Share

Mediese opleiding steier onder chaos

Die mediese fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat (UV) is op die rand van ineenstorting en een van sy departemente – kardio­logie – kan tegnies nie meer dokters oplei nie omdat daar te min dosente oor is.

Dosente en personeel pak die skuld op die “chaotiese” en “bisarre” manier waarop die provinsie se twee opleidingshospitale in Bloemfontein, Pelonomi en Universitas, bestuur word.

Hulle sê toestande is so onuithoudbaar en daar is so ’n akute tekort aan die mees basiese mediese toerusting – soos wondgaring, druplyne en chirurgiese maskers en handskoene – dat dit nie meer geskik is vir die opleiding van studente nie.

Voorts vier rassespanning en -konflik hoogty en werkomstandighede is so ondraaglik dat senior dokters en spesialiste hul tasse een ná die ander pak.

Een van die departemente wat die ergste hieronder ly, is kardiologie. Die waarnemende departementshoof, prof. Hennie Theron, is onlangs geskors nadat hy na bewering op ’n veiligheidswag wat sy motor wou deursoek, gevloek het. Hy ontken dit.

Uit protes teen Theron se skorsing het dr. Gideon Visagie, wat gevra is om in Theron se plek waar te neem, besluit om sy voorgenome bedanking te vervroeg.

In ’n brief aan prof. Gert van Zyl, dekaan, en prof. Jonathan Jansen, rektor, bestempel ­Visagie Theron se skorsing as oordrewe.

Hy sê Theron se skorsing beteken pasiëntesorg in die kardiologie-afdeling het tot onaanvaarbaar lae vlakke gedaal en dat dit ernstige gevolge inhou vir die departement se vermoë om dokters en spesialiste op te lei.

Hy skryf toe hy dié probleme aan dr. Sehularo Gaele­jwe, uitvoerende hoof van Universitas, uitgewys het, het hy geantwoord “hulle moet maar net klaarkom”, al kan so ’n besluit pasiënte se lewens kos.

“Na my mening toon hy ’n gebrek aan insig in die funksionering van die departement van kardiologie, asook in dié van die hospitaal en die fakulteit van gesondheidswetenskap.”

Theron se skorsing, tesame met Visagie se bedanking, beteken die departement van kar­diologie het die afgelope 18 maande vyf personeellede verloor. Die ineenstorting van die kardiologie-departement plaas weens hul interafhanklikheid ook druk op ander departemente en afdelings, soos kardiotoraks-chirurgie en interne geneeskunde.

Die departement van interne geneeskunde is onder ewe groot druk nadat dr. Kobus Smit, ’n ortopediese chirurg, geskors is omdat hy nie betyds by die bestuur van die Pelonomi-hospitaal toestemming gevra het vir die gebruik van narkotiseurs wat nie aan die hospitaal verbonde is nie.

Sy skorsing beteken dat die staat geen pediatriese ortopeed in diens het in die Vrystaat, Noord- of Oos-Kaap nie.

Nog ’n dosent by interne geneeskunde, prof. Vernon Louw, is skriftelik gewaarsku omdat hy glo spoedlyste en roosters van die Universitas-hospitaal in Afrikaans opgestel het, terwyl die amptelike gebruikstaal Engels is.

Die gebeure het prof. André Claassen, waarnemende hoof van die skool van medisyne in die fakulteit van gesondheids­wetenskappe, vroeër die maand genoop om ’n brief aan dosente te skryf om hulle tot kalmte te maan.

Hy sê personeellede is platgeslaan deur die manier waarop senior kollegas verneder word “elke keer as ’n geleentheid hom voordoen”.

Hy sê die uitvoerende hoof se optrede is “totaal onaanvaarbaar en sal nie langer geduld word nie”. Hy moedig personeellede aan om hul regte deur regs­kanale en deur professionele verenigings te verdedig, maar maan hulle om terselfdertyd kalm te bly en geen “roekelose besluite” te neem nie.

Professore en mediese personeellede sê die manier waarop hulle behandel word, is maar net deel van die probleem. ’n Akute tekort aan lewensnoodsaaklike toerusting is ’n ander.

In Universitas is daar net een werkende gastroskoop (waarmee ondersoeke van die maag gedoen word) en die enigste kolonoskoop (waarmee die derms ondersoek word) is stukkend.

In Pelonomi beskryf dosente toestande as “supersleg” en “superontstellend”.

Nadat die stoomketels by die hospitaal gebreek het, kan geen mediese toerusting meer by Pelonomi gesteriliseer word nie en moet dit daagliks na die Universitas-hospitaal, aan die ander kant van die stad, geneem word om gesteriliseer te word.

Rapport het verskeie navrae aan Gaelejwe gestuur en ook talle navrae aan Elke de Witt, sy woordvoerder, gerig, maar geen antwoord is ontvang nie.

Jansen se kantoor het in reaksie gesê senior leiers van die universiteit is in “voortdurende gesprek en onderhandelinge” met die uitvoerende hoofde van die hospitale, die direkteur-generaal van gesondheid en die LUR vir gesondheid.

“Ons is optimisties dat alle bestaande probleme opgelos sal word,” het hy gesê.

Van Zyl het in ’n brief aan genootskapstudente gesê daar word met private kardioloë onderhandel om ondersteuning aan die departement te gee.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
42% - 380 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
58% - 523 votes
Vote
Rand - Dollar
18.93
-0.2%
Rand - Pound
23.90
-0.0%
Rand - Euro
20.43
+0.2%
Rand - Aus dollar
12.34
+0.1%
Rand - Yen
0.13
-0.1%
Platinum
907.85
+1.2%
Palladium
1,012.25
+1.1%
Gold
2,218.87
+1.1%
Silver
24.85
+0.8%
Brent Crude
86.09
-0.2%
Top 40
68,346
+1.0%
All Share
74,536
+0.8%
Resource 10
57,251
+2.8%
Industrial 25
103,936
+0.6%
Financial 15
16,502
-0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE