Share

’n Storie in twee stemme

Min het ’n Afrikaanse sakeman op besoek aan Thailand geweet watter merkwaardige verhaal hy daar sou raakloop, hoe toeval ’n misdaad in ’n Vrystaatse konsentrasiekamp sou verbind met albei Wêreldoorloë om die vonk te word vir Francois Smith se briljante debuutroman, Kamphoer. Elmari Rautenbach het met albei mans gesels.

Winburg 2009
In
loving memory
of our sister
Alicia Alvinia
Rosie Draper
Died Jan 1902
Age 17 years

Vaal klip teen ’n blou Vrystaatse lug. Groengrys mufkolle om die rante van die grafsteen – die enigste wat behoue gebly het in wat skaars herkenbaar nog begraafplaas is.

Tussen droë graspolle en sandgrond lê die grafte. Oneweredige plat stukke klip is die enigste merkers. ’n Kareeboom gooi ’n yl skadu.

En vir ’n oomblik, van ver, kom stemme oor die vlakte en koppies aange­swewe: vroue in ’n beenwit kloktent wat sing “Naar de oorlog moes ek gaan, voor de kogels moest ik staan...”; krygers met hol wange wat in ’n oop treintrok met “Prijs den Heer” die verdoemenis tegemoetgaan.

In die stilte kom Nico Moolman regop. Hy haal ’n sakboekie uit en maak ’n aantekening: Alice Draper, Winburg-konsentrasiekamp. Dan mik hy sy digitale kamera en druk die sluiter.


Nico Moolman

Kaapstad 2014

Francois Smith speel met ’n teelepel. Die koffiewinkel se ruite is toegewasem, die tuin vervloei in bruin en groen strepe teen die glas.

“Ek sou nooit ’n Boereoorlogboek wou skryf nie,” sê hy. Sag, dringend. ’n Private mens wat praat oor ’n hartsprojek. “Nóóit so ’n tema. Nóóit so ’n karakter nie.”

Maar dis sy broer wat vir dié oudjoernalis en teksredakteur die storie gebring het wat hom nie wou laat los nie.

Charles Smith – self joernalis en adjunkredakteur van Volksblad – het eerste Nico Moolman se The Boer Whore gelees en vir sy ouer broer aangegee met die opdrag: “Dié storie hoort in Afrikaans.”

“Maar hoe skryf jy as ’n mán oor verkragting? Hoe skryf jy as ’n mán oor ’n vróú?” Smith strengel sy vingers ineen, lang vingers wat tot dusver fyn-fyn help skaaf het aan mense soos Dominique Botha se Valsrivier en P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides.

Maar die verhaal van Susan Nell het by hom bly broei. Die bywonerskind wat tydens die Boereoorlog gewelddadig verkrag is in die Winburg-konsentrasiekamp; dit wonderbaarlik oorleef toe haar “lyk” van die lykswa afval en sy deur ’n bejaarde Sotho-man en -vrou gevind en verpleeg word; wat jare later haar verkragter in Engeland teëkom toe sy as ’n psigiatriese verpleegster tydens die Eerste Wêreldoorlog by sy hospitaalkamer instap...

Daar was ander faktore ook, vertel hy. Dat die storie in die Vrystaat afspeel. Hy het self in die Vrystaat op ’n plaas buite Rouxville grootgeword. Hy ken die ruimtes, die lig, die ooptes; hy ken Sotho. Dat die storie wáár is.

“Die joiner, wat deel was van die verkragting... sy graf op Ventersburg word tot vandag toe geskend. Die fotograaf Jack Perry, wat ’n groot rol in Susan se lewe speel en heelwat kampfoto’s geneem het... ek het van sy foto’s gesien.

“Een bly my by: ’n onbekende meisie wat saam met twee ou, ou krygers gevange geneem is. Die twee Boere sit hangskouer op die perdekar met die maer merrie. Sy staan langsaan, uitdagend – ’n nimfagtige figuur, met ’n bos gekoekte hare. Jy kon dit vóél: die wilde seksualiteit...”

Uiteindelik was sy uitgewer, Riana Barnard, se opdrag: “Ek wil die boek doen. En jý moet hom skryf. Ek sal probeer om die geld te kry.” Dis ook sy wat Moolman gaan sien en met hom ooreengekom het dat Kamphoer nie ’n vertaling van sy boek sou wees nie, maar losweg gegrond op die gegewens daarvan.

Bangkok 2009

Nico Moolman, ’n sakeman van Vanderbijlpark, sit in die glinsterende Manohra-hotel in Bangkok. Hy tik ’n e-posboodskap in die internethoek van die kroeg. Agter hom is die hysbak wat van die hotelkamers na die voorportaal lei.

“Kort tevore is kanker by ons kleinseun gediagnoseer. Ek het voorheen by Yskor gewerk, maar het toe my eie in- en uitvoeronderneming begin om geld te maak om sy mediese onkoste te betaal,” vertel hy. Hy’t ’n welige wit baard en dreunstem.

