Share

Die Macan kan...

In Engels kan mens oor Porsche se nuutste ­ sê: ‘the Macan can’. Maar die wetenskap  agter dié kompakte teer-en-veldtrapper is effens meer ingewikkeld as die cancan-dans s’n. Egmont Sippel het die internasionale bekendstelling in Leipzig bygewoon.

Kom begin by die begin. Nie by die Groot Knal nie, maar by die begin van Porsche se nuwe Macan. En daar’s baie van hulle.

Soos dr. Ferdinand Porsche homselwers, die man wat die Porsche-gene geplant het, sonder om die eerste Porsche te bou. Ferdinand, sien, was in die tronk (vir sogenaamde kriminele oorlogsdade) toe Ferry, sy seun, gestalte aan die 356-001 sou gee.

Die jaar was 1948, die plek Gmünd, die land Oostenryk – en Porsche Nommer 356-001 se enjin het, nes die hedendaagse Cayman en Boxster s’n, tussen die kajuit en agteras gerus.

Maar hier’s wat tel: die fokuspunt was sportiwiteit. Ferry wou aksie sien op die paaie wat vandag nog rondom Gmünd deur die Alpe kronkel.

Dit dan een begin.

’n Ander is dalk die een wat in 1952 in Noord-Ryn-Wesfale sou afskop met die geboorte van Wendelin Wiedeking, die man wat Porsche van 1993 tot 2009 met ’n finansiële ysterhand regeer het nadat sy eerste miljoen op ouderdom 30 uit eiendomme getoor is. In Ahlen is Wiedeking gebore, in Aachen het hy skool gegaan.

Lees weer deur hierdie lys name. Dis so Duits soos Bismarck, Beethoven en die Reichstag. Minder seëvierend was Porsche, in 1993 op die rand van bankrotskap. Wiedeking het drastiese stappe geneem. Uit was dit met die 928 en 968, en in met die Boxster-roadster en Cay­enne-lewenstyler. En siedaar: winste soos jy nie kan glo nie. Laasjaar, byvoorbeeld, was 80?000 van Porsche se 162?000 wêreldwye verkope Cayennes.

Daar’s natuurlik véél meer oor Wiedeking te sê as net dat hy “Vader van die Cayenne” was – byvoorbeeld dat Porsche met €10 miljard in die skuld gedompel is met Wiedeking se grootste, maar mislukte, waagstuk om VW oor te neem (waarna die goeie doktor homselwers met €50 miljoen by Porsche weg is).

Iedergeval kan Wiedeking se tweede grootste waagstuk – die suksesvolle ­Cayenne – as beginpunt vir Stuttgart/Zuffenhausen se nuutste gesien word. Die baba-Cayenne word die Macan genoem, nie omdat hy soveel korter is nie (net 50 mm, alhoewel die vaartbelynde agterklap hom héélwat kleiner laat lyk), maar hy’s ook 90 mm laer en omtrent 200 kg ligter, model vir model.

Synde dat Porsche deesdae aan VW behoort (eerder as die Wiedeking-visie waarin VW aan Porsche sou behoort het) was dit ook net logies om die Macan uit die Audi Q5 te ontwikkel, nes die Cayenne naas die VW Touareg (en later die Audi Q7) ontwikkel is.

Juistement word die Macan dus op die Q5 se basiese onderstel met vyfskakel-voorvering en ’n trapesium-agterveer­module, alles uit aluminium, gebou. Die klimaatstelsel word ook uit die Q5 oorgedra, maar die res van die platform is Porsche-spesifiek: enjins, ratkaste, die vierwieldryfstelsel, wiele, bande en dies meer.

Nou mag jy voorts dink dat wiele en bande net ’n bietjie groter en wyer as die Q5 s’n is, presies wat jy van ’n ­Porsche sou verwag. Maar bloot net ’n “bietjie groter en wyer” is nie die belangrike verskil nie; dis die filosofie ágter daai verskil wat tel.

’n Ambisieuse filosofie is dit, een wat Porsche op al hul motors buiten die Cay­enne toepas, juis om sportiewe dryfeienskappe te optimeer. ’n Komplekse besigheid is dit ook, ’n saak van ingewikkelde wiskunde en wetenskap.

Hier’s die kern: op die Q5 is alle wiele en bande ewe groot en wyd, maar op die Macan verskil hulle, met ’n groter voorband-en-wiel-deursnit as agter, plus nouer bande voor (vir ’n vinniger indraai) en wyeres agter (vir beter greep en traksie).

Dís nou hoe mens sport-DNS in ’n sogenaamde es-joe-wie oorplant, is dit nie? Selfs die Cayenne spog nie met sogenaamde “gemengde bande” nie.

In dié opsig is die Macan dus nader aan die 911 en Cayman as aan die Cay­enne. En as dít nie ’n goeie begin vir die sportiewe aspirasies van Porsche se nuweling is nie...

Maar hô nou: daar’s ’n ander begin ook, rakende die Macan en Q5 se fundamentele karakterverskille, en dis Porsche se knapsakkoppelaar, of dan Zuffenhausen se sogenaamde “hang-on clutch” – ’n veelplaatkoppelaar wat soos ’n rugsakkie, of inderdaad ’n knapsak, op die agterent van die 7-gang-PDK-ratkas hang, vanwaar hy dryf tussen die voor- en agterasse reguleer sodat die Macan te alle tye ’n optimale traksie-verhouding kan bied, van 100% deur die voorwiele, tot 100% deur die agterwiele.

