Share

Hier is mý motor van die jaar

Die Porsche Cayman S is ’n puik vuurwaentjie. Maar Egmont Sippel reken steeds dat Audi se A3 Sportback vanjaar se SA Motor van die Jaar-titel moes gewen het – al is dit net omdat hy beter as die Golf is.



Daar’s baie goeie motors in die wêreld.

Maar daar’s min waaroor mens waarlik liries kan raak.

Net bietjie meer as ’n jaar gelede het ek in so ’n motor gesit. Golf was sy naam. Golf 7. En nie die diesel of petrols met kleiner of groter enjins nie, maar spesifiek die Golf 1.4 TSI.

Die nuutste weergawe van Volkswagen se ikoniese luikrug is weliswaar die soort kar wat jy vooruit as ’n Motor van die Jaar kan bespreek: van voor tot agter vol gehalte en klas, alles toegedraai in ’n netjiese moderne jas – van ontwerp, verpakking en materiale deur na die enjin, ratkas, stuur en remme tot by windfop en bougehalte...

Nou, die VW-groep verwys na genoemde versameling hardeware – die enjin, ratkas, stuur en remme, plus natuurlik veer- en dempkomponente – as hul MQB-platform (Modularer Querbaukasten, waar “quer” na “dwars” vertaal en “baukasten” na “boustelle” of “boustene”). MQB verwys dus na die basiese boustene waaruit ’n VW/Audi/Skoda/Seat-motor met ’n dwarsgeplaaste enjin gebou word (in teenstelling met die MLB-platform se “modulêre boustene vir motors met langsgeplaaste enjins”).

Te tegnies?

Oukei, onthou net dit: In die VW-groep bied MQB en MLB uniforme enjin- en ratkasmonteerpunte vir alle modelle, onderskeidelik vir motors met dwars- en langsgeplaaste enjins, maak nie saak watter enjin of ratkas gebruik word nie.

In die lange duur, en op ’n wye skaal, bied net hierdie enkele tegniese puntjie – naamlik uniforme monteerpunte – vyf belangrike voordele: Dit spaar komponente, en daarom ook energie, kompleksiteit, geld en tyd. Die intervervangbaarheid van komponente sny byvoorbeeld 30% uit die boutyd van motors in die VW-groep.

Lees gerus The Machine that Changed the World (deur Womack, Jones en Roos) oor Toyota se “lean production” as jy jouself oor die volle impak van tydsbesparing en koste-effektiwiteit in die bouproses wil inlig.

MQB bied dus ’n goeie vertrekpunt vir die Golf- en A3-finaliste. Albei vuur byvoorbeeld uit die VW-groep se skitterende klein 1.4-liter-4-silinderturbo met direkte petrolinspuiting (90 kW, 200 Nm). Vir alle praktiese doeleindes is die stuurstelsels ook identies, sowel in gevoel as resultate (soos draaisirkels van 10.9 m elk).

En hoekom nie, want die twee verkoop vir amper dieselfde prys ook (tans R300 500 en R303 000 vir die Golf 1.4 en A3 1.4 Sportback).

Tog ís daar verskille: die Sportback is effe langer (4 310 vs 4 255 mm), maar ook ’n raps nouer en laer, terwyl die Golf se asafstand een millimeter verder rek.

Die Golf bied dus ’n baie kleine bietjie ekstra kajuitruimte, veral in terme van kophoogte – maar hy’s amper ook 40 kg swaarder as die Sportback se 1 270 kg. Ten spyte van hierdie ekstra gewig verseker die Golf se 7-spoed-DSG-ratkas fraksionele beter verrigting- en verbruiksyfers as die Audi se 6-gang-handratkas.

Meer ratte bied ’n beter kans om te alle tye die doeltreffendste verhouding te vind, en as gerobotiseerde dubbelkoppelaarkas is die Golf se skuiwe blitsig en naatloos.

Maar ’n DSG-kas is nie altyd ’n beter oplossing nie. Stadige wegtrekke teen opdraandes is rukkerig; as jy aanstoot wag die kas lank voor hy in die remfase (in draaie in) afrat; en die mens-masjien-kontakpunt is klinies en koud.

Persoonlik verkies ek die betrokkenheid wat ’n (goeie) handratkas lewer – en die A3 s’n is uitstekend, selfs beter geslyp as VW-eweknieë s’n.

Uh-huh? Is alle meganiese komponente op die Golf en A3 dan nie veronderstel om dieselfde te wees nie?

Ja. Maar nie noodwendig die instellings nie – wat ons by vering en demping bring. Die Golf ry goed – of laat ons onmiddellik byvoeg: Die 1.4 Golf-petrol ry uiters goed; merkbaar beter as die diesel-Golf met sy swaarder enjin in’t neus. Op die Gerotek-toetsgronde waar Motor van die Jaar-finaliste beoordeel is, was die Golf se ritgehalte oor riffelstroke eenvoudig strate beter as teenstanders s’n – tot jy die Audi gery het.

