Share

Haar tyd is nóú - 15 minute met Bianca le Grange

In die era van kitsroem waar die raklewe van celebrities bitter kort is, het Bibi Slippers 15 minute deurgebring met een ster wat nie ná 15 minute in die kalk­lig haar glans verloor het nie – en hieroor stem resensente wat haar in David Kramer se Blood Brothers gesien het saam.

00:15:00
Dit was 1968 toe die popkunstenaar Andy Warhol in ’n katalogus vir ’n kunsuitstalling geskryf het: “In die toekoms gaan iedereen 15 minute lank beroemd wees.” Dit was 2002 toe Bianca le Grange se 15 minute via Idols aangebreek het.

Fast forward 12 jaar. Dis 2014 en Bianca is steeds in die nuus. Ek is vyf minute laat vir ons onderhoud, maar sy is rustig. Sy kan seker bekostig om rustig te wees. Volgens my berekeninge het sy al oor die 420 000 stelle van 15 minute se roem geproe, so vyf minute dié of daai kant toe maak maar min verskil.

00:14:00
Dit was 2003 toe ek haar laas gesien het, by die KKNK. Sy was 21, ’n platinum-blondine op die kruin van haar Idols-sukses, energiek en aan die gang. Ek was 19, doodskaam en star-struck. Sy’t ’n ekstra kaartjie vir ’n balletvertoning gehad en iemand gesoek om saam te gaan. ’n Gemeen­skap­like vriend het my voorgestel. Ek kan nie onthou dat ek veel meer as twee sinne met haar gepraat het nie, maar almal om ons wou ’n stukkie van haar hê.

Vandag praat ons maklik. Sy is warm en spontaan. In haar 50’s-rokkie en hoëhakskoene lyk sy soos ’n pin-up-meisie of ’n strokiesprentpop. Haar stem klink nog presies dieselfde: hees en laag. As gekaramelliseerde bruinsuiker of stroperige heuning ’n klank gehad het, dan was dit só.

00:13:00
“Ek is 32 en BAIE single,” spot Bianca. Sy’t ’n vrolike geaardheid, maak grappies en lag baie. “My middelnaam is Joy, en dis my doel in die lewe. Om joyful te wees en mense gelukkig te maak.” Maar daar is iets anders as destyds. Die energie is steeds daar, maar sy’t ’n rustigheid, die aura van iemand wat tevrede is met waar sy in die lewe is. “Daardie eerste vier jaar ná Idols was dit net sing, sing, sing,” vertel sy. “Ek het geen tyd gehad vir familie, vriende of myself nie. My verhoudings het daaronder gely. Uiteindelik het ek besluit om my bestuur te verlaat en my eie maatskappy te begin. Ek was reg om verantwoordelikheid te vat vir my lewe.”

00:12:00
Die popwêreld, en veral die Pop Idols-fenomeen, is ’n mediamasjien wat talentvolle mense insluk, met blinkers bestrooi en vir 15 minute beroemd maak. Wat jy met jou 15 minute doen, is jou saak, solank jy die tonge los het, die kameras laat werk en die geld laat inrol. Maar wat jy ná jou 15 minute doen, is verál jou saak. Want dan gee niemand meer om nie. Daar is ’n oneindige ry hoopvolles wat agter jou hulle kans afwag om in die kalklig te tree. Maar dié wat agter Bianca gestaan het, staan steeds daar. Sy’t nog nie ’n oomblik padgegee nie…

00:11:00
“Die 15 minute van die afgelope twaalf jaar wat ek die graagste wil herleef, is toe ek die eerste keer my liedjie oor die radio gehoor het. Ek en my ma het in Johannesburg in die kar gery, en ons was nog besig om oor iets anders te praat toe dit begin speel en dit het ’n rukkie gevat om te kliek. Maar toe gil ek: ‘Ma, dis my song!’ Sy’t die kar net daar gestop en ons het uitgespring en in die straat gedans. Toe ek klein was, het ek altyd in die kerk in Riverlea op my ma se skoot gesit en kliphard gesing terwyl sy die orrel speel en hier het ons volsirkel gekom. ’n Leeftyd se drome en herinneringe is in daai oomblik vasgevang.”

