Ek sou egter wat wou gee om daardie vorm van ontplooiing in Suid-Afrika te kon hê!
Vir diegene wat nie vertroud is met die Franse stelsel nie, dit werk kortliks só: In Frankryk is werk in die staatsdiens so gesog dat ’n universiteitsgraad nie voldoende is om ’n hoë pos daarin te bekom nie. Studente wat die beste op universiteit vaar, kan aansoek doen om verder aan die “Grande École” te gaan studeer, waarna jy dan aansoek mag doen om ’n middelbestuurspos in die staat. Selfs in dié stadium is jy nie verseker van ’n pos nie, want net die beste uit die aansoekers word gekeur. As jy hier uitval, moet jy maar jou potjie in die private sektor gaan krap as sakeman, dokter, prokureur of as wat jy ook al opgelei is.
Nou kan ’n mens jou afvra of hierdie vlak van gehalte en kundigheid werklik nodig is in die staatsdiens. Die feit is Frankryk het ’n uiters doeltreffende staatsdiens wat deur Europa, ook deur die Swede en die Duitsers, bewonder en beny word. Dit is oneindig wensliker as ’n staatsdiens (soos ons eie) waar kandidate op grond van familiebande en dergelike redes aangestel word en waar funksionele geletterdheid in baie gevalle nie eens ’n vereiste vir ’n senior pos is nie!
Ja, Bekker is heeltemal reg.
Baie van die uitvoerende hoofde van groot instellings in Frankryk (soos Air France) is oudstudente van die “Grande École”. Ook is baie van die uitvoerende hoofde van groot instellings in Brittanje (soos British Petroleum), oudstudente van Oxford en Cambridge en baie van die uitvoerende hoofde van Amerikaanse instellings is oudstudente van Harvard en Yale.
Of hierdie verskynsel beskou kan word as “kader-ontplooiing” in die sin waarin Suid-Afrikaners die term verstaan, moet u maar self oordeel.