Share

Dis nie ’n val – hy is gefoeter’

Die tenoor Jannie Moolman – wat met ernstige beserings in die hospitaal lê – is moontlik deur ’n bende minderjarige skoolseuns aangerand.

Vroeër is berig dat Moolman per ongeluk van die dak van ’n kroeg in Broederstroom naby Pretoria afgeval het toe hy by ’n venster uitgeklim het, maar sy vriende en familie meen nou hy is eerder by die venster uitgegooi deur ’n berugte bende skoolseuns wat ’n skrikbewind in kroeë in die Magaliesberg-omgewing voer.

Rapport het die afgelope week met kroegeienaars gepraat wat sê die voggies het vryelik gevloei oral waar Moolman en sy vriende in die omgewing was.

By een kroeg is Moolman uitgeboender omdat hy glo met sy broek oop op die tafels begin dans het.

Lara Evert, die eienaar van die Bundu Bar in Broederstroom, sê die geselskap (dit was ’n ramparty vir Danie Opperman, Dozi se broerskind) was al lekker warm toe hulle omstreeks 20:30 by haar kuierplek aangekom het.

Sy sê toe Moolman sy broek losmaak en op haar tafels begin dans, het sy die groep “vriendelik gevra om liewer te gaan”.

Daarna is hulle Mango’s toe, reg langs die Bundu Bar. Moolman is later die aand bewusteloos met veelvuldige beserings in die agterplaas van die kroeg gevind.

Aanvanklik is gemeen hy het by ’n venster op die eerste verdieping uitgeklim tot op die dak, en toe gegly.

Hy het verskeie frakture aan sy gesig, linkerhand en ’n sny aan sy oogbank opgedoen.

Drie operasies is die afgelope week suksesvol op hom uitgevoer.

Melissa Sharp, Dozi se susterskind en die afgelope drie jaar Moolman se meisie, glo nie Moolman het by die venster uitgeval nie.

“Die aard van sy beserings strook nie daarmee nie.”

Sy het Den Alberts, ’n private speurder, aangestel om die saak verder te ondersoek.

Daar word gemeen Moolman het waarskynlik in ’n kroeggeveg betrokke geraak met die sogenaamde “Harties-4”, ’n berugte bende skoolseuns wat die laaste tyd ’n skrikbewind in kroeë in die omgewing voer.

Hulle was blykbaar verlede Saterdag by Mango’s.

“Hulle is minderjarige kinders, die seuns van bekende inwoners op die dorp. Hulle drink by al die kroeë en raak gereeld in kroeggevegte betrokke.

Die polisie tree nooit teen hulle op nie en ons haal hulle gereeld uit die kuierplekke uit,” sê ’n lid van die plaaslike buurtwag, wat verkies om anoniem te bly.

Stewart Woodley, deel van die Moolman-groep, sê hulle het om omstreeks 22:00 by Mango’s aangekom.

“Daar was ’n voorval waar een van Danie se vriende in ’n geveg met ’n paar outjies betrokke was,” vertel hy.

Die moontlikheid word nou ondersoek dat dieselfde groep later die aand teruggekeer het na Mango’s, Moolman in die badkamer raakgeloop en hom toe aangerand en by die venster uitgegooi het.

Volgens ’n bron was daar bloed in die badkamer en ’n potplant wat voor die venster gestaan het, was weggeskuif.

“Dit is onmoontlik vir ’n dronk man om ’n potplant te skuif en die venster, wat styf op knip is, oop te maak,” sê hy.

Die polisie sê geen aanrandingklag is al ingedien nie.

Pieter Pretorius, eienaar van Mango’s, meen wel Moolman het die venster met die deur verwar en van die dak afgeloop.

“As net die helfte van die scenario’s waar is wat deur mense beweer word, moes Jannie gelyktydig op meer as een plek gewees het,” sê Barnard Beukman, Moolman se woordvoerder.

“Heelwat teenstrydighede en onwaarhede doen die ronde.”

Beukman sê hulle oorweeg siviele eise teen enigiemand wat vir Moolman se beserings verantwoordelik is.

Sharp, ’n tandheelkundestudent in haar finale jaar, sê Moolman is nog in die hospitaal, maar dit “gaan elke dag beter met hom”.

Hy het nog nie sy bewussyn herwin nie.


Jannie Moolman het glo op dié tafel in die Bundu Bar gedans.


Dié venster is glo altyd toe. Die eie­naar van Mango’s sê Jannie het die potplant geskuif, die venster oopgemaak, uitgeklim en van die dak afgeloop. Foto: Herman Verwey


Dit is die tuin van Mango’s waar Jannie Moolman glo sou wou slaap.



We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 881 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 922 votes
Vote
Rand - Dollar
19.16
-0.3%
Rand - Pound
23.83
-0.2%
Rand - Euro
20.48
-0.2%
Rand - Aus dollar
12.46
-0.5%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
921.40
+0.1%
Palladium
1,026.50
+0.1%
Gold
2,314.47
-0.3%
Silver
27.10
-0.8%
Brent Crude
88.42
+1.6%
Top 40
68,521
+0.7%
All Share
74,488
+0.7%
Resource 10
59,636
+0.0%
Industrial 25
104,286
+1.4%
Financial 15
15,911
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE