Desmond Tutu was die eerste wat die term reënboognasie vir ons nuwe demokrasie gebruik het. Die skoonheid daarvan is die harmonie tussen die verskillende kleure. Maar voordat ’n reënboog kan bestaan, móét die son skyn.
Erfenisdag is weer op ons en dis soms nodig om ’n binnegesprek te voer oor waar ons wortels lê en wie ons is. Is ons die nageslagte van misdadigers, aristokrate of van diegene wat uit hul eie land gevlug het oor geloofsvervolging?
In my bloed is ’n skeut Duitse passie, ’n knypie Skots, ’n proesel Xhosa, en ’n vleugie Kaapse slaaf.
Iets soos Karoo-potjiekos, ’n Kaapse brijani. Ek beskou myself egter as ’n Afrikaner omdat ek Afrikaans praat en in Suid-Afrika en Afrika woon. En as iemand my dan nou as gekleurd beskou omdat my vel soos moerkoffie sonder kondensmelk lyk, is dit fyn pikkewyn.
Ons moet die son in mekaar se lewe wees. Ons spog alte graag by buitelanders oor ons land, die klanke, kleure en karakters as die drade van ’n pragtige tapisserie. Laat ons dan nou ophou lostorring en uitrafel.
Kom ons volg die rolmodelle wat voor ons was, en wat nou tussen ons is, en weef saam aan die reënboogkleed.
Want as ons nie vrede, voorspoed en harmonie onder mekaar kan bewerkstellig nie, sal daar geen son of reënboog in ons toekoms wees nie.
Pa se afkorting klink steeds soos duur, Russiese vodka. Ek sê dus “na zdorovie” op Erfenisdag 2014 met ’n knertsie
VIBGYOR en baie eisj!