Die beroep het hóm gekies en nie andersom nie, sê die 23-jarige Emile, en hy’s verheug dit het hom “gevind”. Hy spog nou immers met die titel van hoofsjef by die bekende sjef Reuben Riffel se restaurant Reuben’s by die Robertson Small Hotel in die Boland.
Emile, van Groendal, Franschhoek in die Wes-Kaap, het nie tersiêre opleiding as sjef gehad nadat hy in 2006 by die Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl gematrikuleer het nie, maar het vinnig gewys wat in hom steek. “My ouers kon nie studiegeld bekostig nie. Ek het in 2007 by die Môreson-wynlandgoed op Franschhoek begin werk, waar ek druiwe gepluk en gepars het. Dis toe dat ek deur Susan Huxter, eienaar van die Le Quartier Français-hotel en die Bread and Wine Restaurant op Môreson, ‘ontdek’ is.
“Ek was besig om deur ’n heining te loer om te sien wat die charcuterie- (koue vleise) sjef Neil Jewell besig was om te berei toe Susan op my afkom. Sy’t my net daar opleiding by haar vyfsterhotel aangebied. Dit was tydens my leerskool by haar wat ek vir Margot Janse, die bekroonde hoofsjef van Le Quartier Français en sjef Chris Erasmus van Pierneef à La Motte ontmoet het, en my passie vir kook het toe behoorlik vlamgevat,” vertel ’n geesdriftige Emile.
Kort daarna, in 2008, het sy loopbaan by Reuben’s op Franschhoek begin – nogal as kroegman. Daarna het hy homself vinnig opgewerk tot kelner en later assistentsjef. “Ek het verveeld geraak as kelner en een Sondagmiddag vir Reuben gevra of hulle nie ’n ekstra hand in die kombuis nodig het nie. Ek moes hom die volgende oggend gaan sien en hy’t vir my ’n sjefbaadjie en ’n sak aartappels van 10 kg gegee en gesê ek het tien minute om alles te skil en sewe dae om myself in die kombuis te bewys. Ek het dit reggekry – ek het nie ’n keuse gehad nie. Ek’s innig dankbaar vir die geleentheid…”
Emile het altyd met ’n notaboekie rondgeloop en neergeskryf wat die sjefs doen. “By Reuben het ek veral geleer hoe om kos te verstaan en dit op die regte manier te berei en gaar te maak. Ek leer en eksperimenteer steeds elke dag. As daar iets is wat ek nie weet nie, gaan soek ek dit op en probeer dit dan onthou. Dis hoe ek van myself ’n beter sjef maak.
“En ja, dit ís baie, baie harde werk met baie verantwoordelikhede, maar dis alles die moeite werd,” sê hy.
“Dis vir my ’n groot eer en die beste van alles is: I’m just having fun. Daar’s niks beter as jy ’n bord kos uitstuur na ’n tafel en die gas knik sy kop op en af, of maak sy oë toe ná sy eerste hap nie. Dis altyd my gelukkigste oomblik.”
Emile speel ook in sy aftyd PlayStation 3, is versot op motors en woon gereeld motorskoue by.
Oor die verre toekoms het hy nog nie juis gedink nie…
“Ek dink dit sal lekker wees om eendag my eie restaurant te kan oopmaak – hoe klink Emile’s vir jou?” skerts hy.
Wat is jou droomkar?O, ’n Audi S3. Dis klein maar getrein.