MyRapport

Moderne Maniere: Die gesig van die jong Afrikaner

Deur: Eckhard Cloete 2012-06-23 15:52
Wie is die jong Afrikaner en hoe lyk hy? het Roelof Petrus van Wyk gewonder. Totdat hy begin foto’s neem het wat nou as ’n uitstalling wêreldwyd aandag trek en binnekort in boekvorm verskyn. Eckhard Cloete, self een van die onderwerpe, vra hom wat hy sien as hy deur die kamera kyk.

Die eerste foto in sy boek slaat jou tussen die oë soos die wit Hoëveldse winterson as jy jou sonbril vergeet het. Jy dink nog jy kyk vir Michelle Bekker, maar dan kyk sy vir jóú. Haar opaalblou oë déúr jou.

Hoe langer jy kyk, hoe ongemakliker word die blik. Hier is iets vreemds aan die gang. Iets ontstemmends. Jy sien die litteken op haar wang raak, die fyn sonvlekkies  op haar rug. Niks ontgaan die kamera se sober lens nie. Sy is spierwit teen die swart agtergrond. Weerloos. Dan besef jy:

Dis nie na Michelle wat jy kyk nie. Dis na jou eie opvattinge van hoe Afrikaners behoort te lyk.

En dis presies wat Roelof Petrus van Wyk met sy fotografiese werk, Jong Afrikaners: ’n Selfportret, beoog het. Die projek  bestaan uit twee fases. Die eerste is ’n uitstalling van die foto’s (opgeblaas tot twee keer lewensgrootte) by die galery Commune 1 in Communestraat, Kaapstad. Die tweede fase is die boek, wat in Julie uitgegee word deur FOURTHWALL books in Amerika. Dis ’n projek wat oor die drie jaar terug begin het. En dis een wat nie net Afrikaners laat regop sit nie.

“Joernaliste uit Berlyn soek my lyf. Die ding brand, boetie!” laat weet Roelof my oor Facebook chat. Ja, dis ’n goeie idee dat jy jou tape recordertjie saambring vir die onderhoud, sê hy. “Want as ek eers begin rol, is die pen te stadig. En nog ’n ding, bring jou brein.”

Goeie raad. Want die man se geweer is gelaai. En hy skiet nie blanks nie. As hy begin praat in die sjiek Japannese restaurant in die hart van Kaapstad, moet jy byhou.

“Wanneer ek praat oor ‘jong’ Afrikaners, gaan dit nie net oor tieners of twintigjariges nie. Dit gaan oor ons groep mense – die jongste generasie van 360 jaar se hier-wees.

“Die projek is eintlik ’n manier om te dink oor hoe dit is om wit te wees in Afrika. Hoe om ’n wit ‘African’ te wees met die geskiedenis van die Afrikaner as jou bagasie. En ek het agtergekom dat mense op ’n baie positiewe manier daarmee begin deal.”

Die keuse van mense wat afgeneem is, sê heelwat hieroor. Roelof het altesaam 48 mense se portrette in die boek opgeneem. Van hulle is vriende. Van hulle is kollegas.

Van hulle het hy laatnag raakgedrink. Van hulle, soos Yo-landi Vi$$er, het wêreldbekend geword nadat sy afgeneem is. Ander se stories moet ’n mens self gaan naspeur.

Daar is doelbewus besluit om nie biografiese gegewens van die onderwerpe in te sluit nie, want hy gee nie inligting met ’n lepel in nie, sê Roelof. ’n Wit sangoma. ’n Opkomende meubelontwerper. ’n Voormalige studente-anti-apartheidsaktivis. ’n Loopplankmodel.

Maar elkeen se lewe sê iets van wat dit is om vandag ’n Afrikaner te wees. En deur sy assosiasie met hulle ook iets oor wie Roelof Petrus van Wyk is. Want al is Jong Afrikaners ’n ”selfportret”, verskyn daar nie ’n enkele foto van Roelof self in die boek nie.

In my gesprekke is hy huiwerig dat sy persoonlike verhaal die fokus moet wees. Sê net hy is in 1969 gebore, het grootgeword op Kinross in die ou suidoos-Transvaal – die seun van ’n kerkorrelis, en woon nou in Johannesburg.

Sy werk, wat “in die ruimte tussen argitektuur en kuns tuisgaan” en al in die V&A Museum in Londen uitgestal is en nou selfs die Museum of Modern Art in New York aan sy deur laat klop, dís die belangrike ding. 

Oor sy werkswyse vir die projek sê hy: “Ek neem gemiddeld 100 foto’s per persoon. Ek kies die beeld wat ek voel die mens versinnebeeld. Tydens my keuse besef ek ek voel iets wanneer ek na ’n spesifieke foto kyk.”

Hy het nooit probeer om mense mooi te maak nie. “As daar ’n zit was, is daar ’n zit.”

Maar dis ook nie dokumentêre fotografie nie – hoewel die vroeë foto’s van Afrika-stamme wat die Duitse etnograwe soos Gustav Fritsch geneem het die manier waar¬op hy na sy onderwerpe gekyk het, beïnvloed het.

“Ek sien dit eerder as skilderwerk as fotografie. Ek is nie ’n fotograaf nie. Ek weet net wat werk vir my. In my kop het ek ’n beeld en ek werk óm dit. Die kamera is net ’n kwas.”

Die boek word uitgegee saam met ’n teks in dramavorm, wat spesiaal in opdrag vir die boek deur Stephanus Muller geskryf is en voorin die boek op Bybelpapier gedruk is.
“Die teks is ’n manier om die leser in te nooi vir ’n koppie tee, om die gesprek oop te maak en die beelde as ’t ware ’n klankbaan te gee… die hele projek is ’n konstruksie wat ons toelaat om te praat oor groter gedagtes as net die mens op die foto.”

Ek pols Roelof om verder te praat oor die Afrikaner se plek binne Afrika in post ’94 Suid-Afrika.

“Ek sê altyd vir mense: I’m not African. I’m an African. Met ander woorde, ek is in Suid-Afrika, 12 generasies hier begrawe, ek behoort aan Afrika. Ek is nie African in die genetiese sin nie. Maar ek is ook nie ’n Europeër nie. So ek is ’n Afrikaan. Daar is soveel verskillende groepe en almal is African. “Afrikaners hóórt hier en ons is nader aan die ander kulturele groepe in Suid-Afrika as wat ons dikwels dink. Maar as jy jouself afsonder, sterf jy.”

Ek kyk weer na die portret wat Roelof Petrus van Wyk van my geneem het. My brose wit velletjie teen die agtergrond van Afrika se grenslose swart nag. Die gelaatstrekke van die Taljaarts en die Swiegerse en Schuttes en Cloetes en wie weet watter families nog ingebed in die been van my gesig. En ek besef: Uit hierdie land ontsnap ’n mens nie sonder om ’n deel van jou lyf agter te laat nie. 

•    Die uitstalling open 28 Junie.



Meer Berigte in MyTyd

«Terug