Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Projek nou pure pret

Deur: Egmont ­Sippel 2012-06-16 12:46
Ek hoop nie Hanlie kry haar eerste in die hande nie.

Vir Oona nie.

Want Hanlie kán mos. Sy mág maar. Vra en interpreteer en skryf en onderhoude doen en die hele prentjie skets en skakeer tot mens voel of jy self daar is en sit en gesels en alles verstaan.

So, ek hoop nie Hanlie kry vir Oona Scheepers eerste in die hande nie, want wat kan mens self daarna byvoeg?

So, laat ek wegvlieg en vir Oona nóú al betrek, al gaan vandag se storie eintlik nie oor onse Scheepers-kind nie, maar oor ’n Sielaff genaamd Stefan.

Stefan Sielaff. ’n Duitser, natuurlik, aan’t hoof van Audi-ontwerp.

Of dít nou toentertyd; deesdae is Stefan verantwoordelik vir Volkswagen-binneruime, einste waar Oona haar tuiste nou in die motorbedryf vind.

In vroeëre jare het hierdie meisie van Prieska kajuite by Porsche ontwerp; toe by Audi; nou by VW: lyne, vorme, lettersoort, instrumente, ruimtes, materiale, kleure, uitleg, die lot.

Oona stel my as “Suid-Afrika se Jeremy Clarkson” aan haar baas voor. Dit nou in 2007 op die Tokio-motorskou toe albei van hulle nog dinge vir die Vier Ringe gekringe het.

Ek bars amper uit van die lag, maar Herr Sielaff skud my hand met formele Teutoniese erns. Hy sal my touwys maak oor Audi se metroproject quattro-konsep (en dís soos hulle hom in Ingolstadt skryf, alles in klein letters, ach du liebe).

So, daar sit ons toe, Herr Sielaff, agter die stuur van ’n konsepmotor wat later die Audi A1 geword het en hy vertel my van die ongelooflikste dinge wat die metroproject kan doen. iRobot se dinges, het ek later gedink: hierdie metromotortjie moet nog net ’n slukderm kry en hy sal meer as net teer kan vreet. Ná nóg ’n paar openbaringe oor die motor se toekoms het ek begin wonder of die metroproject nie kláár besig was om my te vreet en verteer nie, lewend, net soos ek daar langs Stefan in die passasierstoel gesit het nie. Sou ek aanstons as androïed daar moes uitklim en spioeneerwerk vir die metroproject gaan doen? Sou ek die metroproject word?

So het ek sit en wonder, want ek kon sien dat Herr Sielaff klaar deur die Vier Ringe ingesluk is.

Hy was versot op sy eie produk, hoewel ek moet bieg dat ek ook beïndruk was – nie op die manier wat Angelina Jolie mans beïndruk nie, maar op die manier wat jy deel van ’n groter geheel word. Die heelal van die masjien. Niks kan verkeerd loop nie.

Ek kon nie anders as om Stefan op die gehalte en voorkoms van so ’n klein karretjie geluk te wens nie. “Puik,” het ek gesê. “Pragtig!”

En dit was presies die punt waar ek hom móés vra hoe Audi dit regkry om kajuite te bou wat twee maal so mooi en duur as Merc en BMW s’n lyk.

“Doo zoo think so?” het Herr Sielaff gesê.

“Ja,” het ek geantwoord.

“Vat nou maar die A4-kajuit en veral die voorpaneel, versus die Merc C-klas s’n. Die C-klas was ’n nuwe motor in die mark in daai stadium, maar die A4 se binneruim was eenvoudig twee keer mooier en varser.”

“Doo zoo think so?” het Herr Sielaff weer gesê.

“Ja,” het ek geantwoord.

“Maar hoe dóén Audi dit?

“Om twee keer mooier te lyk in terme van materiale, styl, uitleg en ontwerp moet die A4-kajuit dan sekerlik ook twee keer duurder wees om te bou?”

“Nee, nee,” het Herr Sielaff gekeer. Die verskil in koste tussen die twee kajuite is maar €150.