Uit die hoek van sy oog sien hy die aantreklike bene van ’n middeljarige Oosterse vrou in ’n bermudabroek soos sy uit die hyser stap en gee sy waardering hardop, in Afrikaans, aan sy sakevennoot langs hom te kenne.

“En daar draai die vrou om en sê vir my: ‘U is ’n Afrikaner?’

“Ek was uiteraard baie verleë, maar meer verbaas dat sy Afrikaans verstaan. Sy vertel toe hoewel sy grootgeword het in die Nederlands-sprekende Java sy as ’n meisie van 14 aangeneem is deur ’n ‘Afrikaner’-vrou. En dis hoe ek oor drie aande in Bangkok die storie van Susan Nell gehoor het.”

Lucille is vandag skatryk, woon in Ubon, Thailand, en besit ’n string hotelle. Volgens haar vertelling was Nell ’n spesialisgetuie in die Kwairivier- militêre verhore van 1946. Japannese soldate is hier verhoor vir die verkragting van honderde vroue en kinders as seksslawe tydens die Tweede Wêreldoorlog. Lucille was een van dié sogenaamde comfort women.

“Susan het een aand ’n kind in Hollands hoor skreeu: ‘Los my uit, jou gemors!’ Omdat sy die taal kon verstaan, het sy gaan help. ’n Band het tussen hulle ontwikkel en sy het die meisietjie aangeneem en saamgevat Nederland toe.”

Terug in Suid-Afrika vertel Moolman sy vrou, Naomi, van sy ontmoeting.

“Naomi se nooiensvan is Luwes. Haar familie het destyds vier plase in die Vrystaat besit en drie van haar familielede het in die Winburg-konsentrasiekamp gesterf. Ons besluit een naweek om deur te ry soontoe.

“En daar vind ek in die kerkhof die grafsteen van Alice Draper, Susan se beste vriendin in die kamp. Die een wie se naam sy gebruik het toe sy in geleende klere die nag gehelp is om Kaap toe te vlug.

“Tog was daar geen Alice Draper in die argiefkantoor se kampregister nie, net die Draper-familie se name. Ook geen Nells nie, net ’n Nel-ma en seuntjie. En ’n familie Lewis, nie Luwes nie ...

“Jack Perry se gegewens het ek wel gekry. En sy foto’s; sy stempel agterop. Ek het gesien waar sy en Susan se spore gekruis het. Dat sy ná ’n laaste besoek aan Suid-Afrika en Perry in die 1950’s terug is Holland toe en daar aan kanker gesterf het. Dat sy gevra het dat haar as teruggestuur word, en hy dit hier ontvang het...”

Kaapstad 2014

Dit is wat sy heel eerste gesien het, die oor. Die hap daarin soos die merk van ’n skaap. Waar jy die sagte stulping van die lel sou verwag, daar val die boog van die skulp stomp weg tot teen die neksening.

Dit is háár merk.

“Die konfrontasie tussen Susan en haar verkragter in die Seale Hayne-hospitaal in Devon, dit is nie deel van die oorspronklike verhaal nie,” sê Smith. Nell het wel haar een verkragter tydens die Eerste Wêreldoorlog as ’n bomskok-pa­siënt in Engeland teëgekom; die tweede tydens die Tweede Wêreldoorlog. “Maar dié gegewens het ek net as afspringpunt gebruik.

“Ek wou haar storie romanmatig ontdek. Ek wou vasstel wat sou kón gebeur het in ’n konfrontasie tussen haar en haar verkragter. Dís waarop die verhaal afstuur, en dít kon ek net al skrywende uitvind.”

Karel Schoeman, met wie hy in daardie stadium gekorrespondeer het en wat hom veral gehelp het met historiese stemtoon, was glad nie oortuig van sy gebruik van ’n vroulike eerstepersoonsverteller nie. “Dis of ek hom heeltyd kon hoor sê: ‘Weet jy wat jy dóén?!’

“Maar ek het voortdurend vir myself gesê my gevoelens kan nie háre wees nie; my melancholie, nie hare nie. Soms sou ek in ’n doodloopstraat beland, dan moes ek uitstap, gaan ry of inkopies doen, dan sou ek skielik ’n gebaar sien, of ’n gesigsuitdrukking en dink, ja, dit hoort in die boek...”

Benewens Susan Nell se verhaal moes hy hom ingrawe in die tydperk.

“Kon vroue byvoorbeeld vóór die Groot Oorlog in die psigiatrie in Amsterdam studeer? Hoe het motorfietse daardie tyd gelyk? Wanneer is bomskok vir die eerste keer as ’n siektetoestand gediagnoseer? Dis aanvanklik gesien as ’n vorm van lafhartigheid.

“Met Susan se behandeling in die grot deur Tsiisetso en Mamello kon ek die lyn deurtrek na haar belangstelling in die psigiatrie. Sy het iets in die nie-Westerse manier waarop die twee Sotho-oues haar versorg het, herken: Sj-sj-sj, dans ons, djerre-djerre-djerre... die liedjies, die stories, die meerkatjie wat warm by haar slaap...

“Soms sou ’n woord my pootjie. Waarmee het die dokter op pad Kaap toe vir Susan ’n voorskrif geskryf? Sou hulle sê ’n indelible pencil? In Afrikaans is dit ’n ink- of natlekpotlood. Schoeman het gesê: Gebruik die Engels.”

Benewens Schoeman het Fransjohan Pretorius met navorsing gehelp en Dan Sleigh. Sleigh het hom na Pat Barker se Regeneration-trilogie (1991-1995) verwys wat handel oor die psigiatriese werk van dr. W.H.R. Rivers, bekend veral om sy navorsing oor die tradisionele medisyne van primitiewe stamme. Maar hy het verkies om sy kop skoon te hou van ander skrywersinvloede.

Dit was wel die karakter van Rivers wat Smith taamlik vroeg in die skryfproses laat besluit het op ’n afwisselende vertelstem: dié van die verrinneweerde meisie in die grot, en die vrou wat dínk sy’s genees, maar in Engeland gekonfronteer word met geweldig teenstrydige emosies. Veral – onverklaarbaar – skuld.

“Een van die keurders het gevra hoe kan ek ’n oorlogsboek skryf sonder enige oorlogstonele? Maar daar is báie wat met geweld te make het... dit speel net amper uitsluitlik af in ’n vrou se kop.

“Die motorfietsrit, wanneer sy daardie man in die motorfiets se syspan sit en die petrol oopdraai... die beeld van die lansiers... O, die Boere was báng vir hulle. Hoe hulle die lang blink spiese teen hul heupbeen op die saal sit, regop in jaaggalop, hoe daardie lang blink lemme stadig sak...

Sy voel die gewig van die lans in haar hand, sy por die perd; sy sien die een man teen ’n miershoop ineenkrimp, heeltemal verstar van die vrees, sy laat sak die lans...

Maandag 7 Februarie 2005 neem Smith oudergewoonte die trein werk toe. Hy was toe uitgewer by Tafelberg. Sy vrou van drie maande, die letterkundige dr. Lisbé Smuts, laai hom by die Wellingtonse stasie af. Eers in Kaapstad word hy bewus van die tientalle missed calls op sy selfoon – etlike daarvan van hul dominee.

“Dis hoe ek die nuus gehoor het.”

Lisbé is daardie oggend vermoor. By haar aankoms by die huis... haar lyk in die swembad aangetref.

Hy gee die feite sonder omhaal: Hoe hy daarna met sy doktorsgraad begin het, sy tesisonderwerp “Letterkunde en die dood – Onmoontlikheid en die moontlikhede van die teks”. Hoe hy in 2007 die kunstenaar Tania Babb ontmoet, hulle ’n jaar later trou en hy vandag die pa is van die vyfjarige Harbin, sy volle name dié van sy pa en grootoupa, Francois Alwyn Harbin.

“Wanneer jy skryf,” sê hy, “speel alles wat jy weet en ervaar ’n rol. Ek het algaande besef ek sal móét my eie emosies in toom hou. Ons dink soms ons is oor iets, dan kom dit op allerhande maniere terug.”

Vir Kamphoer skryf hy ’n naskrif.

Met haar laaste besoek aan Winburg merk ’n bejaarde Nell op dat daar langs die graf van haar jeugvriendin Alice Draper ’n leë, ongemerkte een is. Sy het geglo dit was die graf wat vir haar bestem was. Dit is waar sy haar as gestrooi wou hê.

Daardie leë, ongemerkte graf is hare.

* Kamphoer word uitgegee deur Tafelberg en kos R220. The Boer Whore is self uitgegee. Bestel by lingloi@telkomsa.net.


Francois Smith, skrywer van Kamphoer, in die Wynbergse begraafplaas, waar ’n beskermvrou van Susan Nell, mev. Marie Koopmans-De Wet, begrawe is. | Foto: liza van deventer

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 508 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 529 votes
Vote
Rand - Dollar
19.11
+0.4%
Rand - Pound
23.80
-0.4%
Rand - Euro
20.46
-0.0%
Rand - Aus dollar
12.40
-0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
920.40
-1.1%
Palladium
1,026.50
+1.1%
Gold
2,322.61
-0.2%
Silver
27.34
+0.6%
Brent Crude
87.00
-0.3%
Top 40
68,051
+0.8%
All Share
74,011
+0.6%
Resource 10
59,613
-2.2%
Industrial 25
102,806
+1.7%
Financial 15
15,897
+1.8%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE