MyRapport WEBWERWE/DIENSTE >

Laat die Spele begin

Deur: Saamgestel deur Ilse Salzwedel en Fanie Heyns 2012-06-23 15:52
VOORBLADPERSOONLIKHEID
MOEGEMAT SHAHIEM ROGERS
Fakkeldraer by die 2012 Olimpiese Spele


Shahiem Rogers het nooit gedink hy sou as 18-jarige oorsee kon reis en nog minder dat hy deel sou wees van een van die wêreld se grootste sportgebeurtenisse nie.

Hy’s deur sy skoolhoof benoem en voor hy sy oë kon uitvee, was die rankerige tiener op pad Londen toe. Daar dra hy die Olimpiese fakkel in Nottingham as deel van ’n afloswedloop in die aanloop tot die 2012 Olimpiese Spele wat op 27 Julie amptelik in Londen begin. Altesaam 139 fakkeldraers dra al van 19 Mei die fakkel deur Engeland.

En Moegamat Shahiem Rogers, ’n leerder van die Hoërskool Mount View in Hanover Park op die Kaapse Vlakte, verteenwoordig Suid-Afrika wanneer die Afrika-atlete vandeesweek oorneem.

Vir die skaam tiener was die gedagte aan wat voorlê amper nog te groot toe ons kort voor sy vertrek gesels het. Hy’t trots vertel hoe sy skoolhoof, Archie Benjamin, sy naam op die lys gesit het as een van die aanspraakmakers vir die 20 plekke wat beskikbaar was vir leerders wêreldwyd om ’n fakkeldraer te wees. Dis deel van ’n internasionale projek vir jongmense, International Inspiration, wat onder die Spele se vaandel op die been gebring is en wat sport gebruik om kinders se lewens te verryk.

“Ek hardloop vir 400 meter en dan gee ek die fakkel oor aan die volgende persoon. Dis ’n eer om ’n sportambassadeur vir Suid-Afrika én my skool te wees. Duisende kinders is van verskillende skole in die land benoem en ek is al een wat kan gaan.”

Hy’t van oor tot oor geglimlag, maar was ook ’n bietjie hartseer dat sy tweelingsuster, Shahiema, wat ook benoem is, nie kon gaan nie. Slegs een leerder kon gekies word.

“Maar sy ondersteun my 100%,” het hy gou laat val.

Shahiem glo hy’s gekies “oor die rol wat ek in die gemeenskap en die skool speel met sportleierskap”. Dié jong presteerder neem al van kleins af aan verskeie sportsoorte deel. “Ek’s die vinnigste atleet by die skool en ek het laas jaar die WP-rekord gebreek vir vryslag – jy kan dit op Google gaan kyk!” En dan is hy nog sy skool se toppresteerder in matriek ook.

“My skool se leuse is: ‘Streef na sukses’ en ek leef daarvolgens. Ek sien myself oor 10 jaar as ’n suksesvolle sportman óf sakeman. Ek wil ’n mooi kar ry – ’n Mercedes-Benz of ’n BMW – en ek wil ’n groot huis hê met ’n swembad, ver van Hanover Park af. Dít dryf my om ’n sukses van my lewe te maak.” – Cherice Smith

Die fakkel & die vlam

1928
Die Olimpiese vlam word by die opening van elke Spele met ’n fakkel aan¬ge¬steek en tydens die af¬sluiting uitgedoof. In antieke tye is die fakkel aange¬steek deur sonlig met spieëls daaop te laat val.

1936
Die heel eerste fakkelloop vind plaas voor die Berlyn-spele. Die fakkel word sedertdien voor ’n Spele altyd in Olimpia aangesteek en dan per aflos deur ’n klomp lande geneem na die stadion waar die Spele plaasvind.

1952

Die eerste Winterspele met ‘n fakkel vind plaas in Oslo, Noorweë. Die vlam word nie in Olimpia aangesteek nie, maar in die kaggel van Sondre Norheim, ‘n ski-pionier.

1996
Muhammad Ali,  legendariese  Amerikaanse bokser,  voomalige swaagewig-wêreldkampioen en BBC en Sports Illustrated se Sportman van die Eeu, steek die Olimpiese vlam aan.

2004

Die Olimpiese fakkel reis vir die eerste keer na al die vastelande, ook Afrika. In SA het die fakkel selfs in die hande van oudpresident Nelson Mandela ’n draai gemaak op Robbeneiland.

2012

’n Soldaat wat in Afganistan gewond is, Brittanje se oudste brandweerman (63) en ’n 100-jarige vrou is onder die 7 300 mense wat die Olimpiese fakkel byna 13 000 km ver deur Brittanje sal dra voor vanjaar se Spele in Londen.

        
AFTEL TOT DIE SPELE
30 Olimpiese oomblikke

Op Vrydag 27 Julie 2012 is dit sulke tyd in Londen! En die leuse in Latyn is Citius, Altius, Fortius. Oftewel: vinniger, hoër, sterker.

Geskiedskrywers verskil oor presies hóé die antieke Olimpiese Spele ontstaan het.

Volgens een Griekse legende het die god  Herakles (Hercules vir die Romeine) ’n wedloop op die vlakte van Olimpia gewen en opdrag gegee dat die resies elke vier jaar herhaal moet word.

’n Ander legende lui dat Zeus, die god van die lug en heerser van die gode van die berg Olimpus, self die sportfees ingestel het nadat hy Kronus verslaan het in die stryd om die  oppergesag van die hemel.

’n Derde weergawe is dat dit net ’n plaaslike godsdienstige plegtigheid was totdat Iphitos, die koning van die Elis-streek, waar Olimpus geleë is, dit tot ’n propperse fees vir alle Grieke verklaar het.

Hierna word dit ’n sportfees ter ere van al die Heleense (Griekse) gode, maar veral Zeus.


1, 776 v.C.

Eerste Antieke Olimpiese Spele in die Griekse dorp Olimpia.

2,  393 n.C.
Romeinse keiser Theodosius verbied die Spele weens die heidense oorsprong daarvan. Daarna verwoes twee aardbewings die geboue van Olimpia en ’n oorstroming begrawe die bouvalle onder dik lae slik en gruis. Maar die saadjie van mede¬dingende sport is gesaai…

3.  1894
Pierre de Coubertin, Franse aristokraat, besluit om die Olimpiese Spele te laat herleef, elke vier jaar in ’n ander wêreldstad. Hy glo sport kan vrede tussen lande bevorder. (Wou Spele beperk tot mans en ryk amateurs.)

4. 1896 Athene
Eerste Olimpiese Spele,  heel gepas weens die Griekse oorsprong, in Athene. Net  311 mansatlete neem deel.

5.  1900 Parys
Die tweede Olimpiese Spele, ter ere van De Coubertin, strek oor vyf maande! Twaalf vroue is onder die 1 318 atlete wat deelneem.

6.  1904 ST. LOUIS, VSA
Eerste keer dat Suid-Afrikaners (trouens, enigiemand uit Afrika) aan Spele deelneem. SA verteenwoordig deur twee swart atlete, Len Tau en Jan Mashiani (verkeerdelik deur die Amerikaners Lentauw en Yamasani genoem). Hulle was saam met genl. Piet Cronjé by ’n internasionale uitstalling in die stad. Net 625 atlete uit 13 lande daag op – onder hulle agt vroue – en almal by die uitstalling is genooi om deel te neem. Tau en Mashiani was saam met genl. Cronjé in die oorlog én op St. Helena as krygsgevangenes. Hulle het die marathon kaalvoet gehardloop. Tau eindig negende, Mashiani dertiende. Volgens oorlewering het Tau ses kosbare minute verloor – hy’s deur ’n hond gejaag en het die roete byster geraak – en volgens ’n ander weergawe is albei deur ‘n hond gejaag.

7.  1908 Londen
Suid-Afrika (sambreelterm vir die vier Britse kolonies) neem vir die eerste keer amptelik deel, met 15 deelnemers. Reg Walker wen die 100 m – ons eerste goue medalje. Groen hemde met ’n geel springbok op die bors is vir die eerste keer as nasionale drag gedra.

8.  1912 Stockholm
21 Suid-Afrikaners (almal mans) is onder ’n rekordgetal van 2 546 atlete uit 28 lande wat deelgeneem het (onder hulle 55 vroue). SA wen 8 meda ljes.

