Niemand kan die skoonheid van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” betwis nie. Dit is egter die enigste deel van ons nasionale volkslied wat nie betrekking op Suid-Afrika het nie. Dit is ’n Afrikalied en word lankal deur Afrikane oor die hele vasteland gebruik, veral ná politieke vergaderings, met ’n kommunistiese vuis in die lug.
Hierteenoor word die tweede en derde dele van die volkslied, “Moreno boloka” (Sotho) en “Die Stem” (Afrikaans en Engels), spesifiek aan Suid-Afrika gewy.
Op 26 Oktober 1976 het “Nkosi Sikelel’ iAfrika” die amptelike nasionale volkslied van Transkei geword. As een van ’n ’n handjievol wittes by die feesvieringe was die opgewondenheid van die duisende Xhosas ’n onvergeetlike ervaring.
Die musiek van “Die Stem” is ook om sy skoonheid geken. Ek was lid van ’n koor wat in sewe oorsese lande opgetree het. Die konserte is geopen met die sing van hul volkslied gevolg deur “Die Stem”. Op elke plek is gesê dit is een van die mooiste volksliedere ter wêreld.
Ons het ook die voorreg gehad om in 1976 die jaarlikse Vlaamse volksfees in Antwerpen by te woon. ’n Koor van 750 lede, begelei deur ’n simfonieorkes, het voor 80 000 geesdriftiges in die arena volksliedere van Nederland, Vlaandere én Suid-Afrika gesing. Dit was vir ons Suid-Afrikaners hoendervleis-roerend!
My pleidooi is dat ons geensins aan ons huidige volkslied peuter nie en dat “Nkosi Sikelel’ iAfrika” en “Die Stem” albei vrylik as individuele liedere sonder beswaar gesing word.
Ons kan almal, soos Mandela, ’n meer versoenende houding inneem.
Die Springbokke sing die volkslied tydens 1995 se Rugby-wêreldbeker. | Foto: Jan Hamman