00:10:00
Bianca het in Eldoradopark in Johannesburg grootgeword as een van drie kinders. Haar pa was ’n ketelmaker en haar ma ’n onderwyseres. “Soms wens ek ek kon 15 minute saam met my jonger self deurbring, veral in die tyd op hoër skool toe ek so verskriklik onseker en verward was. Ek sal myself heel eerste klap en sê: ‘Word wakker!’ Ek was in die National School of the Arts, waar ek klassieke klavier en viool studeer het. My ma-hulle het verskriklik gesukkel om my in daai skool te kry en my daar te hou. Hulle het swaargekry, maar ek het nie altyd besef wat ’n groot voorreg dit was om daar te kon wees en aan my kuns te slyp nie. Ek sal myself bietjie skud en sê: ‘Fokus! Fokus! Fokus!’ As ek tóé wakker geskrik het, was ek seker vandag al baie verder in my loopbaan.”

00:09:00
Waar sy nou is, is wel nie te versmaaie nie. Sy speel ’n hoofrol in David Kramer se verwerking van Willy Russell se toneelstuk Blood Brothers – dié van Mrs Johnstone, die ma van ’n tweeling wat by geboorte geskei word. Dis ’n tragiese karakter en ’n moeilike rol, maar die resensente eet uit haar hand:
“Le Grange se kragtige stem en wye register kom hier ten volle tot sy reg. Haar temalied, ‘Marilyn Monroe’, raak ’n refrein wat nog lank daarna in jou kop maal, en haar emosionele belegging in die karakter is indrukwekkend.”
– Marina Griebenouw, Die Burger
“[As] ’n sleutelkarakter in die drama is sy manjifiek. Sy gebruik haar kragtige stem om liedjies te sing wat ’n mens se siel aanraak en die finale bring trane na jou oë.”
– Peter Feldman, Artslink

00:08:00
“As ek ’n ekstra 15 minute het om iets uit dié stuk te repeteer, is dit juis die finale. Dis die hoogtepunt van die toneelstuk. Ek dink die heeltyd daaroor: oor wat ek met my lyf doen, hoe ek die woorde oordra, my stemtoon. Ek probeer dit elke aand nóg kragtiger speel. Mrs Johnstone het nie ’n voornaam in die oorspronklike stuk nie, maar ek het haar ’n naam gegee: Evelyn. Dis my ouma se naam. Met dié karakter bring ek hulde aan al die vroue wat ’n belangrike rol in my lewe gespeel het.”

00:07:00
Miskien is sy so goed omdat sy so lank vir dié kans gewag het. “Ek is ’n groot David Kramer-fan. My Afrikaanse album wat in 2004 opgeneem is, het ’n David Kramer-medley opgehad. Blood Brothers is ’n droom wat waar geword het.”

00:06:00
(Dit nou komende van ’n vrou wat al die verhoog gedeel het met van die grootste sterre in die wêreld. Sy het Madiba ontmoet: “Ek het in trane uitgebars toe ek agterkom hy weet wie ek is. Hy’t my ’n drukkie gegee en gevra: ‘Waar’s daai kêrel van jou?’ Dit was toe ek met Loyiso Bala uitgegaan het.” Sy’t ’n droom met Richard Branson gedeel – “Ek wil op die maan sing” – en Usher het haar eenkeer gegryp en oopmond gesoen voor 25 000 mense, terwyl haar kêrel droëbek toekyk.)

00:05:00
Sy was van die begin af ’n bietjie van ’n verkleurmannetjie; die jongste transformasie behoort niemand te verras nie. “My hare is mos elke twee weke heeltemal anders, en toe ek hoor ek het die rol in Blood Brothers gekry, was dit helderpienk. David het my een kyk gegee en gesê: ‘Jy kom nie na my teater toe met daai hare nie.’ Ons het besluit ek moet dit laat groei en natuurlik hou. En so het ek weer verander. Om natuurlik te wees, is ’n reinvention in itself.”

