Dít is in ’n diepte-ondersoek deur Rapport bevind op die vooraand van samesprekings môre tussen minister Fikile Mbalula en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).
Oregan Hoskins, Saru se grootbaas, het aan Rapport gesê hy verwelkom die minister se uitnodiging om koppe bymekaar te sit oor transformasie en Saru sien uit na die samesprekinge.
Mbalula het die afgelope week opslae gemaak met sy dreigement dat internasionale mededinging “gestop sal word as Suid-Afrika se sportspanne nie 60% swart is nie”.
Die minister het gesê die departement van sport sal “nasionale kleure weerhou van sportfederasies wat nie transformasie bevorder nie”.
Rapport se ondersoek het aan die lig gebring:
* Daar is tans net 45 swart spelers uit ’n totaal van 187 Suid-Afrikaanse spelers wat vir die Superrugby-reeks geregistreer is. Van dié kry net 14 gereelde Superrugby-speelkans.
* Amper die helfte (44%) van dié 45 spelers is boonop vleuels en 18 is óf Springbokke óf het al saam met die Springbok-groep getoer.
* Die vooruitsig om nuwe swart Springbokke te kies is beroerd weens die min blootstelling en geleenthede wat swart spelers op dié vlak kry.
By die Bulle haal Bandise Maku, wat al 49 Superrugbywedstryde gespeel het, nie eens meer die wedstrydgroep nie.
Die belowende Bongi Mbonambi sit op die bank terwyl Callie Visagie elke wedstryd begin.
Toe Franco van der Merwe by die Leeus beseer is, was dit Martin Muller, en nie die bank-speler MB Lusaseni nie, wat gekies is.
By die Stormers is Sailosi Tagicakibau, ’n Samoaan, ingebring toe daar beserings was, terwyl daar wel plaaslike swart vleuels in die Stormers se groter groep is.
Daar is nou ook ’n nuwe tendens waar provinsies naarstiglik swart spelers koop, of hulle Superrugby kan speel of nie.
Só kan hulle die getalle haal wat deur die kwotastelsel opgedwing word in die Vodacombeker-reeks.
Nou koop die groter provinsies meer as wat hulle nodig het, maar van die swart spelers speel net een keer ’n jaar.
Ook word die markprys só opgejaag dat die kleiner unies nie swart spelers kan bekostig nie.
Saru het verlede jaar in ’n voorlegging voor ’n parlementêre komitee gesê hy het die afgelope 20 jaar meer as ’n halfmiljard rand aan rugby-ontwikkeling bestee.
’n Hele 40% van alle Springbokke kom van net 21 skole af.
Verder is rugby volgens Saru nie ’n nasionale sport op skolevlak nie: By net 1 uit 35 skole in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal word rugby gespeel.
Daar is 23 503 skole in Suid-Afrika wat nie rugby aanbied nie en die meeste van hulle is “swart” skole.
Nogtans is daar genoeg jong, belowende swart spelers elke jaar in die Cravenweek en op junior vlak. Maar baie van dié spelers raak weg wanneer dit op senior vlak kom.
Volgens Saru se spelerregulasies word daar “van elke provinsie verwag om verteenwoordiging van spelers op die veld in ag te neem om Saru se breë transformasie-beleid te ondersteun”.
Dit maak die situasie uiters moeilik vir die Springbok-afrigter Heyneke Meyer, op wie die meeste transformasie-druk uitgeoefen word om nuwe swart Springbokke te kies.
Meyer is reeds onder geweldige druk om te wen en het al herhaaldelik gesê hy moet sy beste span kies om dít te kan doen.
In Rapport se ondersoek is gevind – buiten die oorvloed vleuels – daar is vir Meyer tans min nuwe swart Bokkandidate in ander posisies:
* Daar is geen swart vaskop-stut in Superrugby in die land nie;
* Van die vyf swart flanke in Superrugby-spanne kry net een, Siya Kolisi, gereeld speeltyd. Weens baie beserings kry
Nizaam Carr nou ook kans; * Van die vier swart hakers is een beseer en net een is gereeld op die bank. Toe Scarra Ntubeni nie beseer was nie, het hy gereeld gespeel;
* Daar is tans twee swart skrumskakels in Superrugby. Nie een speel tans nie;
* Daar is drie swart losskakels en nie een speel gereeld in ’n beginspan nie; en
* Geen swart slotte was vanjaar in Superrugby in ’n beginspan nie.
Swart spelers skuif ook ál meer van provinsie na provinsie. Dít veroorsaak dat nuwe spelers min kanse kry om deur te breek.
Akona Ndungane van die Blou Bulle speel darem gereeld. Foto: Liza van Deventer