Share

Dís die kern van die verdrag

Die hegte verhouding tussen pres. Jacob Zuma en pres. Wladimir Poetin is die vernaamste rede waarom Rusland nou in die binnebaan is om munt te slaan uit Suid-Afrika se multimiljardrand verkryging van nuwe kernkraginfrastruktuur.

Regeringsamptenare met insae in die onderhandelings oor die beoogde kernkragprojek sê ­Zuma se skaduwee “hang prominent” in die departement van energie sedert die gesprekke met Rusland verlede jaar ernstig begin word het.

Rosatom, Rusland se staats­beheerde kernkragreus, het vandeesweek vir ’n opskudding gesorg toe hy aangekondig het hy gaan agt kernkragreaktors aan Suid-Afrika lewer.

Dít sonder dat daar aan die land se tendervereistes voldoen is.

Dit het egter vinnig duidelik geword die Russe was oorywerig met die aankondiging van dié winsgewende “kontrak” en dat die ooreenkoms tussen die twee lande glo slegs die weg baan vir Rusland se deelname later aan Suid-Afrika se tenders vir die nuwe kernkragkapasiteit van 9,6 GW – vier keer meer as Koeberg se huidige opwekkingsvermoë.

Die kernkragprogram kan die land na raming tot R1 000 miljard uit die sak jaag.

Hoewel Rusland se mededingers om die kontrak glo ook soortgelyke samewerkingsooreenkomste met Suid-Afrika gaan sluit, dui alles daarop dat Ros­atom in ’n baie gunstige posisie gaan wees wanneer die tenderproses later amptelik begin.

Zuma en Poetin se verhouding het sedert verlede jaar skynbaar toenemend om die kernkragkwessie begin wentel.

Dié twee staatshoofde het sedert Maart verlede jaar minstens vyf keer vergader en kernkrag was by elke ontmoeting op die agenda.

Zuma het homself ook aan die hoof van die besluitnemingsproses oor die aankoop van kernkraginfrastruktuur geplaas toe hy Kgalema Motlanthe, toe nog sy adjunk, verlede jaar as voorsitter van die nasionale uitvoerende koördineringskomitee vir kernkrag vervang het.

Die amptenare na aan die onderhandelinge sê daar was nog nooit twyfel oor die “politieke rigting” van die ooreenkoms met Rusland nie.

Volgens hulle is daar nie dokumente wat Zuma se voorkeur vir Rosatom aandui nie en het hy nooit direkte instruksies uitgereik dat daar met Rosatom onderhandel moet word nie.

“Dit word net gedoen,” sê een amptenaar.

Mail & Guardian het Vrydag berig die ooreenkoms met Rusland het selfs Zuma se binnekring onkant betrap.

Zuma het glo nie sy kernkragplanne met die ANC se nasionale uitvoerende komitee bespreek nie.

Intussen lyk dit darem asof die tesourie nie die land se geldkoffers sonder noukeurige oorweging vir die kernkragverkrygings gaan oopgooi nie.

Kernkrag sal ’n “aansienlike ­finansiële verbintenis” verg, maan die tesourie.

So ’n verbintenis sal slegs gemaak kan word as ’n “versigtige en deeglike” model bestaan en ’n bekostigbaarheidsontleding gedoen is, sê Jabulani Sikhakhane, hoofdirekteur van kommunikasie in die tesourie.

“Die Grondwet bepaal dat enige staatsentiteit wat goedere of dienste aanskaf, dit moet doen ingevolge ’n proses wat vry, regverdig, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend is.

Dié voorskrif is van toepassing op die aanskaf van ’n kernkragprogram net soos dit op die aanskaf van enige ander dienste of goedere deur die regering is,” sê Sikhakhane.

“Suid-Afrika het geen keuse nie as om kernkrag in te span as hy in die energiebehoeftes van die land se nywerhede wil voorsien,” sê prof. Waldo Stumpf, voormalige hoof van die Atoomenergiekorporasie van Suid-Afrika.

Stumpf meen egter finansiering en ’n deursigtige kontrak met streng leweringsvereistes moet deeglik in plek wees voordat die regering sy hand op papier waag.


