Maar ’n voormalige huiswerker, wat tot kort voor die gesinsmoord vir agt maande vir die gesin gewerk het, beweer alles was nie so gelukkig en ongekompliseerd in die Steenkamp-huishouding as wat tot dusver geglo is nie.
Cynthia Messelaar sê sy onthou een Woensdag in 2011 baie goed.
Sy het iets buite die huis gehoor “soos ’n jong jakkals”. Dit was ’n huilende Christel, sê sy, wat kaalvoet van die grootpad na die plaasopstal gestap het.
“Sy het gesê sy en die baas het baklei en hy het haar skoene gevat. Haar voete was stukkend van die klippe en dorings.
“Ek het haar voete gewas en salf gesmeer. Toe vertel sy my hoe hy (Deon) haar aan die bors gepluk het dat haar bloes skeur.”
Christel het die geskeurde bloes toe vir Cynthia gegee. Sy het dit steeds. Die gestreepte Donna Claire-bloes het drie parallelle skeure by die rug en ’n winkelhaak-skeur aan die onderkant.
Sy sê ’n paar weke voor dié voorval was Deon glo briesend omdat Christel nie kos gemaak het nie. Hy het dorp toe gery om vleis en brood te koop en dit toe gebraai. Hy het vir die werkers daarvan gegee, maar nie vir Christel nie.
Don en Marthella was in die koshuis en het nie dié dramas beleef nie, sê Cynthia. “Marthella het al met haar ouers geraas en gesê hulle moet ’n voorbeeld stel.”
Cynthia sê Don en Marthella was regtig baie na aan mekaar. Sy kon nie droom dat hy sy familie sou vermoor nie. Tog meen sy die 20 jaar tronkstraf is hopeloos te lig.
Cynthia het ervaar dat Marthella haar pa se oogappel was en Don sy ma s’n.
Verskeie mense wat as deel van die voorvonnisverrigtinge ondervra is, het gesê die Steenkamps was op die oog af ’n baie gelukkige gesin.
Don self het gesê hy was in ’n gelukkige huis en is nooit blootgestel aan misbruik nie.
Maar dr. Larissa Panieri-Peter, ’n forensiese psigiater wat hom ge-evalueer het, het aan die hof gesê dit was vir haar opvallend dat hy amper te gloeiend van sy pa gepraat het, maar nie oor sy ma nie. Dit was asof hy sy ma wou beskerm in die gesprekke, het sy gesê, maar hy het sy pa weer opgehemel tydens die evaluering.
As daar probleme in die huis was, sou dit heel waarskynlik verborge gewees het, het Panieri-Peter getuig. Die moorde het nie op ’n sielkundige of psigiatriese vlak veel sin in die lig van wat ons weet van Don en sy familie nie, het sy gesê.
“Indien daar ’n verduideliking is, is dit dood saam met die oorledenes en opgesluit in die gedagtes van die oortreder,” het Panieri-Peter getuig.
Rapport het die geloofwaardigheid van Messelaar se bewerings probeer bepaal deur met verskeie familielede en vriende te praat.
Sy het inderdaad ’n no. 18 en ook Donna Claire-klere gedra soos Cynthia nog by haar het.
Messelaar sê daar was in ’n stadium onmin omdat Deon ’n derde kind as laatlam wou hê. Dit is deur ’n familielid bevestig.
Nog ’n familielid het gesê Christel was ’n dinamiese vrou wat haar nie sou laat rondskuif deur enigiemand nie. Sy en Deon sou egter ook nie na buite laat blyk het as daar probleme was nie.
Elbeth Vermaak, Deon se suster van Pretoria, het die storie as absolute onsin afgemaak. Sy het gesê die bewerings is in swak smaak. “Alle getroude paartjies maak soms rusie.”
Vier mense wat die Steenkamps gereeld gesien het, het gesê hulle het altyd gelukkig voorgekom.