Dit is algemene gebruik in ons howe dat die teenparty se advokaat ’n getuie se getuienis aanval om ’n ander weergawe aan die hof voor te hou. Dit is ook ’n erkende vorm van kruisverhoor, veral waar die geloofwaardigheid van ’n getuie of beskuldigde aangeval word.
Strafregtelike aanspreeklikheid word bepaal op die grondslag van grondwetlike statutêre en gemeenregtelike reëls en beginsels van billikheid. Kruisondervraging is daarop gemik om feite te openbaar wat die ondervraer se saak kan versterk en om swak punte in ’n getuie/beskuldigde se getuienis te ontbloot. Dit skep ook die geleentheid om die waarheid of akkuraatheid van ’n getuie/beskuldigde se weergawe te bevestig, in dispuut te plaas, of om hul eie getuienis te weerspreek.
Die hof het ’n gemeenregtelike bevoegdheid om tussenbeide te tree waar ondervraging van ’n beskuldigde/getuie aanvaarbare perke oorskry. Dis aangeteken in die saak S. teen Omar 1982 (2) SA 357 (N): “The court has a duty to protect the accused from a badgering and argumentative cross-examination by the prosecutor.”
Pistorius se grondwetlike reg op ’n billike verhoor is nooit geskend nie. Die hof (regter Masipa) het die beginsel van waardigheid en billikheid teenoor Pistorius, as beskuldigde, deurlopend verseker.