Pa Bert en Ma Charné is wit, nes hul drie oudste kinders, maar die drie kleingoed is swart, nes hul oudste seun se vrou, Blessing. En dan is daar ook nog hul kleinkind van amper 11 maande, Nayo.
Wanneer die hele gesin saam winkels toe gaan of gaan uiteet, word hulle raakgesien. Die meeste mense reageer positief, maar daar is ook soms kritiek.
Swart mense het Bert en Charné al gekritiseer omdat hulle die kleintjies “verwesters”. En wit mense is weer simpatiek oor die “groot opoffering” wat hulle kwansuis maak.
Maar dis nie hoe die Pretoriusse dit sien nie.
“Hulle is vir ons ’n seën. Die liefde en lewe wat hulle in die huis inbring, maak alles die moeite werd.”
Vir Bert, pastoor by die 3C-kerk in Irene, is dit ’n saak van geloof. “Ons familie weerspieël ons geloof. Ons dóén dit.
“Ons léwe dit,” sê Bert.
Die egpaar, wat sedert die 1990’s in townships opheffingswerk doen, het reeds voordat hulle getroud is besluit hulle wil kinders aanneem omdat daar so ’n groot behoefte is.
“Ons wou op ’n persoonlike vlak ’n verskil maak,” sê Charné.
Daarom het hulle die drie meisietjies deel van hul gesin gemaak. Caitlyn (5), Jordan (4) en Madison (2) was weggooibabas.
Die gesin weet niks van hul biologiese ouers nie.
“Ons sien nie swart of wit nie. Ons het bloot gekyk waar daar nood is. Hulle was letterlik dadelik ons kinders.”
Hul kinders is nie grootgemaak om kleur raak te sien nie.
Pearson was 16 toe sy ouers Caitlyn (5) aangeneem het.
Hy sê dit was aanvanklik vreemd omdat mense na hom gestaar het as hulle hom saam met sy swart sussie sien.
Nou is Pearson en sy jongste sussie, Madison, onafskeidbaar.
“Hy is haar hero,” sê Charné.
Die middelste kinders is net so verknog aan mekaar.
Pearson het in sy ouers se voetspore gevolg. Hy is ook ’n leraar by die kerk, terwyl Blessing deeltyds daar preek.
Pearson, Blessing en die 11 maande oue Nayo woon nog in die huis.
“Ons is bevoorreg om dit te kan doen,” sê Charné (43), mede-stigter van die kerk en ook heeltydse pastoor.