Alina Mahlaba (90) het gesê sy het Motsoeneng vandat hy drie jaar oud was grootgemaak nadat sy ma hom verwerp het.
Sy woon saam met sewe ander familielede in Thaba Bosiu in Qwaqwa in die Oos-Vrystaat.
Mahlaba het gesê sy is die enigste broodwinner in die huis.
Sy moet agt mense met haar karige pensioen voed.
“Dit is ’n daaglikse stryd om kos op die tafel te sit,” het sy gesê toe Rapport haar besoek het. Dit was duidelik daar is nie veel kos in die huis nie.
Volgens haar het Motsoeneng die huis 19 jaar gelede verlaat om werk te soek.
Hy het net gr. 11 voltooi.
“Ek kon nie langer sy skoolgeld bekostig nie, daarom kon hy nie matriek voltooi nie,” het Mahlaba gesê.
Sy onthou Hlaudi as ’n ambisieuse mens wat vasbeslote was om ten alle koste bo uit te kom.
Self kon sy egter nie aan die armoede ontsnap in dié hoekie van wat eens ’n klein apartheid-tuisland was nie.
Die Vrystaatse departement van kuns, kultuur, sport en ontspanning het die afgelope week besluit ’n stadion in Qwaqwa gaan voortaan die Hlaudi Motsoeneng-stadion heet.
Die DA het dit ’n “belediging vir die mense van Qwaqwa” genoem, want Motsoeneng het indertyd gelieg dat hy matriek het en ook ander wandade by die SAUK gepleeg.
Die DA meen hy moet geskors, eerder as vereer word.
Noem eerder die stadion na dr. K.P.D. Maphalla, ’n Sotho-skrywer, wat daar naby in Bluegumbosch grootgeword het, sê sommige kritici.
Intussen moet Mahlaba op haar oudag swoeg om die pot aan die kook te hou.
Laatmiddag gaan soek sy vuurmaakhout om die klompie mense warm te hou in die karig gemeubileerde drievertrekhuis.
Die mure is swart van die roet, en vuur word in ’n konka gemaak.
Mahlaba se oë is vol trots én hartseer wanneer sy oor haar grootmaakkind praat.
“Ek het hom op my rug rondgedra vandat hy drie jaar was,” vertel sy.
Deesdae kom Motsoeneng min hier.
Praatjies oor sy groot salaris laat Mahlaba se oë rek.
In haar deurgetrapte tekkies en ’n ou trui staan sy voor haar Hop-huis en sê Motsoeneng het wel ’n huis vir sy ouers gebou, al was dit sy wat hom grootgemaak het.
“Ek sê dankie vir God vir wat hy bereik het in die lewe en dat hy sy ouers geëer het, maar ek voel hy het van my vergeet.”
Mahlaba het erken hy gee haar van tyd tot tyd geld.
Sy kan egter nie met sekerheid sê wanneer sy haar nefie laas gesien het nie.
Sy skerm gou vir Motsoeneng: Hy kan nie verkwalik word dat hy nie ’n matrieksertifikaat het nie.
“Ek het Hlaudi onder moeilike omstandighede grootgemaak, maar die beste gedoen wat ek kon.”
* Voordat Rapport Mahlaba gegroet het, het sy dringend vir skenkings van kos en komberse gevra.
Alina Mahlaba (90) buite haar Hop-huis in Qwaqwa. | Foto: Mlungisi Louw