Dr. Chris Jones sê geen gesprek oor die konflik in Palestina is sinvol sonder om die storie in die Ou Testament te gaan haal nie.
Miskien kyk ek nie reg nie, maar ek sien geen verwysings na die Ou Testament in die hele artikel nie, behalwe historiese gegewens wat aandui Israel het die grond wat hulle bewoon eintlik op onregmatige wyse bekom.
Die verhaal van Abraham, Isak en Jakob dui duidelik op ’n belofte wat God eers aan Abraham gemaak het en wat Hy toe aan Isak en Jakob oorgedra het.
By sy afsterwe het Abraham alles wat hy gehad het aan Isak gegee terwyl sy halfbroers, die seuns van Ketura, slegs geskenke ontvang het. Abraham het hulle ooswaarts weg van Isak laat trek.
Ismael het op sy beurt 12 seuns gehad en volgens Genesis 25:18 het hulle gewoon van Hawila tot by Sur, wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. In Genesis 35 sê God vir Jakob dat die land wat Hy aan Abraham en Isak gegee het, Hy aan hom sal gee en aan sy nageslag ná hom. Esau het in die gebergte Seir gaan woon en hy was uitgesluit wat enige belofte van grondgebied betref.
My afleiding is: As die Palestyne hulle op enige grondgebied bevind het wat volgens God se belofte aan Israel behoort het, was dit onregmatig en ek glo nie vir een enkele oomblik dat Hy sy belofte sal verbreek om die grond wat Hy met ’n eed aan Abraham beloof het, ongedaan sal maak nie. God gaan ook nie terug op Sy woord nie. Ps. 132:13 en 14: “Want die Here het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê: Dit is My rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.”