Toyota het die goedkoper helfte van die B-segment die afgelope week met sedan- en luikrug-weergawes van die Etios gepak.
Die Etios, wat deur ’n 16?klep-viersilinder-petrolbron van 1,5 liter (66 kW, 132 Nm) gedryf word, vul die gaping van ’n groter-segmentvoertuig teen ’n laer prys wat sedert 2006 weens die beëindiging van die Tazz se produksie in die Toyota-stal gelaat is.
Sy natuurlike mededingers is die VW Polo Vivo, Ford Figo en Renault Sandero, almal ouer motors wat tot ’n mate by die moderne tye aangepas is, terwyl die Etios onlangs eers (in 2010) die lig as ’n heeltemal nuwe motor gesien het.
Die Etios – in luik- en sedanvorm onderskeidelik 3,8 m en 4,3 m lank – se klem val op waarde vir geld en funksionaliteit. ’n Lang asafstand vir sy pryssegment waarborg goeie kajuitruimte, terwyl genoeg stoorplek ook ’n prioriteit is. Teen amper 600?liter is die sedan se kattebak boonop yslik.
Die brandstoftenk hou 45 liter, wat beteken dat die Etios met ’n amptelike verbruiksyfer van 6 liter/100 km onder ideale omstandighede ’n reikafstand in die omgewing van 750 km bied. Met ’n sesgang- pleks van ’n vyfgang-handratkas sou hierdie syfer nog beter gelyk het, maar een van Toyota se vernaamste ontwikkelingsprioriteite was natuurlik kostebesparing.
Die Etios bied ’n keuse van twee afwerkingsvlakke: Xi en Xs. Albei spog met al die belangrikste eienskappe soos kragstuur, lugversorging, ABS-remme met EBD en twee lugsakke voor.
Toyota Suid-Afrika voer die Etios van Indië in, maar nie alvorens voertuie wat hierheen verskeep word heelwat versterkings en verbeterings ondergaan wat spesifiek met die oog op die Suid-Afrikaanse toestande ontwikkel is nie.
Die prys van die Etios-luikrugmodelle onderskeidelik is net-net minder as R116 000 en R121 000, terwyl die sedanmodelle vir ietsie onder R122 000 en R127 000 onderskeidelik verkoop word. Die fabriekswaarborg geld 3 jaar/100 000 km en ’n versienplan van 2 jaar/30 000 km is ingesluit. Die diensintervalle is 10 000 km.
* Motor-Rapport lewer binnekort ’n volledige verslag van die Etios.