Ek het toe nie Overeaters Anonymous toe gegaan nie. Dit klink seker na ’n simpel rede om te sê ek het regtig nie geweet hoe om daar uit te kom nie. My sin vir rigting was nog nooit baie goed nie. Ek sukkel ook om padkaarte lees.
En dit bring my by ’n ander punt: Mens moet in jouself glo. My ma het altyd vir my as kind gesê ek kan nie rigting hou nie, en ek het haar geglo. Dit het ’n invloed op my hele lewe gehad, al is ek seker sy het dit nie só bedoel nie. Ek het in baie opsigte nie in myself geglo nie - soos dat ek nie slim genoeg is nie, witty kan wees nie, dat die gewilde kinders op skool nie met my vriende wou wees nie. En ek het altyd gedink ek is vet, selfs al was ek eintlik binne perke wat my gewig vir my liggaamsbou en lengte betref.
Ek onthou hoe my Imago-terapeut my ’n paar jaar gelede gevra het: Wie is jy? En ek myself aan haar beskryf het in terme van wie ek gedink het ander mense dink ek is.
Dit was baie moeilik om uit te
figure wié ek is, en om uiteindelik die goeie punte in myself raak te sien, want dit is soveel makliker om die negatiewe raak te sien. Ek moes vir haar vertel waarvan ek in myself hou. Watter dele van my liggaam vir my mooi is. Dit was oukei om te sê my oë en my hare is vir my
nice, want ander mense het dit al vir my gesê! Maar ek kón net nie sê enige ander deel van my liggaam is vir my aanvaarbaar nie. Ek was naderhand in trane, want sy het nie opgegee nie tótdat ek gesê het: "Ek dink my borste is orraait." Ek het nie gedink ek kan vir enigiemand sexy wees nie. Sy het my geleer ek kán. It is all in the mind.
En net so is dit met gewigsverlies: Jy moet dit wíl doen. Nie vir enigiemand anders nie, maar vir jouself. As jy lank met jou gewig gesukkel het, om watter rede ook al, is ’n mind shift nodig. Vir my was dit deur te besef ek het net een liggaam. En as ek my liggaam nie beter oppas nie, gaan ek een of ander tyd ’n hartaanval of beroerte of iets kry.
’n Belangrike ding wat my dieetkundige, Danny, my laat insien het, is dat my porsiegroottes veels te groot is. Een Weetbix in die oggend is genoeg. Nie twee of drie nie.
Nou, ek wil geen dieet-organisasie afskiet nie, maar een waarby ek vroeër in my lewe 20 kg verloor het, het my geleer om te veel te eet. Hulle laat jou gebalanseerd eet, maar jy kan geweldig baie groente eet. Jy raak dus gewoond daaraan om groot hoeveelhede kos te eet, en wanneer jy nie meer die groepklasse bywoon nie, wil jy steeds ’n groot bord vol kos hê. Maar dan begin jy meer proteïen en veral koolhidrate eet, en uiteindelik eet jy hompe brood, pasta, rys...
Toe ek twee maande gelede met my nuwe eetplan begin het, was dit aanvanklik baie moeilik om sulke klein porsies te eet, maar jou maag en jou brein raak dit gewoond. Ek het al baie gehoor jy moet nog ’n klein bietjie honger wees wanneer jy klaar geëet het. Ek kon dit nooit verstaan nie, maar ek het agtergekom as jy so 20 minute wag, voel jy voller. Die boodskap moet eers by jou brein uitkom. En dit werk! As ek deesdae te veel eet, voel ek sommer ongemaklik.
Nog iets wat ek die afgelope week besef het, is dat mens jouself soms goed moet vergewe. As jy ’n geroosterde ham-en-kaas-toebroodjie by ’n
pub eet, is dit nie die einde van die wêreld nie. Ten minste het jy nie ’n groot bord vol vetterige tjips geëet nie. En môre eet jy weer van voor af gesond. Dit beteken nie mens kan elke dag verkeerd eet nie, maar soms moet jy jouself net ’n bietjie slack gee.
Ek het ook die afgelope twee maande opnuut agtergekom water is ’n nuttige
tool. As jy honger voel terwyl jy weet jy het nie nou kos nodig nie, drink ’n glas water. Ek voel soveel gesonder vandat ek minder koffie en meer water drink.
Elkgeval. Ek het besluit ek gaan nie Overeaters Anonymous toe nie. Voorlopig. Want ek het die afgelope week eintlik verbasend goed ge
cope. Al het ek Saterdagaand vetterige skaapribbetjie geëet. Die verskil is: Ek het min daarvan geëet. Ek gaan myself nie alles ontsê nie, want dan gaan ek aanhou
crave daarvoor. Matigheid is die wagwoord.
Ek sien Danny eers weer Saterdag, maar vanoggend op my skaal het dit gelyk of ek die afgelope twee weke 2 kg verloor het. Ek voel trots op myself, en dit inspireer my om voort te veg.
Wish me luck!