9.  1916 Berlyn
Die lande wat in die Eerste Wêreldoorlog baklei, steur hulle min aan die antieke tradisie dat alle oorloë tydens die Spele gestaak moet word. Die Berlyn-spele van 1916 bly in die slag.

10.  1920 ANTWERPEN
Swemmer Blanche Nash is die eerste vrou wat SA by ’n Spele verteenwoordig. Ons trots is egter Bevil Rudd, voormalige Rhodes-beurshouer by Oxford, wat ook vir dapperheid in die Eerste Wêreldoorlog vereer is. Rudd wen goud, silwer én brons – die eerste (tot dusver enigste) Suid-Afrikaner wat dit kon regkry. Die Sweedse skut Oscar Swahn verwerf ’n silwermedalje op 72-jarige ouderdom. Hy is die oudste Olimpiese medalje-wenner. SA se Henry Nourse word ons eerste lid in die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK).

11.  1924 Parys
Dié agtste Spele vorm die agtergrond vir die fliek Chariots of Fire. Die eerste Winterspele word gehou, rugby en tennis vir oulaas deel van die Spele. (Tennis weer sedert 1988 ’n Olimpiese sport.)

12.  1928 AMSTERDAM
Ná De Coubertin se aftrede as IOK-president is die Spele vir die eerste keer oop vir vroue in baan- en veldnommers. SA stuur vyf vroue-swemmers, Marjorie Clarke word eerste vrou wat SA in atletiek verteenwoordig. SA se vroue-aflos-swemspan wen bronsmedalje en Clarke eindig vyfde in hoogspring.

13.  1932 Los Angeles
Twee van SA se tien atlete is vroue: weer Clarke, en Jenny Maakal, ’n swemmer wie se ma ’n tweede verband op hulle huis moes uitneem om haar onkoste te betaal. Maakal haal in albei haar items die eindronde, wen ’n bronsmedalje, maar was bang haar ma sou hulle huis verloor. Haar spanmaats, boksers Lawrie Stevens en Dave Carstens, hou by hulle terugkeer na SA ’n bokstoernooi en samel genoeg geld in om die tweede verband te betaal.

14.  1936 Berlyn

Tydens die sg. Nazi-spele was Hitler se diktatorskap op sy kruin. Ironies genoeg wen ’n swart Amerikaanse atleet, Jesse Owens, vier goue medaljes. Een van die SA deelnemers was die bokser Robey Leibbrandt, wat ná die Spele by die Duitse weermag aansluit. Hy’s in 1941 na SA gestuur om die Smuts-regering omver te werp en Smuts te vermoor, maar word in 1943 gevang deur mede-Springbok-bokser, sers. Claude Sterley, en in 1943 ter dood veroordeel op aanklag van hoogverraad. Smuts begenadig hom en in 1948 word hy vrygelaat.

15.  1940
Die Spele sou oorspronklik in Tokio plaasvind, maar is weens die Tweede Wêreldoorlog na Helsinki verskuif. Ná die  Russiese inval in Finland het die IOK egter besluit om die Spele te kanselleer.

16.  1944

Die IOK vier sy 50ste bestaansjaar in Lausanne, Switserland. Die 13de Spele, wat in Londen sou plaasvind, sneuwel in die voortslepende oorlog. Krygsgevangenes in ’n Poolse konsentrasiekamp hou  ’n simboliese mini-Olimpiese Spele.

17.  1948 LONDEN

’n Nederlandse vrou en ma van twee, Fanny Blankers-Koen (30), was die ster van hierdie Spele met vier goue medaljes. “Die vlieënde huisvrou” was boonop swanger. Sy’s later aangewys as Vroueatleet van die Eeu.  


18.  1952 Helsinki
Rusland neem vir die eerste keer sedert 1912 weer deel, Duitsland en Japan vir die eerste keer sedert die oorlog. Die man bekend as die Tsjeggiese Lokomotief, Emil Zatopek, wen die 5 000 m en 10 000 m. Hy wen ook die marathon. Ons eie Esther Brand (29) word die eerste SA vrou wat ’n goue medalje wen (hoogspring)  en Joan Harrison (16) wen ook goud vir SA in die 100 m-rugslag.

19.  1956 Melbourne
Eerste Olimpiese Spele ooit in die Suide¬like Halfrond, ook die eerste waar die Spele ’n politieke speelbal word. Drie lande boikot weens Russiese bedrywighede in Hongarye, en drie lande onttrek weens Suez-krisis, al verklaar die IOK-president, die Amerikaner Average Brundage, dat die Spele ’n kompetisie tussen individue en nie tussen nasies is nie.

20.  1960 Rome
Die Olimpiese jaar wat SA liefs wil vergeet. Voor die Spele is vir die eerste keer amptelike vrae gevra oor die eksklusiewe wit SA spanne. ’n Mosie word aanvaar om ons uit Spele te verban, maar die IOK word die versekering gegee dat SA ’n paspoort sou uitreik aan enige Suid-Afrikaner wat vir Olimpiese span gekies word. Die span is egter weer lelieblank.

21.  1964 Tokio

Eerste Spele waaraan Suid-Afrika nie mag deelneem nie weens
die amptelike regeringsbeleid dat wit en swart nie saam aan sport mag deelneem nie en dat net wittes toegelaat word om SA op sportveld te verteenwoordig.

22.  1968 Mexiko-stad
SA hertoegelaat ná toegewings en beloftes deur die regering. Verskeie Afrikastate dreig met Spele-boikot as SA deelneem en SA se uitno¬diging word teruggetrek. Bob Beamon verpletter die wêreld- en Olimpiese verspringrekord met ’n sprong van 8.90 meter. Dis agterna in ’n boek deur Dirk Schaap bestempel as die “volmaakte sprong” en steeds ’n Olimpiese rekord.

23.  1972 München
Bekend as die München Massacre. Elf Israeliese atlete en afrigters word deur Swart September, Palestynse terroristegroep, gyselaar geneem. Eis vrylating van 234 Palestyne in Israelse tronke. Die terroriste skiet al die gyselaars en ’n Wes-Duitse polisieman dood. Vyf van die agt terroriste deur polisie doodgeskiet. Te midde hiervan wen die Amerikaanse swemmer Mark Spitz sewe goue medaljes.

24.  1980 Moskou
Nadat die Brit Steve Ovett die goue medalje in die 800 m gewen het, het hy gespog hy het ’n 90 persent kans om die 1 500 m ook te wen. Maar landgenoot Sebastian Coe het hom sy woorde laat sluk. Ovett was derde.

25.  1976 Montreal
Die 14-jarige Roemeense gimnas Nadia Comaneci verstom die wêreld deur ’n volmaakte 10 uit 10 op die ongelyke brug te behaal.

26.  1984 Los Angeles

Zola Budd (18) neem as Britse burger deel. Pootjie per ongeluk Amerikaanse gunsteling Mary Decker in die  3 000 m. Uitgejou deur skare van omtrent 90 000, hardloop opsetlik stadiger om nie te wen nie en eindig sewende. (Vertel later sy’t nie kans gesien om op die podium uitge-jou te word nie.) Amerikaner Carl Lewis wen vier goues.

27.  1992 Barcelona
Ná Nelson Mandela se vrylating, 1990, was dit duidelik ’n demokratiese Suid-Afrika is nie ver weg nie. SA word deur IOK genooi om aan Barcelona-spele deel te neem. Elana Meyer kry silwer  in die 10 000 m vir vroue.

28.  1996 Atlanta
Penny Heyns wen twee goue medaljes vir swem, Josia Thugwane wen die Olimpiese marathon.

29.  2004 Athene
Als gebeur in die swembad! Die 19-jarige Amerikaanse swemsensasie Michael Phelps wen ses goue medaljes en twee brons. Die SA swemmers Roland Schoeman, Ryk Neethling, Dorian Townsend en Lyndon Ferns wen goud in die 4 x 100 m-vryslag-aflos.

30.  2008 Beijing
Natalie du Toit word eerste gestremde swemmer wat kwalifiseer vir Olimpiese Spele. Verspringer Khotso Mokoena wen SA se enigste medalje, silwer. Swemmer Michael Phelps oortref Mark Spitz se 1968-rekord en word die eerste Olimpiese ster wat agt goue medaljes by een Spele wen.

Bronne:  sahistory.org.za; Sapa-AFP; wikipedia.org; volksblad.com; beeld.com; mieliestronk.com; myfundi.co.za

«Terug