Selfie, biobrandstof, makarapa, blog, vuvuzela, koolstofvoetspoor, lugtyd, skottelbraaier...
Wanneer die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) volgende jaar verskyn, neem dié en ander woorde hul regmatige plek daarin op.
Jana Luther, redakteur van die HAT, meen dis ’n opwindende tyd vir aanlyn leksikografie en lewende woordeboeke van eietydse taal op die internet. “Dit is opwindend om intyds te kan sien hoeveel gebruikers jou woordeboek raadpleeg – of dit nou bedags of snags is – presies na watter woorde gesoek word en watter woorde gevind word en watter nie. Jy kan dadelik die leemtes aanvul daar waar die onmiddellike behoefte is.”
Nie net verander taal deurentyd nie, maar ook die media waardeur taal uitgedra word.
Prof. Rufus Gouws, leksikograaf verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, sê: “As leksikograaf is die aanpassings van die leksikografieteorie om, naas gedrukte woordeboeke, ook vir die beplanning en skep van elektroniese woordeboeke voorsiening te maak, opwindend.”
Woordeboeke maak is duur en tydrowend. Drie leksikograwe (Luther, Gouws en Fred Pheiffer) werk byvoorbeeld agt jaar lank (2008 tot 2015) aan die nuwe HAT.
“Ons het reeds duisende nuwe woorde in HAT6 opgeneem,” sê Luther. “Om hulle te vind moet ons elke dag die gedrukte media, asook die internet en sosiale media fynkam. Ons kyk hoe mense skryf, luister hoe hulle praat, watter woorde hulle gebruik. Afrikaanse radio en TV is belangrike bronne.”
Vir Gouws is een van die mooi nuutskeppings die woord “selfie”. “Dit pas so mooi binne die Afrikaanse patroon. Ek hou ook baie van die krieketterm ‘mokerman’. Sommige woorde verdwyn en verskyn met ’n nuwe betekenisonderskeiding. Skottel is vandag weer algemeen in gebruik en dit verwys na die seinontvangsapparaat.
“Taal weerspieël die werklikheidsiening van sy sprekers en dit vra dat woorde gevind word vir nuwe en veranderende betekenisse.”
Luther beklemtoon ’n nuutskepping moenie mooi of oulik of snaaks wees nie. “Dit moet ’n mens nie laat giggel nie, wat dalk die rede is waarom ‘toep’ (vir app) nie deur almal gunstig ontvang word nie. Dit moet funksioneel wees, in dieselfde register – formeel, informeel, vaktaal – en dadelik dieselfde werk doen as sy Engelse ekwivalent. ’n Nuutskepping is geslaag as dit by genoeg gebruikers inslag vind. Woordeboekmakers besluit gelukkig nie hieroor nie. Gebruiksfrekwensie gee die deurslag vir die opneem al dan nie in ’n woordeboek.”
As aktiewe lede van taalgespreksgroepe op die internet, onder meer op Facebook, bly hulle daagliks met taalgebruikers en -werkers in verbinding: skrywers, vertalers, teksredakteurs by Afrikaanse koerante en tydskrifte wat onder meer gereeld worstel om geskikte Afrikaanse woorde vir Engelse begrippe te vind. “Hulle speel ’n belangrike rol in ons werk; vestig deurlopend ons aandag op taaltameletjies en -goggas van allerlei soorte; die werklike, eietydse woordeboekbehoeftes van werklike, eietydse woordeboekgebruikers,” sê Luther.
“Wat ek ook al lees, waarna ek ook al luister, ek is altyd – bewus of onbewus – ingestel op eietydse woorde, uitdrukkings en betekenisse wat ’n skrywer, digter of sanger gebruik, wat dalk nog nie in die woordeboek waaraan ek werk, neerslag gevind het nie,” sê Luther. “In die ou dae het leksikograwe geen keuse gehad nie as om pynlik stadig die gedrukte media – boeke, koerante, tydskrifte – te fynkam. Woorde en aanhalings wat vir hulle interessant was, het hulle neergeskryf op indekskaartjies, wat later gealfabetiseer moes word.
“Vandag blaai ons steeds boeke, koerante en tydskrifte deur. Baie boeke, koerante, tydskrifte. Deesdae gelukkig veral ook elektronies. Maar pleks van indekskaartjies gebruik ons ’n gesofistikeerde elektroniese werkbank (TshwaneLex), gegrond op die bedryfstandaard XML, wat die produksietyd van ons woordeboek verkort en die konsekwentheid en gehalte daarvan aansienlik verhoog.”
Die kerntaak van verklarende leksikografie bly egter die ondersoek na die betekenisse van elke woord. “Hoeveel betekenisse het die woorde knoop, sny, oor, lig, kom? Ons moet die gebruikersfrekwensie van woorde en hul betekenisse vasstel. Dan moet ons elke betekenis so eenvoudig moontlik verduidelik. En vir elke betekenis moet ons in eietydse, maklik verstaanbare taal ’n nuwe definisie skryf, of waar nodig ’n reeds bestaande definisie herskryf. Ons moet ook probeer om gepaste voorbeeldsinne of -frases te vind, die herkoms van die woord naspeur, oorleg pleeg met vakspesialiste en seker maak ons verstaan wetenskaplike terme reg.”
Hoeveel het jy nodig?
Gouws meen ’n mens het minstens een verklarende woordeboek nodig in die taal wat jy die meeste gebruik en een tweetalige woordeboek met die moedertaal as een van die tale.
Luther, daarenteen, glo daar moet minstens drie woordeboeke in ’n huis wees: twee groot verklarende woordeboeke (een vir die moedertaal of huistaal en een vir ’n eerste addisionele taal), asook ’n groot vertalende woordeboek wat kan dien as ’n brug tussen die twee.
“Maar nie een van hulle moet ouer as sewe jaar wees nie. Die wêreld staan nie stil nie en taal ook nie.
“Van die navrae wat ons kry, laat my vermoed daar is duisende gebruikers wat houtgerus stokou woordeboeke bly gebruik – dit is mense wat een keer ’n woordeboek koop en dit nooit vervang nie.”
Jana Luther, redakteur van die HAT. | Foto: Edrea du Toit
Prof. Rufus Gouws, leksikograaf. | Foto: Denzil Maregele