Want sien, die gaping tussen die A3 en die Golf se ritgehalte is omtrent ewe groot (in die Audi se guns) as die gaping tussen die Golf en die res s’n, en nie omdat die A3 op hoër bandprofiele ry nie; albei waentjies span 205/55-R16-rubber in. Ewe groot wiele, dus. En ewe hoë profiele.

Maar ’n groter verhouding aluminium-bakpanele lewer ’n gewigwins van 38 kg in die Audi se guns, en met fyner veer- en dempinstellings ry die A3 soos ’n weeldekoets.



Ewe wat kajuite betref wen die erkende meesters van Ingolstadt loshande.

Eerstens spog die A3 se kajuit met ’n skoon, minimalistiese Bauhaus-aanslag wat ’n groot rustigheid en diepe tevredenheid skep.

Die voorpaneel is gestroop tot ’n instrumentpaneel (met die allermooiste instrumente), ’n dwarspaneel (met die allermooiste getekstuurde plastieke), drie beheerknoppe (vir klimaatstellings, en met die allermooiste omboorsels van fyn-gegraveerde chroom) en ’n wegvoubare volkleur-LCD-inligtingskerm (met pragtige lettertipes en duidelike leesbaarheid, nes die instrumentpaneel).

Die middelkonsole huisves natuurlik die ratkierie (en bekyk en betas nogmaals die fyn-getekstuurde kierieknop) plus beheerknoppe en -skakels vir die Sportback se MMI-radiostelsel.

Mensig, en is dit die wielewêreld se top-infovermaakstelsel of wat! MMI-radio sluit nie satnav in nie, maar wat jy kry is klank en Bluetooth met stembeheer en motorinformasie op jou vingerpunte. Die stelsel is so ongelooflik maklik en logies dat selfs ’n idioot dit intuïtief kan beheer, en die aanbieding is puik verby met ’n chroomkombinasie van klawer- en stootknoppe vir sub-funksies plus ’n chroom-omboorde meesterknop vir hooffunksies.

En wat kan byvoorbeeld so wonderlik aan luggate wees? Dis tog net ’n gat in die voorpaneel, met flenslemme om die rigting van die lugstroom te beheer?

Presies. En het Audi nou iets uit hierdie eenvoudige ou onderdeeltjie geskep, kuns wat aan die uitlate van straalenjins herinner!

Gooi alles bymekaar en die kajuit is ’n meesterstuk; die ryk, skoon, moderne minimalisme daarvan laat die Golf se modulêre vierkantighede en vaal materiale Oos-Europees lyk.

Voeg die A3 se MMI by, en die gaping tussen kajuite is nog groter as dié tussen die Audi en Golf se ritgehaltes.

Wat my altyd laat wonder as mense sê “maar die Golf is meer van ’n spelbreker as die Audi” of “beter waarde vir geld”.

Wraggies, nè? Pryse is feitlik identies. En waar, of met wat, het Golf so ’n grote “spelbreker”-sprong gemaak? Golf 7 is ’n puik evolusie van Golf 6, reg genoeg. Maar die A3 herdefinieer kleinmotor-ritgehalte en revolusioneer kajuitontwerp en -weelde in die kompakte segment.

As jy per slot van rekening steeds ’n gerobotiseerde ratkas soek, kan jy hom – teen ’n prys – in die A3 ook bestel. Maar geen ekstra geld vir die Golf kan die A3 se rit of kajuit koop nie.

Daar’s min motors waaroor mens liries kan raak, en minder as ’n handvol wat so te sê volmaak is.

Was dit nie vir ’n skokkende fabriekswaarborg van net een jaar nie, en die A3 1.4 Sportback was een van daai handvol.

Of vergeet van die waarborg. Die ingenieursdiepte en bou-integriteit is so alomvattend dat die A3 Sportback iedergeval een van die “minder as ’n handvol volmaaktes” is.

Vir die geld wat jy betaal, koop jy die wêreld se beste wa.


* Prys: Audi A3 1.4 TFSI Sportback – R303 000




We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 728 votes
No! It's time to move on ...
33% - 366 votes
Vote
Rand - Dollar
19.00
+0.1%
Rand - Pound
23.81
-0.0%
Rand - Euro
20.41
+0.0%
Rand - Aus dollar
12.44
-0.3%
Rand - Yen
0.12
+0.5%
Platinum
926.80
+0.1%
Palladium
989.00
-0.2%
Gold
2,346.08
+0.6%
Silver
27.71
+1.0%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,031
+0.9%
All Share
74,929
+0.8%
Resource 10
62,800
+1.1%
Industrial 25
103,554
+1.0%
Financial 15
15,849
+0.3%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE