Novak Djokovic (25) het homself die afgelope jaar gevestig as die wêreld se voorste tennis¬speler en het Wimbledon (2011), die Amerikaanse Ope (2011) en die Australiese Ope (2012) agtereenvolgens gewen. Sy rekord van 70 seges en net ses nederlae in 2011 word beskou as een van die bestes in die moderne era. Kevin Curren, ’n voormalige Wimbledonse en Australiese Ope-finalis, ontleed Djokovic se dubbelarm-handrughou.
1. Geprogrammeer vir uitnemendheidAs ek die volmaakte handrughou met die dubbelarm-greep wil programmeer, sal Novak s’n seker die naaste daaraan kom.
In die huidige era verkies baie spelers die dubbelarm-handrughou, want jy het net ’n kort terugswaai nodig en meer beheer.
Wat Novak se hou so goed maak, is sy verskeidenheid. Hy kan dit plat en met krag en spoed slaan óf met bodraai moker. Dan kan hy dit dwarsbaan langs of teen die lyn af stuur. Hy kan ook een hand van die raket haal en die bal met ’n handrug-kerfhou speel.
Of hy kan op die laaste oomblik die bal met ’n dubbelarm-greep met ’n aanvallende lughou oor sy teenstander se skouer stuur. Hy kamoefleer dit sodat dit lyk of dit ’n grondhou gaan wees.
2. Atletiese talentWat Novak se dubbelarm-handrughou goed maak, is dat hy spelers wat met hulle groot bodraai-voor¬arm¬hou hom wil “boelie”, daarmee kan neutraliseer.
Hy slaan die bal terwyl dit aan die klim is en ver¬ander terselfdertyd van rigting.
Dit verg wonderlike atletiese talent om die bal te slaan terwyl dit klim en dit verg ook spesiale hand-oog-koördinasie om die rigting te verander en dit langs die lyn af te lanseer.
Daardie hou langs die lyn af word plat en sonder bodraai gemoker en dit gee die teenstander feitlik geen tyd om terug te slaan nie.
3. KamoefleringNiksvermoedende teenstanders wat ’n naderhou speel en net toe beweeg, loop hulle vas teen Novak aan die handrugkant. Hy kan die rigting van sy hou baie goed versteek. Jy weet nooit vooraf watter kant toe nie, want hy kan ewe maklik met sy dubbelarm-handrughou ’n plat hou teen die lyn af speel, of hy kan dit met bodraai dwarsbaan langs stuur.
4. Wapen van massavernietigingNovak gebruik daardie hou met groot welslae teen al die top-spelers. Hy het byvoorbeeld vir Rafael Nadal, die wêreld se naasbeste speler, in ses eindstryde agtereenvolgens in 2011 slae gegee, en veral daardie hou het hom gehelp om op die voorvoet te kom. Rafael weet nou al dat wanneer hy nie met sy eerste afslaan slaag nie, sy tweede afslaan onder druk kan kom van Novak se dubbelarm-handrughou. Gevolglik neem die Spanjaard ’n bietjie vaart van sy eerste afslaan af en slaag hy met ’n groter persentasie eerste afslane, net sodat sy tweede afslaan nie ’n teiken van Novak se dubbelarm-missiel kan word nie.
* Novak Djokovic is die verdedigende kampioen in die Wimbledonse tennistoernooi wat môre begin en op 8 Julie eindig.