00:04:00
“Toe Idols gebeur het, het niemand geweet hoe om my te plaas nie. Ek maak diverse musiek, en dit was ’n probleem – hulle het letterlik nie geweet in watter afdeling van die musiek­winkels om my CD te sit nie. Ek wou nooit regtig ’n recording artist wees nie. Ek wou nog altyd teater doen. Ek wil goed doen wat my gelukkig maak.”

00:03:00
“Ek is mal oor Nina Simone se liedjie ‘Don’t Let Me Be Misunderstood’. Ek wil daai liedjie verstaan, want mense misverstaan my ook mos. Ek sal so graag net vir 15 minute saam met Nina wou sit en met haar praat oor daai liedjie. Dis vir mense moeilik om te glo ek is net ek: eerlik en joyful. Ek soek mos net lekker goete vir almal. En ek wil almal voer.”

00:02:00
Ek wonder wat dit is wat haar 15 minute só langdurig gemaak het, hoe sy haar loopbaan so lewendig hou. Ek vermoed dis oor sy aanhou droom. Haar kop is reeds vol planne vir die volgende 15 minute, haar volgende reinvention. “Ná Blood Brothers gaan ek ’n bietjie stil raak en tyd vir myself vat. Ek wil baie graag oorsee toneelspel gaan swot, by James Franco se dramaskool. Al wat ek oor die volgende 15 minute weet, is dat ek steeds net ek gaan wees, maar dit gaan gróót wees, en fenomenaal.”

00:01:00
Vyftien minute later, en ons is terug waar ons begin het, by Andy Warhol. Die man wat pop beter as enige ander mens verstaan het, het gesê: “Hulle sê altyd tyd verander dinge, maar jy moet dit eintlik self verander.” Bianca het dit in haar, die drif en die wil om dinge self te verander: “Ek wil die volgende David Kramer wees. Ek wil op die voorpunt wees van verandering en ontwikkeling in die kunste in Suid-Afrika. Ek weet dit gaan jare neem, maar ek is bereid om te werk.”

00:00:00
Dis Blood Brothers se derde speelvak en Bianca le Grange se 420 768ste siklus van roem. Sy bring haar kant. Sy verdien haar 15 minute in die kalklig. Lesley Stones skryf in The Daily Maverick: “Die hoogtepunt is ongetwyfeld Bianca le Grange as die ma, op wie se maer skouers ’n groot deel van die sukses van die stuk rus. Sy dra dit nie net nie, maar verhef dit en teen die einde, toe ’n traan begin dreig, was dit haar bewende stem wat dit daar gesit het.”
Sy bly dankbaar.
“Uiteindelik het my kuns betekenis. Dit is vermaaklik én dis betekenisvol.”  

* Blood Brothers is tot 29 Maart by The Fugard-teater in Kaapstad. Bespreek by Computicket.



We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
How often do you go to the cinema to watch new movies?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Often - nothing beats the big screen
2% - 28 votes
Hardly - I prefer streaming online
66% - 739 votes
Sometimes - it depends on the film release
32% - 356 votes
Vote
Rand - Dollar
19.15
-0.7%
Rand - Pound
23.82
-0.6%
Rand - Euro
20.39
-0.5%
Rand - Aus dollar
12.30
-0.5%
Rand - Yen
0.12
-0.6%
Platinum
950.40
-0.3%
Palladium
1,028.50
-0.6%
Gold
2,378.37
+0.7%
Silver
28.25
+0.1%
Brent Crude
87.29
-3.1%
Top 40
67,190
+0.4%
All Share
73,271
+0.4%
Resource 10
63,297
-0.1%
Industrial 25
98,419
+0.6%
Financial 15
15,480
+0.6%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE