Jy’t pas die 2012 Shoprite Checkers Vroue van die Jaar-toekenning in die kategorie gesondheidsversorgers gewen. Wat beteken dit vir jou? Dit is ’n ongelooflike eer en sou nie moontlik wees sonder die hulp van my span nie en ek bedank hulle. Ek het 12 jaar gelede hierdie reis onder baie tragiese omstandig-hede begin toe my 17-jarige seun Chris Corlett oorlede is en ek voel dié toekenning gee erkenning aan alles waardeur hy is om dinge makliker te maak vir leukemielyers. Ek moet my dogter, Tarryn (27), bedank, wat op 11-jarige ouderdom na my jaar oue baba, Jason (hy word binnekort 16), gekyk het sodat ek by die hospitaal kon wees met Chris. Ek is ook baie dankbaar aan Shoprite Checkers vir hierdie ongelooflike platform om ons werk te versterk, want dit sal uiteindelik sorg vir ’n groter Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR).
Wat het jy voor hierdie werk gedoen? Verkope en bemarking in die subtropiesevrugte-bedryf. Ek was aanvanklik ’n verpleegster by die Johannesburgse Algemene Hospitaal en ek het daarna skakelwese studeer. Die verskeie werke het my in sekere opsigte toegerus met die nodige vaardighede om hierdie stigting te bestuur.
Hoe het julle tot nou toe gegroei? Dit het in 1999 baie klein begin in my spaarkamer en is amptelik geregistreer in 2000. Vandag het ek die ondersteuning van 17 personeellede. Die getal beenmurg-stamsel-skenkers in Suid-Afrika het sedertdien toegeneem van sowat 800 skenkers op die SABMR tot meer as 65 000 in 2012.
Wat is jou trotsste oomblik nóg? Elke suksesstorie. En veral die viering van ons 10de bestaansjaar in 2010.
En jou moeilikste oomblik? As ’n pasiënt sterf, want ons weet die register is steeds nie groot genoeg nie. Geldinsameling is besonder moeilik en dit is baie teleurstellend as trusts soos Lotto ’n aansoek vir befondsing afkeur. Daar is gelukkig wonderlike organisasies en mense wat verstaan wat ons wil bereik en hulle inspireer my.
Hoe ontspan jy? Ek en my kinders kuier graag saam oor naweke. Ons probeer ook om jaarliks weg te breek see toe. Ons het die afgelope twee Kersfeeste by Brittaniabaai aan die Weskus gaan uitspan.
As jy enigiets in die land kan verander, wat sal dit wees?Die regering moet kanker in sy geheel op die gesondheidsagenda prioritiseer. Daar moet ook ’n doeltreffende algemene kankerregister saamgestel word sodat almal wat dié tipe werk doen toegang het tot akkurate statistiek wat ons kan help.
Wat fassineer jou? Filosofie. En ek geniet nuwe ervaringe en nuwe mense – ek word geïnspireer deur hoe ander die wêreld sien.
Wat wil jy nog bereik? My wens is vir alle Suid-Afrikaners om verantwoordelikheid te neem en ’n skenker te word – as hulle kan – om sodoende by te dra tot die bou van ’n groter register. ’n Been-murgregister wat al ons etniese groepe verteenwoordig, is belangrik vir elkeen van ons. Ons weet nooit wanneer iemand na aan ons ’n beenmurgoorplanting nodig kry nie.
The Sunflower Fund (www.sunflowerfund.org.za, 0800 12 10 82)
Wat doen jy op ’n Sondagoggend?Ek lê ’n bietjie langer in die bed en lees sonder enige druk of sperdatums. En my absolute hoogtepunt is as iemand vir my ’n koppie koffie in die bed bring. En ’n lekker ontbyt met my kinders. Eggs Benedict is my gunsteling!