Dit is nie ’n ongewone droom vir ’n klein seuntjie nie, maar Mongezi (6) het ’n baie persoonlike rede wat hom dryf: Hy wil graag boewe soos dié wat sy pa verlede Dinsdag gekaap het, vang en opsluit.
Suid-Afrikaners is die afgelope week geskok en uiteindelik verlig nadat Mongezi met sy gesin herenig is nadat kapers – met hom steeds in die motor – weggejaag het.
By die huis van sy ouma in Delmas in Mpumalanga praat die outjie verbasend gemaklik oor sy nare ervaring.
Sy ouers sê hy het die afgelope week berading ontvang, maar hy sien al klaar daarna uit om môre weer terug te gaan skool toe. Hy is in gr. 1.
“Ek het probeer om met die tsotsi wat voor gesit en my pa vasgehou het te baklei, maar hulle het gesê ek moet stilbly of hulle gaan my pappa doodmaak. Hulle het met my pa gestoei tot iemand hom met ’n pistool teen sy kop geslaan het.”
Hy sê hy het baie bang geraak toe hy sien sy pa baklei nie meer terug nie.
Die kapers het toe sy pa, Aaron, vasgebind en maskeerband oor sy oë en neus geplak.
Toe hulle langs die pad stop, het hy gehoor sy pa mompel iets vir hom.
“Hy het gesê: ‘Ubaba uyaphila!’ ” (Pappa leef.)
Sy pa, wat langs hom by die kombuistafel sit, glimlag.
“My pa weet hoe om te veg, jy weet. Hy het die tsotsi’s laat les opsê. Hulle het self gesê hy veg soos ’n bul.”
Aaron glimlag: “Jy is die held, my seun.”
Aaron en sy seun se beproewing het by ’n kruising in Bronkhorstspruit begin toe hulle gestop het om twee vroue ’n saamrygeleentheid aan te bied. Maar hulle wou Tembisa toe gaan en hy was op pad Delmas toe.
Hy sê skielik het vier mans in die kar gespring en gesê hulle is in dieselfde rigting op pad.
Ná ’n kilometer het hulle hom beveel om van die pad af te trek, waarna die stoeiery uitgebreek het. Hulle het Aaron uit die motor gestoot en in die bosse met hom verdwyn.
Mongezi sê hy was bang om uit te klim omdat dit donker was en hy nie geweet het waar hy is nie.
Hy sê die skelms het toe sonder sy pa teruggekeer en hulle het die nag in die kar geslaap.
Vrydagoggend het hulle Mongezi by ’n vreemde huis afgelaai. Hulle was goed vir hom.
“Selfs toe ek gehuil het en nie wou eet nie, het hulle my gesmeek om iets te eet. Hulle het beloof hulle sal my terugneem huis toe, maar hulle het nooit.”
Ná sowat vier dae het hulle Mongezi Johannesburg toe geneem en in die middestad voor ’n kantoorgebou afgelaai. Mongezi het vir ’n vrou in die kantoor gesê tsotsi’s het hom by die hek gelos.
Die vrou het gedink hy is vermis en die polisie gebel wat hom na ’n kinderskuiling geneem het. Dit was daar, op die TV-nuus, dat Mongezi die aand sy ma, Lizzie, gesien het waar sy soebat vir inligting oor haar verlore seuntjie.
“Ek het geskree en vir die vrou wat na ons gekyk het, gesê dis my ma. Hulle het ook ’n foto van my gewys.”
Terwyl Mongezi die volgende oggend ontbyt geëet het, het sy ma hom kom haal.
Hulle is huis toe en die eerste ding wat hy gedoen het, is om slaapkamer toe te hardloop om te kyk of sy pa daar is.
Hy was nie – en Mongezi het bitterlik begin huil.
Maar ook dié deel van die storie het ’n gelukkige einde. Aaron, die pappa wat soos ’n bul kan veg, en sy “held van ’n seun” is later dieselfde middag herenig...