PROBEER DIT BY DIE HUIS
Die 1 Leg Deadlift
Dit maak jou hele lyf sterker en is veral goed vir swak knieë en kernspiere (maag en laerug).
Staan met jou bene heupwydte uitmekaar en jou knieë effens gebuig. Buig effens vooroor en lig een been agtertoe op. Fokus op een plek en trek jou maagspiere saam om jou te help om jou balans te hou. Maak die gebuigde been stadig reguit na agter toe en strek jou arms na die vloer toe – strek dus jou rug uit terwyl jy op
een been balanseer. As jy meer vertroud raak, probeer om jou agterste been so reguit moontlik te maak en jou lyf parallel met die grond te kry.
Hou só vir vyf tellings en ruil dan kante. Herhaal vyf tot 15 keer op elke been. Wanneer jy die basiese beweging onder die knie het (dit kan ’n maand of twee duur), voeg handgewigte by om jou kernspiere verder uit te daag.
VOORDELE VAN BOOT CAMP
Jy oefen ’n paar liggaamsdele tegelyk. En hoe meer spiere jy gebruik, hoe meer vet verbrand jy.
Jy sien vinnig resultate. Interval-oefening word toegepas, wat bekend is daarvoor dat dit vinnig fiksheid en spiere bou en gewig help afskud.
Groepsessies is elke dag anders, sosiaal en pret.
WEN-WENKE
Buitemuurs is koning!
Boot camp vind buite plaas, so daar’s vars lug en hope vitamien D van die son! As jy buite oefen, kan die sessies meer variasie hê, en om op natuurlike terrein te oefen sorg vir ’n meer om-vattende oefensessie.
Voel jy bedruk?
’n Oefensessie wat jou hele lyf betrek, sal jou minder blou laat voel. Oefening stel stres-hormone soos kortisool en adrenalien vry. Dié hormone laat jou sommer dadelik beter voel.