Maar niemand weet wat word van die geld nie en al die groot partye sê die stelsel werk nie.
Daarom kom so min gewone mense ooit in aanraking met ’n parlementslid: Net 1% van nagenoeg 3 000 respondente in ’n Rapport-meningspeiling het gesê hulle weet wie hul LP is, en in ’n studie deur Afrobarometer vier jaar gelede het net 3% van Suid-Afrikaanse respondente hul plaaslike LP se naam geken.
Sowat R242 miljoen se kiesafdelingsgeld word in hierdie boekjaar aan politieke partye oorbetaal en volgende jaar amper R260 miljoen.
Syfers in Rapport se besit wys dié besteding het van 2009 tot 2013 meer as R1 miljard beloop.
Politieke partye is veronderstel om elke Maart die adresse en telefoonnommers van al dié kiesafdelingkantore aan die sekretaris van die parlement te gee.
Maar een van die parlement se eie amptenare, wat onlangs navraag gedoen het oor die lys kantore, kon nie eens by die sekretaris se kantoor geholpe raak nie.
Die parlement se kommunikasie-afdeling het ook nie die afgelope week gereageer op ’n navraag vir die lys nie.
Meer as drie maande ná die verkiesing blyk dit nuwe parlementslede het nog nie kiesafdelingskantore oopgemaak nie.
Die ANC was verlede week nog besig om kiesafdelings toe te wys, en sommige LP’s het hul eerste week van kiesafdelingswerk by tussenverkiesings deurgebring.
Ingevolge die huidige beleid word die ligging van kiesafdelingskantore geheel en al aan die politieke partye oorgelaat.
Daar is geen verpligting op politieke partye om seker te maak elke deel van die land het toegang tot ’n kantoor waar mense raad kan vra oor wetgewing of probleme nie.
Vince Smith, die ANC-LP verantwoordelik vir dié party se kiesafdelingsgeld, sê dis heeltemal moontlik dat twee LP’s van verskillende partye in dieselfde gebied aktief kan wees, en dat niks twee politieke partye keer om kiesafdelingskantore reg langs mekaar te hê nie.
Die Parliamentary Monitoring Group (PMG) sukkel al meer as ’n maand lank om inligting oor die nuwe kiesafdelings uit politieke partye te kry.
“Dit is uiters moeilik om dié inligting te kry, wat onsinnig is, want dit behoort openlik beskikbaar te wees aan kiesers,” sê Gaile Fullard, die organisasie se uitvoerende direkteur.
Fullard sê dis belangrik dat gewone mense oor kiesafdelingswerk terugvoering gee, want minstens ’n kwart van ’n LP se werkjaar word hieraan toegewy.
Gregory Solik van die drukgroep My Vote Counts sê daar is teenstrydighede in die wetgewing oor die gebruik van dié geld. Sy organisasie wag ’n regsmening in.
“Alles oor dié geld is vaag. Die bewoording van die beleid is vaag, die rapportering is vaag, asook die polisiëring daarvan.”
Smith sê die ANC-LP’s se geld vir kiesafdelingswerk word stuksgewys aan hulle oorbetaal, en hulle kry slegs die volgende deel nadat hulle rekenskap van die vorige uitgawes gegee het.
Pieter Groenewald, VF+-LP, sê die party ontvang sowat R30 000 per LP vir kiesafdelingswerk. Of LP’s hul werk doen of nie hang van dissipline in politieke partye af.
Dié party het volgens hom wel inligting oor kieserskantore by die parlement ingedien.
“As daar nou nog gesoek word na so ’n lys, beteken dit die parlement se amptenare doen nie hul werk nie.”
Lees op Netwerk24.com: “Oortree die DA die parlement se reëls?”