MyRapport

Apartheid-betoog gewoon verwerplik

Deur: Lionel Adendorf, Bonnievale 2012-06-30 16:58
Wanneer jy prof. Hermann ­Gilio­mee se artikel “Apartheid: Was dit dan net boos?” in verlede Sondag se Weekliks lees, kom die beeld van die vrou wat deur haar man mishandel word by jou op.

Maak nie saak hoe ongelukkig sy is of wat die graad van mishandeling is nie, sy moet steeds telkemale hoor dat sy ten minste ’n dak oor haar kop het, ’n motor in die motorhuis, bediendes wat haar bystaan en ’n man wat vir haar alles gee. Soms vertel sy ook haarself dat hy nie eintlik ’n bose wreedaard is nie, “hy is eintlik ’n goeie mens”.

Gilio­mee probeer hard om ons te laat glo dat apartheid, ondanks die feit dat ons gemeenskappe met die nagevolge daarvan saamleef, steeds die beste was vir almal, wit en swart. Om voor te gee dat die lewe eintlik lekkerder en beter was vir swart mense (Indiër, bruin en Afrikane) laat dit klink asof dié gemeenskappe dankbaar moet wees teenoor hierdie wrede stelsel wat van hulle tweederangse burgers in hul eie land gemaak het.

Die verdediging is dat apartheid die enigste meganisme was wat Suid-Afrika se “stabiliteit” kon verseker. Dit kan gesien word as ’n rassistiese aanval wat wil voorstel dat nie-rassigheid in daardie stadium nie die vermoë gehad het om beleggers te lok, die ekonomie te laat groei en werk te skep nie. Hierdie rassistiese verdediging moet verwerp word.

Giliomee wil ook voorgee wat die voorstanders van apartheid en verdrukking ons wou laat glo: Dat dit slegs Afrikaners was (en is) wat hierdie land vorentoe kan neem en suksesvol kan bestuur.

Bogenoemde voorstel is lankal verwerp en al is dit nie teen die pas wat Giliomee of ander wil hê nie, sal ons nooit weer daarheen terugkeer nie.

«Terug