MyRapport WEBWERWE/DIENSTE >

DA vervreem weens gebrek aan optrede

Deur: Dr. Callie Eloff, Limpopo 2012-05-26 16:36
Menings oor die doen en late van politieke partye beklemtoon dikwels die leë beloftes, praatjies wat nie gaatjies vul nie en mooi broodjies wat gebak word sonder om “honger mae” te stil!

My ervaring die afgelope ses maande van die DA se houding, styl en optrede – of liewer ’n gebrek daaraan! – maak eintlik ’n bespotting van die party se 2011-verkiesingscredo: “Ons lewer aan álmal!”

In Oktober verlede jaar het ek die party versoek om die oprigting van ’n seinversterker in die Thabazimbi-bosveld te probeer bespoedig nadat die diensverskaffer se aansoek om die oprigting van die nodige toring al sedert Februarie verlede jaar in die munisipale besluitnemingsproses “vashaak”.

My beroep op DA-raadslede was dus om namens ’n belangegroep van honderde selfoon- en internetgebruikers die “rompslomp” van finale goedkeuring deur die betrokke plaaslike owerheid uit die weg te help ruim.
Maar pleks van ondersteuning en positiewe aksies is my skriftelike versoeke dikwels met ’n mate van geïrriteerdheid begroet; letterlik ’n geval van “DA-werende swye en versuim”!

Ook my pogings om meer duidelikheid oor die saak en antwoorde by die provinsiale partyleier, ’n senior federale amptenaar én die hoofleier te kry, het niks opgelewer nie.

Waar pas die DA se gedragskode en pligbeskrywings vir amptenare in wat op sy webtuiste verskyn?

Of word ondernemings van flink, hoflike beantwoording van kiesersnavrae of respek vir hul belange net in ’n volgende verkiesingsveldtog van die rak gehaal en blink gevryf?

Met so ’n benadering het die DA my van hom vervreem, soos met derduisende ander kiesers kan gebeur!
«Terug