Share

Boelies dryf seun uit skool

’n Vrystaatse boer sê sy 15-jarige seun is maande lank so erg in een van die land se voorste skole geboelie en aangerand dat hy die seun uit die skool moes haal.

Die pa, wie se identiteit weerhou word om sy seun te beskerm, sê nadat hy die probleem met die skoolhoof van St. Andrew’s in Bloemfontein bespreek het, is sy seun net verder getreiter.

St. Andrew’s, ’n seunskool met ongeveer 800 leerlinge van gr. 1 tot 12, het verlede jaar sy 150ste bestaansjaar gevier.

Die seun se pa sê hy het vir die eerste keer van die probleem bewus geword toe sy kind verlede jaar, toe sy seun in gr. 8 was, as deel van ontgroening deur ’n nuwe koshuisprefek met ’n PVC-pyp baie hard op die agterstewe geslaan is.

Hy het die voorval op ’n oueraand by die skool aangemeld.

Die man sê sedert Maart vanjaar is sy seun gereeld deur ’n groep boelies in die skoolkoshuis geteiken. Aanvanklik is hy net gevloek en geskel, maar die aanvalle het stelselmatig al hoe gewelddadiger geword.

Hy sê sy kind was hoofseun van sy laerskool en nie ’n moeilikheidmaker nie.

Sedertdien is daar in minstens twee gevalle ’n mes met ’n dubbel-lem teen sy maag gedruk en is hy beveel om die biltong wat hy van die huis af gebring het, aan die boelies te oorhandig.

Nie lank daarna nie is hy in die koshuisgang op pad stort toe voorgekeer en met pepersproei gespuit.

“Hy het na die stort gevlug en die pepersproei probeer afwas toe die boelies ook sonbrandroom op hom uitgooi.

“Sy lyf het erg gebrand en hy kon dae lank nie reg praat nie (weens die pepersproei wat hy ingeasem het). Ons het gedink hy het griep.”

In nog ’n voorval het twee boelies hom in die stort vasgekeer. Die seun het sy geslags­dele toegehou.

“Hulle het hom met hul hande op die boude geslaan sodat hy sou laat los.”

Sy seun het geskreeu en die boelies het laat spaander.

Die pa sê hy het kort hierna met sy seun oor die telefoon gesels.

Tydens dié gesprek het sy kind hom van die boelies vertel.

Een van hulle het toevallig verbygeloop en sy naam gehoor.

“Ná ons telefoongesprek het die boelie hom met ’n hokkiebal probeer gooi en aan die keel gegryp.

“ ’n Geveg het uitgebreek en hulle is uitmekaar gehaal.”

Op 25 Mei is die pa na Chris Thomas, die skoolhoof.

Hy sê Thomas het hom die volgende dag gebel en verseker die boelies is aangespreek en hul ouers is oor die probleem ingelig.

Hy sê ’n dag later het al die ouers van koshuisseuns in gr. 9 ’n brief ontvang waarin hulle ingelig is oor die probleem en dat vier ander seuns (behalwe sy eie) gekla het dat daar foto’s van hul geslagsdele geneem is.

Luidens die brief is dié foto’s net onder ’n klein groepie versprei en die skool sal daarteen optree.

Kort daarna, op 12 Junie, is sy kind weer aangerand en hy het besluit om ’n klag by die polisie in te dien.

Die pa sê tydens dié voorval het een van die gereelde boelies by die kind se koshuiskamer ingestorm en hom met die vuis toegetakel.

Sy seun, wat judo neem, het terugbaklei, maar nog koshuisleerlinge het die kamer binnegekom en in die daaropvolgende bakleiery is die seun met ’n bebloede gesig gelaat wat doktersbehandeling vereis het.

Sers. Thabo Litabe, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n aanrandingsklag word ondersoek. Die pa sê die gedrag onder kinders in skoolkoshuise is vir hom kommerwekkend, asook die feit dat die slagoffer gewoonlik nie die boelie wil verkla nie uit vrees dat dit dinge sal vererger.

Thomas sê nadat die skool bewus geword het van die klagtes het die koshuisvader van die betrokke koshuis en die skoolhoof ’n deeglike ondersoek ingestel, onderhoude met al die betrokke seuns in die koshuis gevoer en waar nodig die gepaste tugstappe gedoen.

Hy sê die oortreders is “gemeenskapsdiens” opgelê.

“Die skool sal altyd streng optree teen boelies en in gevalle waar gevaarlike wapens gevind word sal die wapens weggeneem word.

“Die skool tree ook op teen seuns wat sonder toestemming foto’s van mekaar neem. St. Andrew’s sal altyd streef om die hoogste standaarde te handhaaf.”

Thomas sê hy weet nie van die beweerde doopvoorval met die PVC-pyp nie.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 456 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 975 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE