Die tragedie van Zuma en sy spies kan in drie tonele ingedeel word.
In die eerste toneel is vryheid van spraak die hoofkarakter. Hierdie wonderlike voorreg wat deur elke land beskerm en gewaardeer moet word, word egter in hierdie drama verhef tot ’n reg wat die grondbeginsels van ordentlikheid en goeie maniere oorskry.
Ek dink elke joernalis, kunstenaar of selfs gewone landsburger het die voorreg binne die Grondwet om sy mening te lug. Maar gaan daarmee saam nie ook die erkenning en respek vir ander se kultuur, godsdiens en gevoelens nie?
Hoe goed die kunswerk ook al was en watter dieper betekenis daarin verskuil was, dit was swak smaak en moes nooit in die openbaar vertoon gewees het nie. Dieselfde boodskap kon met subtiele suggestie op ’n smaakvolle manier uitgebeeld gewees het en niemand sou aanstoot geneem het nie.
In die tweede toneel is pres. Jacob Zuma die hoofkarakter. Hoewel hy nie vir die skildery geposeer het nie, het sy leefstyl direk daartoe bygedra dat so ’n vulgêre kunswerk geskep is. Ook hy moet besef dat hy president is van ’n land met uiteenlopende mense, kulture en godsdiensopvattings.
As hy wil hê die mense van Suid-Afrika moet hom as die president respekteer, moet hy ook sy mense in ag neem en respekteer.
Daar word maklik gesê ’n gebruik of optrede is aanvaarbaar en selfs reg omdat dit deel is van iemand se kultuur.
Dit is nonsens wat aan die publiek opgedis word. In baie kulture is kannibalisme, mensoffers, duiwelaanbidding en gedwonge huwelike deel van hul kultuur, maar dit maak dit nie noodwendig reg nie.
Vir elkeen van ons, en meer so in Suid-Afrika weens ons verlede, is dit belangrik om mekaar te respekteer binne die raamwerk van ordentlikheid met die universele slagspreuk: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Die derde toneel, soos in enige goeie tragedie, vloei uit die eerste twee. Die situasie kon maklik opgelos gewees het, maar toe sien die ANC ’n gulde geleentheid om politieke munt daaruit te slaan. En omdat politiek oor die algemeen ’n morsige spul is, besoedel dit alles waarmee dit in aanraking kom, en in hierdie geval is dit geen uitsondering nie.
Hoe lekker is dit deesdae om een van die “kernwoorde” van ons samelewing, soos rassisme, homofobie, xenofobie of fundamentalisme, te gebruik om jou gewoonlik verwaterde standpunt te probeer verdedig. Gaan ons ooit in hierdie geknelde land op die punt kom dat ons soos volwassenes, sonder bymotiewe en hoop op eie gewin, rasioneel om ’n tafel kan sit en die belangrike probleme bespreek en oplos? Nou gaan ons soos stout kinders te kere oor ’n skildery terwyl duisende mense daagliks vermoor word, in motorongelukke sterf, van die honger omkom, afgemaai word deur die vigsepidemie, ad infinitum.
Waar ander klassieke dramas gewoonlik ’n tragiese einde het, is dit nie die geval met my drama nie. Uit al hierdie chaos en “much ado about nothing” het iets wonderliks gebeur. Ons hier in Suid-Afrika het nou ook ’n Wikkelspies gekry. Kom ons hoop hy wikkel waar dit nodig is.