So, hoekom nie ’n Torsen-ewenaar, soos op die Q5 of die Touareg, om krag te verdeel nie? Dié kan ook alles na vore of agter kanaliseer.

Wel, die Torsen het ’n algemene noord/suid-verspreidingsvoorkeur van 40:60 en pas hierdie verhouding slegs aan as ’n reaksie op wieltol.

Die knapsakkoppelaar, daarenteen, het ’n beheermodule wat deur ’n horde parameters gevoed word om veel vinniger te reageer, veral omdat dit vooraf kan bepaal of die voertuig byvoorbeeld op pad daarna is om greep of traksie te verloor. Vir dié doel word longitudinale asook laterale versnelling saam met die stuurhoek, versnellerposisie en wielspoed ingefaktor om die beste voor-na-agter-wringsprei vir veilige hantering te waarborg.

Omdat die deursnit van Porsche se band-en-wiel-kombinasie egter effe groter op voorwiele as op agterwiele is, en die agteras derhalwe effe vinniger moet roteer (teen ’n spoeddifferensiaal van 1 tot 2%) om by te hou – wat beteken dat agterwiele neig om deur draaie “na buite” te hardloop – bied die Macan steeds die dinamika van ’n motor wat deur sy agterwiele dryf.

Om, omgekeerd, te keer dat hierdie stert-georiënteerde fokus in wilde, gevaarlike stuurywer ontaard, word die Macan met breër agter- as voorbande toegerus.

En siedaar! Hantering soos ’n sportmotor s’n: skerp en stabiel. Op die indraai val eersgenoemde op; deur die apeks van draaie (asook in reguit lyne teen hoë snelhede op Duitse autobahns) val laasgenoemde op.

So, waar begin die spesifieke Macan-karakter nou eintlik: by die knapsakkoppelaar wat “gemengde bande” bemoontlik; of by “gemengde bande” wat ’n knapsakkoppelaar benodig (want ’n Torsen-ewenaar sukkel met die ekstra wrywing en hitte wat opbou as aste teen verskillende snelhede roteer, wat “gemengde bande” ’n swak idee maak)?

Besluit maar self. Maar hier’s die beste manier om na die Macan se dinamiese boustene te kyk: dat die knapsakkoppelaar en onewe bandgroottes saam met ’n vinnige stuurratio (14.3:1) plus spesifieke veer-en-dempinstellings asook spesifieke kantelkeerstawe gesamentlik tot ’n totale dinamiese konsep bydra, een wat die Macan se karakter heeltemal van byvoorbeeld die Q5 s’n onderskei.

Wat oorbly, is uiteraard verrigting, die kajuit en bougehalte wat alles op ’n verhewe vlak gekonsipieer en tot uitvoering gebring is.

Motor-Rapport het reeds in Desember oor die enjins geskryf – ’n 3.0-liter-biturbo-V6 vir die S-model (250 kW, 460 Nm), ’n 3.0-liter-enkelturbo-V6 vir die Diesel (190 kW, 580 Nm) of ’n nuut uitgeboorde 3.6-liter-biturbo-V6 vir die Turbo (294 kW, 550 Nm), almal met elektriese herwinning en staan/gaan- asook seil-tegnologie (laasgenoemde wat die enjin op geleë oomblikke ontkoppel om die wiele vry te laat loop).

Koppel enige van hierdie drie enjins aan Porsche se gladde, vinnige en naatlose 7-gang-PDK-dubbelkoppelaar-ratkas, waarna jy ook PTV Plus (Porsche Torque Vectoring, of dan ’n sluitewenaar op die agteras), PTM (Traction Management), PSM (Stability Management) en PASM (Active Suspension Management, oftewel lugvere) in die vergelyking kan gooi, afhangende van opsies, en hier’s die waarheid: die Macan het die grense van die es-joe-wie-ryk verskuif.

Die Romeine, Britte, Spanjaarde, Nederlanders, Franse en dies meer het, by tye, oor dele van die planeet geheers. Die Macan is die volgende Groot Knal; hy gaan oor die héle planeet heers, maak nie saak of jy van beboude of bosterrein praat nie.

Porsche het pas ’n nuwe maatstaf in die motorkunde gestel – alhoewel die enjins, jip, met ’n effense groter klankknal kan doen.

* Die Macan buig middel-2014 in SA. Pryse moet nog vasgestel word, maar met ons onstabiele wisselkoers verwag ons ’n intreeprys van ten minste R800 000.



We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
40% - 194 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
60% - 291 votes
Vote
Rand - Dollar
19.02
-0.6%
Rand - Pound
24.01
-0.5%
Rand - Euro
20.53
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.35
+0.0%
Rand - Yen
0.13
-0.6%
Platinum
899.20
+0.3%
Palladium
999.25
-0.3%
Gold
2,213.81
+0.9%
Silver
24.60
-0.2%
Brent Crude
86.09
-0.2%
Top 40
68,080
+0.6%
All Share
74,278
+0.5%
Resource 10
56,967
+2.4%
Industrial 25
103,572
+0.3%
Financial 15
16,456
-0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE