Share

Die Groot(ste) Trek: ’n duur konvooi na Kongo

’n Massiewe konvooi met werktuie en landbougereedskap ter waarde van R35 miljoen vertrek môre op ’n epiese reis na die Republiek van die Kongo om die oorblywende Suid-Afrikaanse boere daar by te staan.

Rapport het in Februarie berig die meeste van die 28 Suid-Afrikaners wat einde 2011 na daardie land se Niari-vallei uitgewyk het om hoofsaaklik met mielies te boer, het uitgeboer. Probleme soos interne struwelinge, finansieringsprobleme en swak oeste het daartoe gelei dat die meeste nie die paal gehaal het nie.

Boonop het dit aan die lig gekom dat heelparty van die boere oneerlik was oor die bates wat hulle as sekuriteit vir die aanvanklike lenings aangegee het.

Dít terwyl mediaberigte jare lank die indruk gewek het dat die projek van meet af aan suksesvol was.

Die oorblywende nege boere, wat saam as die Todi-groep bekend staan, sê hulle is vasbeslote om van die projek ’n sukses te maak.

Indien dié nuwe besending toerusting nie daartoe bydra dat hulle meer mielies lewer nie, kan hulle miljoene rande se vaste bates in Suid-Afrika verloor wat hulle as sekuriteit vir die jongste lening moes verskaf.

Rigobert Maboundou, die Kongo se minister van landbou, het ná Rapport se berig in Februarie bepaal 20 van die boere het hul reg op hul grond verbeur omdat hulle nie na wens geboer het nie.

Rapport verneem van die onsuksesvolle boere moes derduisende rande se bates, waaronder voertuie en selfs ’n nuwe huis, agterlaat.

Die kans lyk skraal dat hulle dié bates gaan terugkry omdat hulle nie genoeg geld het om die voertuie na Suid-Afrika terug te bring nie.

’n Nuwe grondooreenkoms is in Mei met Maboundou by Agri SA se hoofkantoor in Centurion onderteken.

Luidens dié ooreenkoms is die oorspronklike 80 000 hektaar wat aan die Suid-Afrikaners toegewys is, in twee blokke van 40 000 hektaar elk verdeel.

Die Todi-groep kan voortgaan om op hul helfte van die grond te boer terwyl die Agri SA-geaffilieerde Congo Farmers Asso­ciation (CFA) voor Mei 2015 op hul helfte moet begin boer as hulle nie die grond wil verloor nie.

“Die kans lyk skraal dat hulle iets voor die spertyd gaan regkry, daar gaan nou net mooi niks op daardie grond aan nie,” sê ’n bron met insae in die Kongo-projekte.

Deon Lezar, een van die Todi-boere wat ook tot dusver as voorsitter van die CFA gedien het, sê hy gaan môre uit dié pos bedank omdat hy nie meer by albei entiteite betrokke kan wees nie. Hy vertrek môre saam met die konvooi van 12 vragmotors en toerusting.

“Dit is waarskynlik die grootste landboukonvooi wat al na daardie deel van Afrika gereis het,” sê Lezar. Net die reis kos R3,6 miljoen en sal na verwagting 23 dae duur.

“Ons finansier onsself met ons eie plase (in Suid-Afrika) as sekuriteit. Dit is nou regtig do or die en die ouens is maar benoud,” sê Lezar.

Die gesamentlike Kongo-projekte het tot dusver beleggings van R120 miljoen in beslag geneem.

Lezar sê hulle bly optimisties, ondanks die ander boere se ondergang.

“Ons verkoop al mielies aan die regering en ons het vir onsself ’n baie mooi mark geskep.”

Moon Daly, een van sy mede- Todi-boere, sê hulle het al heelwat navorsing laat doen om van die vroeër uitdagings die hoof te bied.

“Die klimaat, insekte en die gehalte van die grond was van ons grootste kopsere,” sê Daly.

“Ons het egter baie geleer en weet nou hoe om dit te hanteer,” sê hy.

Volgens Lezar was nie al die boere in die groter groep opgewasse vir die enorme uitdaging nie. “Dié wat oorbly, is bewese boere wat weet wat hulle doen,” sê Lezar.

Hulle het onlangs sowat 3,2 ton mielies geoes en hoop om in die volgende plantseisoen 3 000 hektaar mielies te plant.

In die CFA-kamp heers nog baie bitterheid oor die gebeure in die Kongo.

“Die waarheid oor die hele gedoente word verswyg. Ons word in die duister gehou oor die nuwe grondooreenkoms,” sê een van die boere wat nie meer in die Kongo boer nie.

“Hierdie is een van die hartseerste stories ooit, baie ouens is met baie hoop na die Kongo toe, maar het feitlik alles verloor.”


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
65% - 404 votes
No! It's time to move on ...
35% - 220 votes
Vote
Rand - Dollar
19.04
+0.9%
Rand - Pound
23.78
+0.7%
Rand - Euro
20.41
+0.7%
Rand - Aus dollar
12.39
+0.8%
Rand - Yen
0.12
+1.0%
Platinum
919.70
+0.8%
Palladium
981.50
-2.3%
Gold
2,331.90
+0.7%
Silver
27.34
+0.6%
Brent-ruolie
88.02
-0.5%
Top 40
68,437
-0.2%
All Share
74,329
-0.3%
Resource 10
62,119
+2.8%
Industrial 25
102,531
-1.4%
Financial 15
15,802
-0.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE