Maar nou is haar seun (6) hier en sy eis vergoeding van meer as R6 miljoen van die Fetal Assessment Centre in Kaapstad.
Dié sentrum sê die wet behoort nie toe te laat dat iemand ’n ander kan dagvaar omdat hul aksies daartoe gelei het dat ’n kind wel lewe nie.
Die konstitusionele hof moet nou hieroor beslis.
Die hof het Donderdag argumente aangehoor en uitspraak is voorbehou.
Mense wat dink mev. H is ’n gevoellose monster moet eers hokaai, sê Romany Sutherland, haar prokureur.
“Niemand wil ’n gestremde kind in die wêreld inbring nie.
“Ons sê die saak gaan nie oor ’n onregmatige lewe nie. Daar kan nie so iets wees nie. Dit gaan oor onregmatige lyding.”
Sutherland beklemtoon dat dit vir hulle gaan oor wat hulle beskryf as die nalatigheid van die kliniek.
Toe mev. H op 35-jarige ouderdom swanger geraak het, was sy bekommerd oor die gevare en sy het daarom besluit om die sentrum te besoek.
“Die dokter het haar verseker sy gaan ’n gesonde kind hê. Toe die kind gebore is, was dit dadelik duidelik dat hy nie gesond is nie.”
Ander spesialiste wat ná die tyd die toetsuitslae bekyk het, kon dadelik sien die kind is gestremd, sê Sutherland. Haar kliënt is haar reg ontneem om ’n ingeligte besluit te neem oor ’n aborsie.
Die seun moes al verskeie opehart-operasies ondergaan en het deurlopende sorg nodig.
Noudat sy wel haar derde kind het, is sy versot op hom, sê Sutherland.
Hulle eis dus vir die geldelike skade wat sy nog lank gaan ly en nie vir die kind se bestaan nie.
Tans erken net ’n paar lande – Nederland, Israel, België en die VSA – eise op die gronde wat mev. H nou aanvoer.
Die hooggeregshof in Kaapstad het vroeër vanjaar teen mev. H beslis omdat die Suid-Afrikaanse regstelsel nie voorsiening maak vir iets soos ’n “verkeerdelike lewe” nie.
Downsindroom Suid-Afrika (DSSA) sê in ’n verklaring hulle sien nie die sindroom as ’n rede om ’n aborsie te kry nie.
“Mense met downsindroom dra aktief by tot gesinslewe en is nie passiewe ontvangers van sorg nie,” lui die verklaring.
“Getuienis van honderde ouers, gesinslede en families wys dat ’n gesinslid met downsindroom ’n positiewe impak op almal kan hê. Dit word ook ondersteun deur verskeie bevindinge wat deur onafhanklike navorsing bewys is.”
Vir Tineke Boshoff (47) van Kaapstad is dit ’n ingewikkelde situasie.
“Ek voel dit is almal se persoonlike keuse.”
Hierdie ma het twee volwasse kinders van 20 en 35 jaar oud wat downsindroom het. Sy werk ook gereeld met ander mense wat met downsindroom gebore is.
“Ek sal dit (ouerskap van kinders met downsindroom) vir niks op aarde verruil nie, maar as ek vooraf geweet het, sou ek nie noodwendig aangegaan het met die swangerskap nie,” sê sy.
Sy sê ook dit is onwaar om te sê dit is aaklig vir sulke kinders om te leef.
“Dit is vir hulle hemel op aarde om te leef. Dis vir hulle die grootste vreugde. Hulle het ’n ongelooflike geesdrif vir die lewe.”
Boshoff sê sy sal altyd by haar kinders se lewe betrokke moet wees.
“Vir die res van hul lewe het ek ’n verantwoordelikheid teenoor hulle. Ek moet hulle rondry, ek moet vir hulle sorg.”
Baie mense met downsindroom word ook met hartafwykings of verswakte oë gebore. “Dwarsdeur hul lewe is daar mediese toetse. Dit is so. Daar is wel groter uitgawes.”
Sy sê die grootste vrees van die meeste ouers van kinders met downsindroom is oor wat van hul kinders sal word wanneer hulle nie meer daar is nie.
Geld uit so ’n hofsaak sou moontlik vir ’n trustfonds vir dié kind gelos kan word, meen sy.
“Daar’s baie erger dinge wat met ’n mens kan gebeur. Dit maak die lewe baie ryker.”