Maar dié losse reëlings het uiteindelik tot reuse-hoofbrekens vir Astrid Steyn (66) en haar voormalige Duitse minnaar, Friedrich Helmut Hasse (70), gelei toe die verhouding op die rotse loop.
Die gevolg is dat die hooggeregshof in Kaapstad vroeër dié maand Steyn moes dwing om uit Hasse se huis te trek.
Luidens hofstukke het die paartjie mekaar in 2005 ontmoet. ’n Jaar later is ’n aftakelende motorneuronsiekte by Steyn gediagnoseer, maar Hasse sê sy het hom nooit daarvan vertel nie.
In 2007 het Hasse ’n luukse huis in Somerset-Wes gekoop en Steyn gevra om in te trek. Gedurende die agt maande van die jaar wat hy by sy wettige vrou in Duitsland gewoon het, het hy vir Steyn geld gegee om die huis te onderhou. Hy het haar ook tekenreg op sy bankrekening gegee.
Steyn sê Hasse het onderneem dat sy tien jaar lank in die huis kan bly en dat hy vir haar ’n nuwe huis sou koop indien die verhouding verbrokkel.
Hy ontken dit.
Toe die verhouding inderdaad in 2010 verbrokkel, het hy haar kennis gegee om die huis teen die einde van Januarie 2011 te verlaat, maar omdat hy “jammer vir haar gevoel het”, is die datum uitgestel tot 30 Junie 2012.
Ondanks die feit dat sy haar nie aan dié versoek gesteur het nie, het hy boonop op 16 Julie 2012 R100 000 in haar rekening gedeponeer.
Toe sy teen die einde van 2012 steeds nie getrek het nie, het Hasse genoeg gehad en ’n uitsettingsbevel in die plaaslike landdroshof gekry. Steyn het egter na die hooggeregshof in Kaapstad teen dié bevel geappelleer.
In haar uitspraak bevind regter Patricia Goliath dat Steyn nie sonder heenkome sal wees as sy uitgesit word nie.
Sy het twee kinders van haar eie en kon haar oor ’n tydperk self onderhou.
Goliath sê daar was nooit enige geïmpliseerde ooreenkoms dat Hasse vir haar sou aanhou sorg as hul verhouding verbrokkel nie.
Goliath het daarop vir Steyn drie maande tyd gegee om die huis te ontruim, waarna die balju haar mag uitsit as sy nie self trek nie.
Net omdat jy al jare lank in ’n saamleefverhouding is, beteken nie jy sal outomaties regte verkry soos getroudes nie, skryf regter Patricia Goliath in die Steyn-uitspraak.
Daar is byvoorbeeld nie ’n outomatiese wedersydse verpligting om mekaar te onderhou nie, hoewel paartjies wel daarop kan ooreenkom.
Sulke ooreenkomste kan op skrif of geïmpliseer wees.
Wanneer iemand beweer daar was ’n “universele vennootskap” wat nie uitdruklik op skrif gestel is nie, is daar drie noodsaaklike elemente wat teenwoordig moet wees, het Goliath bevind:
Albei saamleefmaats moes iets na die tafel bring of hulle verbind het om dit te doen;
Die vennootskap moes tot albei se voordeel wees;
Die vennootskap moes voortgesit word met die doel om ’n wins of voordeel vir die vennootskap te bewerkstellig.
Slegs as daar aan hierdie vereistes voldoen is, sal ’n hof besluit oor wat die geïmpliseerde saamleefooreenkoms regtig behels het.