As die vakbonde dan bereid is om matige verhogings vir hul lede te aanvaar, kan dit die eerste stap wees om ongelykheid in die land te verminder.
So het Adam Habib, rektor en vise-kanselier van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), Donderdagaand in Johannesburg gesê.
Habib was een van die sprekers by die eerste byeenkoms van die Oliver Tambo-debatsreeks. Tydens dié reeks sal die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) oor 15 maande by Wits ge debatteer word.
Dié byeenkoms is onder andere bygewoon deur verskeie buitelandse ambassadeurs, hoëkomissarisse en ander diplomatieke personeel.
Habib het gesê een van die groot gebreke van die NOP, wat tans in sy aanvangs-implementeringfase is, is dat dit nie die ongelykhede in die land aanspreek nie.
En dat dié ongelykhede steeds die bedreiging van ’n bloedige revolusie inhou.
Die tweede gebrek is dat die verskillende sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing nie ooreenstem oor verskeie aspekte van die plan nie, veral oor die ekonomiese beginsels daarvan.
“As jy dink ongelykheid is ’n probleem, weet net dit gaan nie kwyn deur die toepassing van die NOP nie.
“Die NOP kan wel groei meebring en armoede laat verminder. Soos die ekonomie groei, groei die salarisse van die topverdieners vinniger.
“Jy moet hulle aan bande lê. Maar ook die arbeidsektor moet bereid wees om toe te gee, iets wat hulle nie geneig is om te doen nie,” het hy gesê.
Neil Coleman, strategiese adviseur van Cosatu, het gesê die sukselvolste ontwikkelingsplanne in die wêreld het breë nasionale steun.
Die meeste afgevaardigdes na die ANC se nasionale konferensie in Mangaung in 2012 – waar die NOP aanvaar is – het ook nie die dokument gelees nie.
Cosatu verwerp nie die plan in sy geheel nie, maar dit bevat kritieke onaanvaarbare elemente.
Die kern van die NOP berus op ekonomiese beginsels en daaroor is daar nie ooreenstemming nie. Coleman het ses besware geopper, onder meer dat die NOP werkerregte ondermyn. As die plan, wat wyd deur politieke partye gesteun word, voortgaan, sal daar teen 2030 steeds fundamentele ongelykhede in die land bestaan, meen hy.
Khulekane Mathe, hoof van die NOP se sekretariaat, het gesê die Beplanningskommissie gee toe dat die NOP nie perfek is nie. Dit gee ’n aanduiding van waar Suid-Afrika in 2030 wil wees.
“Geen land het ’n perfekte plan nie. Baie lande het deur die implementeringsproses geleer en die planne verder verfyn. Ons sal ook,” het hy gesê.
* “Die NOP is nie ’n plan nie, dis meer ’n aspirerende – as ’n beplanningsdokument. As dit ’n plan was, sou dit die strukturele uitdagings aangespreek het, soos waarom Suid-Afrika plus minus 38 nasionale ministeries het en ongeveer 20 van hulle ekonomiese beleid formuleer en produseer. Dit terwyl China en Singapoer slegs enkele ministeries het om ekonomiese beleid te ontwikkel. Dalk moet die regeringsbeplanners navors hoe H.F. Verwoerd staatstrukture, beleid en wette gebruik het om uitkomste te bereik. Hoewel dit moreel bankrot was, was dit hoëvlak beplannings-eksperimente,” het TK Pooe, ’n beleidskonsultant by die Ingabadi Navorsings-en beplanningsgroep, by die debat gesê.