Wat ek nie kon glo nie, het ek gesê, want die verskil lyk eerder na €1 500 of €5 000.

“Doo zoo think so?” het Herr Sielaff weer gesê.

“Ja,” het ek geantwoord.

Die C-klas se swak punt, toentertyd, was sy voorpaneel.
 
Stom ontwerp. Lomp. Gevrek. Dood. Die nuwe, gekuurde model se paneel lyk heelwat beter.

Herr Sielaff het sy verbasingsrympie herhaal.

En toe was ons tydjie in die voorruim van die metroproject verby.

Die twee van ons het, per slot van rekening, ’n goeie halfuur daar deurgebring om karre en kajuite en koste te bespreek, asook die wieletoekoms aan’t hand van Audi se nuutste klein konsep.

Ek het uitgeklim en Oona vertel dat Herr Sielaff dit moeilik gevind het om te glo dat sý produk – sý Audi-kajuite – soveel beter as Benz s’n is; dat die A4 se binneruim en veral voorpaneel soveel mooier as die C-klas s’n vertoon. “En,” het ek bygevoeg, “die Audi-kajuit kos net €150 meer om te bou as die Merc s’n. Dis wat ek die verbasendste vind, dat hy die presíése syfer weet.”

“Dis omdat hy pas van Mercedes af gekom het,” was haar antwoord.

“O,” het die ou gesê wie se naam sy pas ’n tydjie vroeër in dieselfde asem as Jeremy Clarkson s’n genoem het.

“Wat het Herr Sielaff by Mercedes gedoen?”

“Die C-klas se binneruim ontwerp,” sê sy.

“Oukei.”

Die wêreld het vlot in sy baan bly voorttol en die vloer het ’n wonderbaarlike gawe getoon om nie in ’n gat te verander nie. Een daarvan in die vertrek was seker genoeg.
Punt bly, die metroproject was die A1 se voorloper. En hier is hy nou, Audi se intreevlakkarretjie, in ons land en op ons paaie, vir ’n geruime tydjie al.

Dis ’n lekker karretjie, gewis, met ’n puik klein 1,4 liter-viersilinderturbo (90 kW, 200 Nm) wat die 0–100 km-lopie in 9 sekondes afstamp en 200 km/h op die oop pad waarborg.

Die A1 1.4T – oftewel die A1 Sportback 1.4T Ambition (met die keuse van ’n sesgang-handratkas en ’n S-tronic-dubbelkoppelaarkas – is nie die allervinnigste wat in-rat-versnelling betref nie en mens moet die enjintjie hard werk as jy haastig is, maar as die A1 1.4T eers vaart opgebou het, dan loop hy.

Die rit is aan die ferm kant, (die A1 ry op die VW Polo se starre agteras), die 1.4T dra lae 40-profiel tekkies, die stuur is goed belaai en die hantering heel skerp, maar windlawaai is net daardie rapsie meer as in groter Audi’s en Ingolstadt het (nes Merc geneig is om te doen) effe met die drywer se voetrus afgeskeep.

Beenruimte vir die agterinsittendes is uiters beperk, die laairuim is nie van die allergrootste nie en die spaarwiel is ’n dunnetjie. Maar wat, die res is pure Audi, van toerusting, bougehalte en integriteit tot kajuitontwerp, insluitende die keuse van materiale en afwerking.

Laasgenoemde is alles van leer tot chroomaksente op net die regte plekke.

Die voorpaneel sal byvoorbeeld enige ander motor wat, nes die A1, net 4 m lank is, se klas en aansien onmiddellik verhoog. (Hoor jy, Herr Sielaff?)

Of die 1.4T Ambition egter in die orde van R300 000 werd is, sal bepaal moet word deur jou ambisie om absolute styl en status te projekteer. Die A1 is nie so ’n rakkertjie soos die Mini nie, maar hy ís prettig genoeg en beslis meer premium, amper soos ’n Hanlie-onderhoud.

Maar los asseblief net Oona vir my. Sy’s mý metroproject!

«Terug