MyRapport WEBWERWE/DIENSTE >

Resep: Heleen se hoender en patats

Deur: Deur Fanie Heyns 2012-06-16 16:05
Ek onthou patats as deel van ’n Sondagmiddag-ete uit my kinderdae. My pa het altyd met sy Sondagklere aan ’n voorskoot aangesit en dan die geroosterde vleis of heel hoender in netjiese skywe of porsies gesny – my pa kán vleis sny. As daar patats vir groente was, was ek in my element.

Min groente kan kers vashou by ’n pers patat, in sy skil gebak tot dit murgsag en karamelkleurig is, so met sy eie soetigheid, sonder ’n spul suiker en botter oor.
Hierdie hoender-en-patatresep herinner my aan sulke etes. Dis maklik om te maak en altyd ’n treffer.

Uit Kos is op die tafel! (Lapa-uitgewers, R190)

Oondgeroosterde hoender met heuning en patats

2 groot uie, middeldeur en
in wiggies gesny
3 knoffelhuisies, in dun skyfies gesny
750 g patats met die skil,
in groot blokkies gesny
1,5 kg heel hoender of
8 hoenderdye
60 ml heuning
45 ml suurlemoensap
30 ml balsamiese asyn
8-10 dun repies suurlemoenskil
100 ml hoenderaftreksel
50 ml droë witwyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
10 takkies elk vars roosmaryn en tiemie

1 Verhit die oond tot 180 °C. Sit die uie, knoffel en patats in ’n groot oondpan en sit die hoender in die middel tussen die groente.
2 Meng die res van die bestanddele, behalwe die roosmaryn en tiemie, saam. Geur die hoender en gooi die heuningmengsel oor. Sit die takkies kruie oral tussen die hoender en groente en bedek die pan met foelie.
3 Rooster die hoender vir 30 minute en haal dan die foelie af. Skep van die sous bo-oor die hoender en groente en rooster nog 30 minute (sonder die foelie) of tot die hoender goudbruin en gaar is. (Porsies hoender sal binne 40 minute gaar wees.)
4 Sit voor met couscous, vars brood en ’n slaai. Elke druppel van dié sousie wil ’n mens met ’n stukkie brood opvee.  

Wyn-idee
’n Riesling sal wonderlik wees by dié hoendergereg. Die riesling-kultivar is bekend vir sy vars groenappel-, blomagtige en selfs suurlemoengeure wat met ouderdom heuningagtig word. Probeer Hartenberg of Paul Cluver se riesling. – Elona Hesseling

«Terug