Dit is Poetin se voet in die deur

Die regering moet nog ’n finale kontrak teken met verskaffers vir die lewering van 10 000 MW se kernkrag, al lyk dit asof Rusland die leeueaandeel van dié duur projek gaan kry. Dit is wat ons  oor ons kern-toekoms weet:

* Die wenner van die groot kontrak sal hoofsaaklik bepaal word deur die finansieringspakket wat Suid-Afrika aangebied word – die meer as R500 miljard moet iewers vandaan kom!

* Die Russe het glo ’n plan voorgelê waarvolgens 60% van die waarde van die projek in die ontwikkeling van plaaslike ­kundigheid en verskaffers belê word. Die Franse se syfer is glo tussen 10% en 15%, sê dr. Kelvin Kemm, hoof van Nuclear Africa, wat kernkundigheid bevorder.

* Rusland, Frankryk, Suid-Korea, China en die Amerikaanse maatskappy Westinghouse word ook oorweeg.

* “Pres. Wladimir Poetin sien die samewerking met Suid-Afrika as sy voet in die deur na die hele vasteland. Ongeag wie die tender kry, dit gaan beter stabiliteit en elektrisiteitsvoorsiening in die streek beteken,” sê Kemm.

* Reaktors gaan gebou word by Thyspunt, suid van ­Port ­Elizabeth; Bantamsklip, noordwes van Bredasdorp; en Koeberg. Seewater word vir verkoeling van die reaktors gebruik.

Omgewingsimpakstudies is volgens Kemm reeds afgehandel.

* Sedert Koeberg op 25 Julie 1985 ten volle aangeskakel is, het radioaktiewe materiaal nog nie een keer gelek nie en die beheermaatreëls daar tel onder die wêreld se bestes, sê prof. Waldo Stumpf, oudhoof van die Atoomenergiekorporasie (AEK) en tans verbonde aan die Universiteit van Pretoria. Dieselfde geld die hantering van laegraadse kernafval.

* “Koeberg is destyds so goed ontwerp en gebou dat dit ’n ramp soos Foekoesjima sou kon weerstaan,” sê Stumpf.

* Die ontginning van uraan, die reaktors se “brandstof”, asook die verryking daarvan het grootliks in Suid-Afrika tot stilstand gekom. “As Suid-Afrika weer ’n verrykingsaanleg kan bou, kan dit groot voordele vir Suider-Afrika inhou,” sê Stumpf.

* Kemm glo Suid-Afrika het genoeg kundigheid om binne ses jaar ’n verrykingsaanleg te bou.

* Minstens 100 000 vakleerlinge sal deur Suid-Afrika opgelei moet word. Kemm sê die Kernenergiekorporasie (Neksa) het reeds hiermee begin.

* Pasop vir ’n kontrak sonder ’n ontsnapklousule, soos destyds met die wapenkontrak, waarsku Stumpf. “Baie belangrik is of brandstof vir die reaktors by die prys ingesluit word. Indien nie, sal Suid-Afrika dit elders in die hande moet kry.”

* Die oordrag van vaardighede na Suid-Afrika kan die tegnologiebedryf ’n reuse-hupstoot gee.

“Suid-Afrika moet kernkrag as ’n gegewe beskou as hy in die energiebehoeftes van sy nywerhede wil voorsien,” sê Stumpf.



We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Election day is approaching, have you made your voting decision?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, I still haven't made up my mind
27% - 2600 votes
Yes, I know where my ‘X is going
73% - 6950 votes
Vote
Rand - Dollar
19.23
-0.2%
Rand - Pound
23.74
-0.1%
Rand - Euro
20.46
-0.0%
Rand - Aus dollar
12.40
-0.2%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
917.80
-1.4%
Palladium
996.50
-1.9%
Gold
2,304.58
-1.0%
Silver
26.86
-1.2%
Brent Crude
87.00
-0.3%
Top 40
67,497
0.0%
All Share
73,551
0.0%
Resource 10
60,937
0.0%
Industrial 25
101,060
0.0%
Financial 15
15,616
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE