Share

Eerste 100 dae: Vir Maimane:’n Krisis – Malema steel sy kollig

Mmusi Maimane is gefrustreerd in sy rol as leier van die grootste opposisieparty in die parlement.

Dié 33-jarige het sy frustrasie Vrydag in ’n onderhoud onregstreeks aan die “teatrale taktiek” van die EFF toegeskryf.

Die DA, met 89 lede in die Nasionale Vergadering (NV), is die afgelope twee weke oordonder deur 25 EFF-LP’s wat in rooi geklee en met ’n geraas die parlementêre kollig gesteel het.

Ingeligte DA-LP’s het die afgelope week gesê die EFF is so oproerig en omstrede dat ­Maimane “nie kans kry” om sy stempel af te druk nie.

Dit is immers die DA wat kritieke kwessies soos Nkandla telkens eerste op die spits dryf, maar dit is die EFF se aanslag wat die grootste onmiddellike impak het.

’n Ander senior LP glo egter Maimane is te onervare en te “prim en proper”.

Sy gebrek aan ervaring was drie maande gelede ’n bron van kommer vir sommige DA-koukuslede wat toe nog nie oortuig was dat hy die regte persoon vir die pos is nie. Intussen het die EFF gewys watter soort parlementêre straatpolitiek hulle beplan om te bedryf.

Enkele DA-LP’s het vandeesweek in die koukusvergadering daarop gesinspeel dat Maimane nie ’n sterk genoeg leier is nie.

Veral jong LP’s glo die DA moet hom sterker in die parlement laat geld.

“Hoe kan die EFF in die raad opstaan en sê húlle is die amptelike opposisie en niemand maak beswaar daaroor nie? Dit is nie reg nie,” sê een LP.

Maimane het toegegee dat sy stem moeilik deur al die luidrugtigheid in die parlement breek. “Ek dink dit is ’n redelike afleiding om te maak,” sê hy.

Volgens hom is daar telkens iets nuuts waarop mense gefikseer raak.

Hy is gefrustreerd: “Die ANC het ’n klomp ondersteuners met busse na die parlement aangery.

“Die debat was oor die Midde-Ooste en die ekonomie. Die koerantberig die volgende dag was dat iemand gedreig het om (Julius) Malema te vermoor.

“Niks het gebeur nie, tog word dít die fokuspunt. Dit is frustrerend. Ek moet eerlik wees, ek vind dit baie frustrerend dat die aptyt op die oomblik ongelukkig op alles behalwe die sake van die parlement is – te midde van ’n ekonomie wat werkgeleenthede bloei, werkloosheid wat die hoogte inskiet... dit is wat my frustreer.”

Môre is dit presies 100 dae sedert die saggeaarde Maimane die posisie by Lindiwe Mazibuko oorgeneem het.

Hy moet hom ook laat geld binne die DA-koukus waar die sterk Helen Zille, DA-leier, ’n reuse-rol speel.

Ofskoon dit duidelik is dat hy nog sy voete in die parlement moet vind, het hy vandeesweek ’n gesaghebbende toespraak oor die ekonomie in die NV gelewer.

Hy het sy eerste 100 dae in die pos as ’n “goeie begin” bestempel, maar toegegee daar is aspekte waarop die DA kan verbeter.

“Ek dink ons moet ons aanslag verskerp, soos ons vanoggend in die ad hoc-komitee oor Nkandla gedoen het om seker te maak dat die verwysingsraamwerk duidelik is en dat ons weet pres. Jacob Zuma sal geroep word omdat hy die hoofkarakter is oor wie se huis dit gaan,” sê Maimane.

Die sleutelprioriteite van die eerste 100 dae is bereik.

“Ons wou ’n baie samehorige koukus bou – ek dink daar is eenheid in die party. Ons was doeltreffend in die parlementêre vrae wat ons gestel het.

“Ons eerste mikpunt was ons prestasie met die begrotings waarmee ek dink die DA uitsonderlik goed gevaar het.”

Die party het “letterlik vanaf dag een” die kwessie van die ad hoc-komitee oor Nkandla gedryf, wat Vrydag vir die eerste keer vergader het.

Hy het daarop gewys dat opposisie nie net oor “oomblikke” gaan nie. “Daar is parlementêre vrae, komitees, hofprosesse. Dit is ’n omvattende taak.

“Ek dink soms mense meen – reg of verkeerd – dat opposisie beteken om ’n oomblik te neem om die raad af te breek. Daar is egter baie ander elemente wat deel vorm van die werk. Verantwoordelikheid neem baie fasette aan, en ek dink ons was doeltreffend daarin.”

Dit is nie asof hy net aan Nkandla iets doen nie. “Daar was ander platforms waar ek my mening sterk gelug het. Selfs in die kwessie teen die speaker het ek dit baie sterk gestel dat ons nie gelukkig is met haar optrede nie.

“Ek het ook ’n vergadering met die adjunkpresident versoek om baie fundamentele vrae aan hom te stel.”

Volgens prof. Amanda Gouws, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, is Maimane in ’n moeilike posisie.

“Dit is ’n baie groot probleem in die DA omdat die EFF amper as die amptelike opposisie beskou word. Die DA is egter die party wat by al die vasgestelde prosedures hou, hul huiswerk doen en die reëls nakom.

“Maimane is nuut in die parlement en moet nog sy voete vind. Dit gaan tyd neem, maar ek dink ook nie die ANC sal toelaat dat dié situasie in die parlement voortduur nie,” sê Gouws.

* Lees ook: Eerste 100 dae: Vir Zuma
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Now that e-tolls gantries have been switched off, will you be settling your outstanding debt?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No way, they're not getting a cent from me
88% - 2064 votes
Yes, I guess it's the right thing to do
4% - 84 votes
Mmh, I'm watching legal cases and playing it by ear
8% - 199 votes
Vote
Rand - Dollar
18.97
+0.2%
Rand - Pound
23.64
+0.2%
Rand - Euro
20.26
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.23
+0.1%
Rand - Yen
0.12
+0.2%
Platinum
950.40
-0.3%
Palladium
1,041.50
+0.6%
Gold
2,379.94
+0.8%
Silver
28.54
+1.1%
Brent Crude
87.29
-3.1%
Top 40
67,017
+0.2%
All Share
73,114
+0.2%
Resource 10
63,457
+0.1%
Industrial 25
97,997
+0.2%
Financial 15
15,430
+0.3%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE