole Soyinka-prys vir letterkunde in Afrika bekroon.

Sy beskryf die Nigeriese hoofkarakter in haar derde roman, A Bit Of Difference, as “ ’n wêreldburger (transnational), ’n vrou wat oral, maar nêrens werklik tuis is nie”. Self verdeel sy haar tyd tussen Lagos, Londen en Mississippi.

Waar is jy nou en wat kan jy sien?

Ek is in ’n woonstel in Londen en iewers hoor ek ’n stort.

Waaroor gaan jou boek?

’n 39-jarige Nigeriese immigrant, wat gefrustreerd is met haar bestaan as enkellopende beroepsvrou in Londen en die kans aangryp om terug te gaan Nigerië toe vir haar pa se gedenkdiens. Daar is baie Nigeriese vroue soos Deola, maar hulle maak nie hul verskyning in die letterkunde nie.

Waar skryf jy die graagste?

In ’n kamer in my huis in Mississippi, by ’n venster met ’n uitsig op bome. Ek het ’n plakkaat teen die muur van my eerste optrede by ’n Barnes & Noble-boekwinkel. Die kamer is spesiaal, want dis die enigste in die huis wat ek waarlik my eie kan noem.

Wat verhinder jou om te skryf?

’n Gepraat. Ek kom nie baie uit as ek skryf nie.

As jy aan die skryfproses dink, wanneer hou jy die meeste en wanneer die minste daarvan?

Ek is nie mal oor ’n eerste weergawe nie, maar geniet die herskryf baie.

Wanneer het jy begin skryf?

Ek was 30 toe ek Amerika toe verhuis het en nêrens ’n storie kon lees oor ’n Nigeriese vrou soos ekself nie.

Het jy ’n spesiale ritueel wanneer jy “Einde” skryf?

Net ’n gevoel van tevredenheid, wat nooit hou nie.

5. Amerika



Raymond E. Feist (68) is ’n gebore Amerikaner en woon in San Diego. Sedert sy fantasiedebuut, Magician, in 1982 is meer as 15 miljoen van sy boeke verkoop en is sy werk in etlike tale vertaal.

Sy jongste, Midkemia: The Chronicles of Pug, vat sy hoofkarakter, die wesie Pug, terug na die einde van die eerste boek in die reeks om ’n deurmekaarspul van notas en kaarte wat hy tóé gevind het, uit te sorteer.

Waar is jy en wat kan jy sien?

Ek sit in my kantoor. Dit is 7:30 op ’n vakansie-Maandag en ongelooflik stil. As ek omdraai en by die venster uitkyk, kan ek die jacuzzi in my agtertuin sien.

Waar speel jou storie af?

In Midkemia, die mitiese wêreld waaroor ek al meer as 30 jaar skryf. Die kaarte klink dalk droog, maar dit is ’n wonderlike kontrapunt vir die reeks soos deur die oë van die seun gesien. ’n Klomp lieflike kaarte ook.

En die vonk vir dié tema?

Dit is minder storie en meer van ’n atlas in vertelstyl vir lesers wat my aanhou vra het vir meer inligting en besonderhede van dié wêreld. So gee ek hulle ’n eerstepersoon-rondleiding.

Hoe lyk dit waar jy skryf?

Morsig, boeke oral in hope, papier op alles. My splinternuwe MacPro het twee monitors – een voor my vir skryf, die ander regs van my vir notas maak en websoektogte. Maar dit is bekend en gemaklik en die “pendeltog” na die kombuis en koffiemasjien is niks verder nie as 10 m van my rekenaar af.

Wat help jou skryf?

Ek is my eie grootste vyand met redes vind om nié te skryf nie. Andersins baie koffie totdat ek verveeld raak met die smaak. Dis ’n lang dag – tussen sewe uur en tien uur voor die rekenaar. Die laaste uur kan dus iets kouds insluit, of ’n goeie enkelmout-whisky.

Hoe het jy in skryf beland?

Ek het begin om te kyk of ek kon. Vriende het stukkies gelees en gesê: “Jy moet hierdie publiseer.” Ek het. In 1982.

Het jy ’n spesiale ritueel vir daardie laaste sin?

Nie regtig nie. Dit hang af hoe laat dit is. Ek sal myself dalk uitvat vir ete of TV kyk. Hoe ook al, ’n drankie sal daar iewers wees.

* Die fees vind van Woensdag tot Sondag in Kaapstad in en om die Fugard-teater plaas. Kyk by openbookfestival.co.za vir die volledige program en plekke.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 427 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 904 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE