Ná dit alles skryf hy nou ’n boek oor die hoop wat sy geloof hom gee. “God sorg vir ons, al gaan alles om ons tot niet,” het Freeth die afgelope week in Harare gesê waar hy en sy gesin ’n sukkelbestaan voer.
Hy maak ’n karige inkomste uit twee boeke oor die gesin se lyding, waaronder Mugabe and the White African (2011), en word soms genooi om in die buiteland oor die Zimbabwe-tragedie te praat.
Ook sy vrou, Laura, bring ’n geldjie in deur vir koffiewinkels koek te bak. “Sy is geseën met ’n groeihand en help mense ook om hul tuine te herontwerp,” sê Freeth.
Zimbabwe se onafhanklikwording van Brittanje op 18 April 1980 is Vrydag in sekere kringe in Zimbabwe gevier.
Die ekonomie is steeds op sy knieë weens die ineenstorting van groot dele van die georganiseerde landbou en beleggers wat die hasepad gekies het.
Die opheffing van die meeste sanksies van die Europese Unie (EU) in Februarie het nog nie verligting vir gewone mense soos die Freeths gebring nie, maar hulle het hoop.
“Ek vind hoop in die wete dat God in beheer van ons lewe is, en dat dit deel van ’n groter prentjie is. Dit wat ons nou ervaar, is net tydelik,” sê Freeth.
Die gesin se plaashuis op Mount Carmel in die distrik Chegutu is op 31 Augustus 2009 deur grondbesetters afgebrand saam met die linnefabriek wat hulle daar bedryf het. “Ons het probeer om die fabriek elders op die been te bring, maar moes dit sluit. Zimbabwe se ekonomie is tot niet en oral sluit ondernemings hul deure.”
Freeth se skoonpa, Mike Campbell, het die plaas in 1974 gekoop en 25 jaar daaraan afbetaal. In 1998 was sy naam op die lys van 1 472 plase wat die Zimbabwiese regering vir grondonteiening in gedagte gehad het. In 1999 is sy naam van die lys verwyder en ’n sertifikaat is aan die Campbell-familie uitgereik dat die regering nie meer in die plaas belang stel nie.
Sedert 2000 is die familie byna daagliks met onteiening gedreig en nadat hul plaashuise afgebrand is, het grondbesetters hulle van hul plaas verjaag.
Freeth en Campbell, wat intussen dood is, was onder die 77 wit boere wat ’n waterskeidingsaak teen die Mugabe-bewind gewen het toe ’n tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in Windhoek in hul guns beslis het.
Ingevolge die Windhoek-uitspraak is die plaasbesettings onwettig en kan Zimbabwiese plase net onteien word as daar billike vergoeding is. Dié 77 boere is die reg gegee om na hul plase terug te keer en hul bedrywighede voort te sit. Dié bevel is egter nooit eerbiedig nie. In 2010 het staatshoofde van die SAOG die tribunaal ontbind.
In 2012 is Freeth en nog ’n boer, Luke Tembani, na die menseregtekommissie van die Afrika-Unie (AU) om dié tribunaal te laat herstel.
Verlede jaar het dié kommissie beslis hulle het nie die gesag om dit te doen nie.
Nou voer Freeth sy stryd voor die Verenigde Nasies se menseregtekommissie verder.
Dié kommissie het nog nie besluit nie.