So waarsku kritici en die DA nadat Tina Joemat-Pettersson, minister van energie, die afgelope week aangekondig het die regering is vasbeslote om in die volgende dekade nuwe kernkragsentrales te bou wat altesame 9 600 MW kan opwek.
Dit is vyf keer soveel elektrisiteit as wat by die Koeberg-kernkragsentrale buite Kaapstad opgewek word.
Prof. Philip Lloyd van die energie-instituut aan die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie sê Suid-Afrika sal teen die middel van die volgende dekade ’n bykomende 7 000 MW krag benodig. Planne is dus dringend nodig.
“Ons weet nie waar dit vandaan gaan kom nie. Dit is onseker of hidro-elektrisiteit op ’n deurlopende grondslag gelewer kan word. Ons dink graag dat windkrag goedkoper is, maar as die wind nie waai nie, het ons nie krag nie. Dit laat ons met steenkool en kernkrag.”
Die DA-LP Lance Greyling waarsku dat die koste van die nuwe kernkragaanlegte by ’n duisend miljard rand kan gaan draai en elektrisiteitspryse tot by “onbekostigbare vlakke” kan stoot, wat op sy beurt die vraag na elektrisiteit sal laat daal.
“Ons kan in die absurde situasie beland dat ons, nadat ons groot somme geld aan die program bestee het en tien jaar aan die aanlegte gebou het, nie meer kliënte sal hê wat gewillig is om energie by hulle te koop nie,” sê Greyling.
So, hoe duur is kernkrag?
Berekeninge deur dr. Dawid Serfontein, senior lektor aan die skool vir kern- en meganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit, wys kernkragsentrales kan twee keer soveel as steenkoolsentrales kos, al is die koste van kernbrandstof laer.
Sy somme is op die regering se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) gegrond.
Die IRP wys dat die kapitale boukoste van kernkrag sowat R58 000 per kilowatt-uur (kW/h) is teenoor steenkool se sowat R26 000 per kW/h.
Die IRP sê ook dat kernkrag 96c kW/h gaan kos om op te wek teenoor steenkool se 58c kW/h.
“As die besoedelingskoste egter ingereken word, is kernkrag goedkoper as steenkool,” sê hy.
Die Medupi-steenkoolkragsentrale in Mpumalanga kos na raming sowat R150 miljard en sal vir sowat 50 jaar 4 800 MW opwek.
Daarteenoor raam dr. Kelvin Kemm, kernfisikus van Nuclear Africa, ’n voorstander van kernkrag, die boukoste vir die eerste nuwe kernkragstasie met twee reaktors op sowat R350 miljard.
’n Kernkragsentrale word tipies 60 jaar oud. Kemm sê die R350 miljard wat die regering aanvanklik opsy gesit het vir die ontwikkeling en aanvangskoste van die program is “redelik”.
Latere kernkragsentrales sal volgens hom goedkoper wees.
“As Suid-Afrika grootliks van plaaslike arbeid en komponente gebruik maak, sal dit die koste aansienlik verminder,” sê Kemm.
Suid-Afrika beskik reeds oor die wetenskaplike en tegniese kennis.
“Wat ons benodig is teikendatums, want kundige personeel kan hulle aan ander projekte verbind weens die onsekerheid aan die kant van die staat.”
Johan Muller van die konsultasiegroep Frost & Sullivan maan egter teen presiese berekenings.
Huidige kosteberamings is volgens Muller op buitelandse pryse geskoei, wat drasties van mekaar wissel, eerder as op pryse hier, waar 30 jaar laas ’n kernkragaanleg gebou is.
Muller vrees ’n kernkragsentrale wat eers oor 10 of 15 jaar voltooi kan wees, kan maklik ’n “wit olifant” word weens ons trae ekonomiese groei, wat ook die honger vir elektrisiteit demp.
Adj.pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag gesê die beplande kernkrag-bouprogram is “enorm”.
Finansiering sal volgens hom ’n “uitdaging” wees, maar die regering behoort ’n manier te vind om dit te finansier.