Share

'My pa sou bekommerd gewees het'

As sy pa Walter vandag geleef het, sou hy bekommerd gewees het, soos voor sy dood, dat daar beloftes aan die mense gemaak is, sê Max Sisulu, gewese speaker in die Nasionale Vergadering. “Ons moet die beloftes aan mense nakom.”

Max was onlangs in die nuus nadat hy sy speakerpos in die Nasionale vergadering moes afstaan aan die ANC-voorsitter Baleka Mbete. Hy is ook oorgesien vir ’n pos in pres. Jacob Zuma se kabinet.

Hier sit hy nou, tuis in in swart pak en wit hemp, met arms uitgestrek op die leunings van die roomkleurige rusbank. Koning op sy troon, oudstryder, gewese banneling.

Het hy verwag om so gou hier te wees by die huis, sonder werk?

“Kom ek stel dit so.” Hy maak keel skoon. “My hele lewe lank het ek deure oopgemaak en deure agter my gesluit. Ek was in die parlement onder Mandela in 1994, ’n gewone lid, toe voorsitter van die Hop-portefeuljekomitee, toe die voorsitter van die van ANC in die parlement. Toe verlaat ek die parlement vir die privaatsektor.

"Ek is na Denel, Sasol en toe is ek in 2009 terug as Speaker van die vierde parlement. En nou is ek uit die parlement.”

Die Sisulus woon in Lynnwood, Pretoria, in ’n groot huis op ’n boomryke erf in ’n stil cul de sac.

Ons sit in die sitkamer met sy los matte op die bruin blokkiesvloer. Teen die mure hang Afrika-kunswerke. Daars ’n gasverwarmer wat hitte verskaf.

“Ons bly al jare hier, sedert ek by Denel gewerk het. Dis ’n stil area met min misdaad." vertel hy.

(Maar met die aankoms voor die huis het die huishulp nader gekom en gewaarsku: Bring eerder die kar in, dit kan gesteel word. ’n Ent verder het ’n voertuig van sekerheidsmaatskappy gestaan.)

Het sy instelling van ’n ad hoc-komitee wat die Openbare Beskermer (OB) se verslag oor Nkandla begin bespreek het mense hoër-op krapperig gemaak? Is hy tot “orde, orde!” geroep?

“Die kwessie was nie om die komitee te begin of nie. Dit het nie berus op indviduele giere nie. Dis die reëls van die parlement.

“My taak was om debat te fasiliteer. Oor enige kwessie. Sommige is na komitees verwys. Die Nkandla-verslag het dié roete gevolg."

Die ANC het sedert die onderhoud met Sisulu gesê daar word gewag op die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se verslag voordat die kwessie weer in die parlement ter tafel gaan wees.

James Selfe, bestuurslid en senior LP van die DA sê Sisulu was ’n speaker met ’n “sagte benadering”: hy het sy taak soms met humorsin verrig, maar was ook ferm.

Sou hy graag weer speaker wou wees?

“Dit is nie ter sprake nie, want daar is ’n nuwe een. Ek het in 2009 by haar (Mbete) oorgeneem en nou neem sy weer by my oor. Dis maar hoe goed gebeur."

Hierna kon hy nog aanbly as LP. Maar Sisulu het anders besluit. “Ek het gedink dis tyd om uit te beweeg. Ek het my bydrae gemaak en ek is gelukkig daarmee...” en ook finansieel gesproke kon hy dit nie aanvaar om aan te bly as ’n gewone lid nie, sê hy met ’n laggie terwyl hy so met die een hand waai.

Hy glo die vierde parlement het ’n belangrike bydrae gemaak.

En sonder om te wag, noem hy ’n “paar suksesse”.

“’n Eenheid is ingestel wat die gehalte van die wetgewing moes bekyk dat dit nie in ’n hof betwis kan word nie, die opleidingsprogramme vir LPs en 225 van hulle het verlede jaar sertifikate van Wits ontvang,” sê hy.

Voorts is kleiner partye se spreekbeurte aangepas. “In die verlede het hulle net een minuut gekry. Dis was belaglik, want dit vat ’n spreker een minuut om tot by die podium te kom. Dit is tot vyf minute verleng omdat ons glo hulle is daar om demokrasie te verteenwoordig en jy kan nie demokrasie een minuut gee om te praat nie.”

Dieselfde demokrasie waarvoor sy pa vanaf 1964 op Robbeneiland was, saam met Nelson Mandela.

Hyself is ook destyds aangehou onder die 90 dae aanhouding-sonder-verhoor reëls totdat hy vrygelaat is.

“Ek was een van die jongstes in dieselfde tyd as my ma en pa in die tronk.”

Toe die jong student vrygelaat is, het hy die land vir Zambië verlaat en het sy ouers vir 20 jaar nie gesien nie.

Totdat Walter in 1990 ná 26 jaar vrygelaat is en die leiers Zambië besoek het.

“Ons was vir baie jare in Zambië en kon hom toe aan sy kleinkinders voorstel. Toe ons terugkeer, het ons by my ouers gebly en probeer inhaal.”

In ’n sagter stem: “My ma en pa was uitermate wonderlike mense. Hulle was goedhartig, mededeelsaam met ’n ruimheid van gees. Mense wat hul lewens daaraan gewy het om die lewens van almal te verbeter.

“My ouers was in Soweto bekend vir hul vrygewigheid. Ons huis was nie net ’n huis vir die familie nie. Dit was vir almal.

“Hulle het geglo in vryheid en het die moed gehad om te veg vir vryheid, dat ’n mens moet veg vir waarin jy glo.”

Dié oudste kind van Walter is op ’n dag byna self deur ’n briefbom in Lusaka gedood.

“Dit was tyd toe die apartheidsregime desperaat geword en briefbomme na die opponente van apartheid gestuur is. In dié geval is die doodspakkie gestuur na die ANC-kantoor in Lusaka en die adjunk ANC- verteenwoordiger, John Dube, het dit oor etenstyd oopgemaak toe dit ontplof het.

“Hy is dood en twee van ons in die kantoor is beseer. Ons lewens is gered deur die feit dat die kantoor van 'masonite' was en nie ’n steengebou nie. Die gebou is oopgeskiet.” Sy oordrom is beskadig en vandag nog is sy gehoor aangetas.

Sisulu het sy militêre opleiding gehad in verskillende dele van die wêreld, insluitende Rusland.

Hy het ook ekonomie in Rusland gestudeer – en aan Harvard – en ’n opleidingsprogram in Holland en Brittanje voltooi.

Die Sisulu-familie wil steeds help dat Suid-Afrika wérk. Daar was immers drie geslagte Sisulus betrokke by die vryheidstryd. Walter en Albertina, hul kinders (Max, kabinetslid-suster Lindiwe, wyle Zwelaki en Mlungisi) en Walter se seun, Lungi. Almal was in ’n stadium in die tronk.

Zwelaki, op ’n tyd voorsitter van die SAUK-raad, is verlede jaar oorlede terwyl Lungi enkele jare gelede dood is aan malaria. Lungi was waarnemende ambassadeur in Soedan toe sy siekte te laat ontdek is en hy is in ’n hospitaal in Londen dood.

Is die ANC vandag nog die party van sy ouers en Mandela?

“Die ANC is ’n groot organisasie. Dit het ontwikkel. Tye en struggles is verskillend. Vandag se stryd nie meer oor politieke vryheid nie. Dit gaan nou oor die ekonomie en ekonomiese vryheid, oor dienslewering en die najaag van die beloftes van die vryheidmanifes. Dit is moeiliker as die eerste stryd.

“Die party moet aanpas by veranderde tye en dienslewering vinniger laat geskied. Ons moet ons beloftes nakom.”

Oor die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) van Julius Malema en hul stryd om in rooi oorpakke in die parlement en wetgewers te sit, sê hy dit moet bespreek word.

“Die punt is, reëls kan nie eensydig verander word nie. Daar is ’n reëlskomitee en die EFF se kleredrag kan gedebatteer word.

“Frene Ginwala (eerste speaker van die nuwe demokratiese parlement) het ook die dragkode van die parlement bekyk, dit sal nie die eerste keer wees nie.”

Sy pa was die seun van ’n wit staatsamptenaar. Het hy hul wit oupa geken?

“Ons ouers het ons daarvan vertel. Dis ook in my vrou, Elinor, se boek oor die Sisulus. Baie Suid-Afrikaners se agtergrond is soortgelyk. Dis nie ’n las op ons nie, dis deel van die werklikheid.”

Oor Afrikaners wat dikwels stem dik maak oor hul posisie in die land sê hy die Vryheidsmanifes verklaar Suid-Afrika behoort aan wit en swart.

“Dis belangrik dat wit Suid-Afrikaners die land sien as hul tuiste en bydra tot groei, maar duidelik nie op grond van die basis van ou apartheidsorde nie. Dis ’n nuwe demokratiese orde.

“In die struggle was daar ook Afrikaners en wittes in die tronk vir vryheid. Die ANC erken almal se bydrae.”

En die skeptisisme oor die toekoms?

“Dit is absoluut onsin dat land sal onder gaan. Ons het teen apartheid geveg en mense het gesê ons sal misluk. Ons was suksesvol.

“Toe ons die nuwe grondwet ingestel het, is gesê dit sal nie werk nie. Dit werk.

“Ja, daar sal diegene wees wat van die kantlyn ontmoedig en skree. Ons het ekonomiese probleme, maar ons is nie die enigste land met probleme nie, dis ’n wêreldwye verskynsel.

“Kyk na Europa. Daar is ook ekonomiese probleme met stakings ensomeer, maar praat mense van ondergang? Nee.”

Sy onmiddellike planne?

Hy het ’n draai gemaak by die Grahamstadse kunstefees. Volgende op sy en Elinor se agenda is ’n besoek aan die Rotterdam Jazz fees.

Daarna wil hulle nog ’n paar lande besoek.

“Ek wil nou saam met my familie wees en die beste daarvan maak. Ek wil ook tyd met my kleinkinders bestee.” Van hulle is daar drie wat onder ses maande is.

“Maar ek hou my opsies oop en sal waarskynlik na die privaatsektor gaan.”

Dus is hy klaar met politiek?

“Nee, dit kan ek nie sê nie, want politiek was ons lewe. Ek sal voortgaan om ’n rol te speel. Maar ek het jong kinders op universiteit en moet ’n salaris verdien. Ek sal moet werk.”

Sislulu stap saam deur die tuin na die hek.

“Dis die tuin wat ons van die huis laat hou het. En die hoë bome. Ek maak soms self my vingers hier vuil,” sê hy.

Met wegry staan hy daar, regop onder die skadubome in sy geplaveide laan.

Maximum, bloubloed Suid-Afrikaner van die Sisulu-faam.


Max Sisulu, voormalige Speaker in die Parlement, is sy huis in Lynnwoord, Pretoria. | Foto: Lisa Hnatowicz


Max Sisulu met twee van sy kleinkinders Links is Wally (kort naam vir Walter, sy oupagrootjie) en Nokwinda (’n Sisulu stamnaam). Foto verskaf

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 951 votes
No! It's time to move on ...
33% - 465 votes
Vote
Rand - Dollar
18.80
+1.1%
Rand - Pound
23.49
+1.3%
Rand - Euro
20.10
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.8%
Platinum
923.40
-0.2%
Palladium
957.50
-3.3%
Gold
2,336.75
+0.2%
Silver
27.20
-0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE