Jammerlik is dit weer ’n bewys dat deursigtigheid op regeringsvlak bloot ’n illusie is en dat alle gekleurde Springbokke weer met die etiket van “kwotaspelers” om hul nekke sal rondloop. Ek sien met versugting uit na die minister van sport se kwotariglyne wat sokker betref en of hy ook ’n kykerskwota in rugby gaan afdwing – 50% swart en 50% wit.
Rugby is ’n professionele sport en rugbyunies word as besighede bedryf. Kyk gerus wat regstellende aksie die afgelope 20 jaar aan die land gedoen het. Dit het ons tot op die rant van ’n derdewêreldland gebring.
Daar is geen waarborg dat dieselfde nie met ons rugby sal gebeur nie.
Is dit steeds die moeite werd om die regering aan te vat oor hul ondeurdagte besluite? Ek twyfel. Soos met die aanslag op Afrikaans, maak regeringsamptenare dit hul dagtaak om goed uit te dink wat wit Suid-Afrika irriteer, pleks daarvan om sinvol te regeer.